top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Apr 17
  • 4 min read

Donderdag, 17 April 2025

Koos Espach


As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025.


Die instelling van die nagmaal

 

Aandete met Jesus se liggaam en sy bloed

 

Luk. 22:14, 19-20 – “14 Toe dit tyd was, het Jesus aan tafel gegaan en die apostels saam met Hom. 19 Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: ‘Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.’ 20 Met die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: ‘Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.”

 

Vergelyk ook Matt. 26:26-28 – “26 En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: ‘Neem, eet; dit is my liggaam.’ 27 Toe neem Hy ‘n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: ‘Drink almal daaruit, 28 want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.”

 

Dit is die laaste paasfees wat Jesus saam met sy dissipels genuttig het. Niksvermoedend gaan sit-lê die dissipels aan die tafel (soos dit daardie tyd die gewoonte was), om saam met Jesus hierdie ete te geniet. Hierna sou niks ooit weer dieselfde vir hulle wees nie. Jesus praat vreemd. Hy neem die brood, breek dit en deel dit aan hulle uit en sê: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word.” “Hoe nou Jesus? Wat op aarde moet ons met jou liggaam maak?” En dan volg Hy boonop wanneer Hy die wyn skink: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.” Hulle het die afgelope tyd agterkom dat Jesus snaaks optree. Elke nou en dan het Hy verwys na sy dood wat nader kom, maar nou – Sy liggaam en sy bloed? Skrikwekkend! 

 

Die gebeure van vandag se teksgedeeltes sou natuurlik nie net die lewe van Jesus se dissipels omkeer nie. Nee, wat dáárdie aand gebeur het, was alles bepalend vir elkeen van ons wat agterna sou kom en glo dat Jesus Christus gekom het om vir ons sy liggaam en bloed aan die kruis van Golgota te gee. Tans, word die nagmaal as ’n nuwe instelling gegee, om te herinner aan ’n nuwe verbondsluiting en die verlossing van baie mense – Jesus gee sy eie liggaam en bloed vir die behoud van elkeen wat in Hom glo.

 

Vir ons as kinders van die Here, vorm Jesus hier vier genadewoorde – “neem, breek, gee en eet” – wat uiters belangrik is vir elke Christen. Jesus het my en jou sondes op Hom “geneem” om dit na die kruis te dra en sê daardeur: “Kom ‘neem’ by My sodat julle kan lewe en van dié lewe, vir ander kan ‘gee’; My liggaam is aan die kruis ‘gebreek’ sodat julle heelgemaak kan word; God het julle só lief dat Hy My aan julle ‘gegee’ het sodat julle ook liefde kan gee en nie terughou nie; ‘eet’ van My geestelike voedsel sodat julle nie geestelik sterf nie: versterk julle geloof met die Woord van God, volhard in gebed en stel julle oop vir die werk van die Heilige Gees.”

 

Jesus is self die Gasheer by die nagmaal. Hy deel spesiaal vir jou en my wat so bevoorreg is om saam met Hom te eet, die brood en wyn uit. Wanneer ons dit eet en drink, sê Hy sélf vir ons dat dit tekens is van sy liggaam wat ter wille van my en jou gebreek is, en sy bloed wat ter wille van ons sondes gevloei het. En die kersie op die koek is dat Hy só verheug is dat ons nie meer op pad na die verdoemenis toe is nie, dat Hy hierdie nagmaalsmaaltyd kort-kort aanbied. Hy wil gereeld saam met ons eet net om ons oor en oor te verseker dat ons volledig nuut gemaak is, en sy bloed ons skoon gewas het van ál ons oortredings.

 

Ek en jy is die eregaste by die nagmaal en ons vier fees saam met ons opgestane Here! Ons “gebruik dit tot sy gedagtenis!” Dit is belangrik om die nagmaal reg te verlaat. As ons nie besef het dat ons die opgestane Here by hierdie maaltyd ontmoet het nie, het ons dit verkeerd gevier. Daarom is dit belangrik dat ons die nagmaal verlaat met die besliste wete dat ons saam met Jesus geëet het. Wat ‘n voorreg om saam met die belangrikste Persoon in die heelal te kan eet en drink. “Dit is my liggaam, dit is my bloed,” is nie meer skrikwekkende woorde vir ons nie. Inteendeel, dit maak ons bly! Dit voed ons meer as wat ‘n duimgrootte stukkie brood en ‘n klein slukkie soetwyn, dit ooit kan doen. Ek sien elke keer uit na hierdie maaltyd saam met ons opgestane Jesus Christus. En jy? Hoe laat dit jou voel as jy weet dat Jesus ook uitsien om vandag saam met jou te eet?

 

“’n Mens het twee monde: Die mond van jou maag en die mond van jou siel – jou geloof! As jy met die mond van jou maag die brood eet en die wyn drink, neem jy deur jou geloof Jesus se liggaam in jou hart in” (Johannes Calvyn). 

 

Gebed: Dankie Jesus dat U bereid was om U liggaam vir my sondes te breek; bereid was om U bloed te stort sodat God my kan vergewe. Dankie dat U my elke keer wanneer ek nagmaal gebruik, herinner dat ek ‘n sondaar is, maar Goddank, dat ek vergewe is. Dankie goedertierende Vader dat U aan my U kostelike skat, die ware hemelse brood en die spys van die ewige lewe, deur U heilige sakrament gegee het sodat ek deelagtig kon word in sy verlossing. Dankie dat ek elke keer kan uitsien na die nagmaalsete saam met U. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page