top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


EGSKEIDING


Matt 5:31-32 – “Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar ‘n skeibrief gee.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”

Vergelyk ook Ps 94:16-19 – “Wie staan by my teen dié wat my leed aandoen? ..... Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het U vertroosting my tot rus gebring.”


Tydens die Ou Testamentiese tyd was dit manlike baasskap en die vrou is as minderwaardig beskou. Daarom was die vrou weerloos teen egskeiding. Getrou aan die mens se sondige natuur het die Jode van daardie tyd die wet oor die skeibrief as ‘n geleentheid gesien om egskeiding maklik te maak. Jesus verset Hom egter hierteen.


Die kultuur tydens Jesus se aardse tyd, was dit feitlik onmoontlik vir ‘n vrou om alleen te oorleef, veral na ‘n egskeiding, en dan het sy haar tot prostitusie gewend. Die onheilige gevolge van die “maklike” egskeiding het veroorsaak dat die geskeide vrou “maak dat sy egbreuk pleeg.” Jesus beklemtoon dat die vrou dan in sonde verval as gevolg van haar weerloosheid.


Dit is nie waar dit eindig nie – “iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.” Al trou hulle nie en woon net saam, is dit steeds ‘n sondige owerspelige verhouding. Die onverskillige leer van egskeiding en hertrou van die skrifgeleerdes en Fariseërs het veroorsaak dat ‘n gemeenskap van menigte owerspelige verhoudings, aan die orde van die dag was. Dit is ongelukkig vandag nog so.


Huwelike waar mense nie by mekaar aanpas nie of waar die liefde “gesterf” het, het nog nie misluk nie. Die mens het misluk. Die liefde van 1 Kor 13 is nie meer van toepassing by hulle nie en dan word God verkwalik omdat Hy kwansuis die breuk bewerkstellig het – “Here, hoekom het U nie tussenbeide getree toe U gesien het dat ons huwelik aan’t verbrokkel is nie?”


Dit is nie God se skuld nie. God huil saam met duisende geskeides wat die pyn van egskeiding moet verwerk. Niemand gaan deur die trauma van ‘n egskeiding sonder dat daar diep letsels gelaat is nie. “God haat egskeiding. God sê egskeiding is niks anders as geweld nie” (Mal 2:16). Richard Foster het die volgende bygevoeg: “It is true that in the absolute will of God his creative intent is for marriage to be a permanent ‘one flesh’ reality that should never be severed.


Die ou mense het altyd gesê: “In die huwelik is daar na omtrent ‘n maand, redes vir egskeiding. Die geheim is om te soek en aan te hou soek na redes om getroud te bly.” Dit is belangrik om nie net die regte maat te kies om mee te trou nie, maar om die regte maat ook te wees.


“Voor my huwelik kies ek wie ek wil liefhê. Ná my troue het ek die een lief wat ek gekies het“ (Martin Luther).


Gebed: Liewe Heer, daar is só baie wat as gevolg van egskeiding rondgeslinger word deur stormwinde van emosies. Woede, eensaamheid, hartseer, vrees, depressie en U weet wat nog alles, is aan die orde van die dag. Gevoelens van intense verwerping en die onsekerheid wat die breuk veroorsaak het, skeur mense, U liggaam, uitmekaar. Weerloosheid veroorsaak sonde en ons as medegelowiges se pogings om te help, is meestal nutteloos. Here, dit is net U wat ‘n egpaar wat wil skei kan rustig maak en te laat besin. Omvou hulle met U helende teenwoordigheid. Vul dié wat nogtans skei en wat reeds geskei is, met U allesomvattende en allesdeurdringende liefde wat altyd trou bly.

Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page