top of page
Search

E-Kerk - Gedagte vir Vandag

  • Koos Espach
  • Jul 14, 2016
  • 3 min read

AMEN! (3)


Matt 7:28-29 – “Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor Sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.”


Vergelyk ook Heb 1:1-2 – “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.”


Jesus het die skare met outoriteit toegespreek. Die skare was stomgeslaan. Sy eerste uitspraak van outoriteit was vroeg in Sy preek toe Hy gesê het: “Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê” (Matt 5:11). Indien Jesus ‘n gewone leermeester, skrifgeleerde of profeet was soos Jesaja byvoorbeeld, sou ons verwag het dat Hy sou gesê het: “Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van God beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê.” Maar Hy verwys egter na Homself. Indien die Man van Nasaret net ‘n mens was en niks meer nie, sou hierdie verklaring godslasterlik en buitengewoon selfsugtig wees. Jesus was tydens Sy aardse verblyf egter nie net volwaardig mens nie, Hy het steeds God gebly. As die Seun van God en as Messias, besit Hy die gesag om ons toewyding en diens, vir Homself toe te eien.


Later in Sy preek maak Hy nog ‘n feit van outoriteit bekend: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet en profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om dit ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry” (Matt 5:17). Jesus het GEKOM, nie as iemand wat gou-gou vir ‘n besoek by Galilea kom aandoen het nie. Hy het God in die hemel se boesem verlaat, stoksielalleen aarde toe gekom, sonder enige engele wat Hom vergesel het om Hom te beskerm, sonder enige hooggeplaastes wat Hom ontvang het. Daar was slegs ‘n paar beteuterde skaapwagters by die feestelike koms van die Seun van God. Die Prins van die hemel het die Kind van die krip kom word. Hy is die vervulling van al die beloftes in die Ou Testament – “Hy het gesê: ‘Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom” (Mark 1:15). Alle nasies sal voor Hom buig en Hom dien (Ps 86:9). Hy kón dus met gesag sê dat Hy gekom het om die wet te vervul.


Jesus kon met gesag aan die skare verkondig dat hul geestelike leiers dit verkeerd het met die wet. Hulle het hul eie interpretasies gebruik deur die wet só te verdraai, sodat hul eie behoeftes bevredig kon word. Daarom kon Hy met gesag aankondig: “Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie” (Matt 5:20). Hy het voor die skare gestaan en nie namens God gepraat nie, maar as God self.


Gebed: Jesus, U woorde is dinamiet! Ons besef daagliks dat dit baie moeiliker is om God se wet te onderhou as wat ons gedink het. Dankie dat U aarde toe gekom het om ons die waarheid te kom leer. Al wat ons nou kan doen is om te bely: “Here, wees my sondaar genadig. Ek is gestroop voor U aangesig. Dankie dat U ons nader trek na U Lig toe en dankie vir die passie wat U ons skenk om te honger en dors na U geregtigheid”. Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
Gedagte vir Vandag

Vrydag, 25 Maart 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (2)   Die wet ontmasker die sonde Rom. 7:9-12 – “Voorheen, toe die wet nie daar...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Donderdag, 24 April 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (1) God voorsien in ons behoeftes Rom. 7:7-8 – “Wat is dan ons gevolgtrekking?...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Woensdag, 23 April 2025 Koos Espach Bevry van die wet en in diens van God, diensbaar aan Christus (3) Diens vir my en jou is nie...

 
 
 

Comentarios


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page