top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


GEBED


Matt 6:13a – “....en laat ons nie in versoeking kom nie......”


Vergelyk ook Jak 1:14-15 – “Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.”


Jesus het tydens Sy Bergpreek nie maar net ‘n klompie woorde opgemaak om aan Sy dissipels, skare en ons, oor te dra nie. Hy wil beklemtoon hoe ‘n Christen moet lyk en leef in God se koninkryk, nie ééndag se koninkryk nie, maar nou, hier waar ons elke dag in hierdie deurmekaar wêreld lewe. Daarom word die vyfde en sesde bedes aanmekaar gebind met “en.” In die vyfde bede wys Jesus die gelowige terug op die pad wat hy gekom het en moet “smeek om vergifnis”, terwyl hierdie sesde bede die pad vorentoe wys waar ons moet bid vir bewaring teen die magtige aanvalle van die bose.


“....en laat ons nie in versoeking kom nie.” Beteken dit dat God ons in die versoeking laat kom, sodat dit nodig is vir Jesus om ons te moet leer om God te vra dat Hy dit nie moet doen nie? Is dit nie teen God se karakter nie? Doen Hy dit? NEE! “Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: ‘Ek word deur God versoek’ nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie” (Jak 1:13). God is nie die bewerker van enige kwaad of sonde nie. God is soewerein en heilig!


Sedert die begin van tyd is mens geneig om die skuld van sonde voor iemand anders se deur te lê (Adam, Eva en die slang). Die Rabbi’s het die gevolgtrekking voorgehou dat God alles, die mens, omstandighede, slang en daarom ook die sondige natuur in ons, geskep het. Daarom kán God geblameer word wanneer ons sondig. Menigte is vandag steeds skuldig daaraan en blameer God steeds wanneer dinge in hul lewe verkeerd gaan. Wanneer ‘n versoeking op die toneel verskyn vergryp die mens hom daaraan en wil dan vir God verkwalik want God het hom nie gekeer nie. Hy bid mos “laat ons nie in versoeking kom nie” en God het nou nie geluister nie! Intussen is dit nie God se skuld nie maar satan wat ‘n bondgenoot bygekry het. Die mens moet verantwoordelikheid vat vir sy eie versoekings.


Wat is versoekings? Thielicke vertolk dit dat enigiets vir ons tot versoeking kan word. Brandende hartstogte sowel as die mooiste dinge in die lewe. Letterlik enigiets kan tussen ons en ons Vader kom stelling inneem en ons verhouding met Hom belemmer en ons van Hom laat losruk. Niemand moet dus aan God die skuld gee as hy in versoeking val nie. Ons sal alleen in die versoeking val as ons nie waak en bid teen satan, die beste versoeker, wie in al sy sluheid, selfs probeer het om vir Jesus om die bos te lei (Matt 4:1-11).


Gebed: Ons Vader in die hemel, ons word so maklik om die bos gelei. Ons is nie in staat om vir een oomblik staande te bly in hierdie dae van onheil nie. Hou ons tog weg van strikke waarin ons kan trap. Laat ons nie in situasies beland waar ons getoets word aan ons lojaliteit teenoor U Naam, U wil en U koninkryk nie. Verlos ons van die verloklikhede van hierdie wêreld. “Here, laat ons waak en bid sodat ons nie in versoeking kom nie, want ons gees is gewillig maar die vlees is swak” (Matt 26:41). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page