top of page
Search

E-Kerk - Gedagte vir Vandag

  • Koos Espach
  • Jul 29, 2016
  • 3 min read

Gevaarpunt 4 : Diskriminasie (2)


Jak 2:5-7 – “Luister my liewe broers (en susters)! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie? Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie?”


Vergelyk ook Spr 22:2 – “Voor die Here is ryk en arm gelyk; Hy het hulle almal gemaak.”


Die rykes het gewoonlik die vernaamste posisies in die samelewing beklee en het ook die regbanke beman. Die armes was daarom gewoonlik oor skuld “deur die rykes (en hul vriende) voor die hof gesleep”. Maar dat hulle anders teenoor die arm man optree – dit is ’n groot en fatale onreg: hulle het hom “met minagting” behandel en sy eer aangetas, terwyl hy as medegelowige hulle hoogste agting verdien het! Om lynreg teenoor die optrede van God op te tree, en om met totaal ander maatstawwe te oordeel as Hy – is ’n uiters riskante bedryf, wat ’n mens aan die verkeerde kant van die gereg kan laat beland in die eindoordeel.


Jakobus maak nie die geloofsdeur vir die rykes toe nie. Inteendeel, hy verduidelik juis dat God heeltemal anders oordeel oor die armes “wat Hom liefhet’ – Hy vereer hulle juis deur hulle sy “koninkryk” waardig ag. Jakobus vertel verder dat naasteliefde in gedrang kom. Die rykes slaan die bal mis, want dié bewys hulleself as totaal ónwaardig deur hulle siniese optrede teenoor God en sy gelowiges!


Wat het die rykes buite rekening gelaat toe hulle die arm man slegs op sy opvallende armoede getakseer het? Niks minder nie as die gans anderse benadering van God! Hy wend Hom spesiaal tot diegene wat volgens wêreldse maatstawwe en ten opsigte van wêreldse dinge as armes beskou word en kies juis húlle uit om ten opsigte van die geloofskriterium rykes te wees. Die armes het meer toeganklikheid gesoek in die woord van die Here want hulle het gevoel dit is die een plek en geleentheid waar hulle nie deur mense vertrap word nie – ‘n plek waar hulle in “diepe afhanklikheid van God, geseënd is” (Matt 5:3). God beloof die rykdom van Sy koninkryk aan diegene wat hul afhanklikheid van Hom erken! Ja, Hy verkies hulle tot die nuwe mensheid wat die erfgename is van die herstelde Godstaat om die beloofde “koninkryk” as erfbesit te verkry.


Watter dwaasheid dan om voorkeur te gee aan die guns van dié klas van ryk mense – watter status hulle ook mag hê – wat hulle hooghartig distansieer van die Naam van die Here Jesus Christus en van die verering van Hom? Ons ingebore versugting na mag, rykdom en besittings is nie die sondaar nie, die materialistiese hantering daarvan veroorsaak dat wêreldse waardes die verhouding met God vervang. “Kies Gód nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof nie?” Hoe minder aardse goed daar is om aan vas te hou, hoe stewiger raak ons greep op God. MaterieëIe oorwegings mag nie ons verhouding met God vervang nie!


“Hy wat nie geld het nie, is arm. Hy wat nét geld het, is nog armer.” (Onbekend)


Gebed: Here Jesus, daar op die berghang langs die See van Galilea het U ons geleer dat ons harte daar sal wees waar ons skatte is. (Matt 6:21). Dankie Here dat ons weet ons skat is waar ons geloof is – by U, in U en tot U, ons Alfa en Omega. Amen.


 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

Opmerkingen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page