Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Apr 16
- 4 min read
Woensdag, 16 April 2025
Koos Espach
GEDAGTE VIR VANDAG – WOENSDAG, 16 APRIL 2024
As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025.
Jammer dat daar gister geen dagstuk uitgestuur is nie. Weens onvermydelike omstandighede was dit nie moontlik nie.
Jesus antisipeer sy dood
Jesus word in Betanië gesalf
Ruimhartige liefde
Mark. 14:6-8: “Laat staan haar,’ het Jesus gesê. ‘Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het ‘n goeie daad aan My gedoen. 7Julle het nog altyd armes by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen, maar vir My het julle nie altyd by julle nie. 8Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al My liggaam gesalf as voorbereiding vir My begrafnis.”
Terwyl die volksleiers vergader en beplan om Jesus gevange te neem, gaan Hy tuis by sy vriende in Betanië naby Jerusalem, waar hulle vir Hom as eregas, ’n aandete voorberei het. In die huis van Kajafas word Sy moord beplan, in Simon die melaatse se huis word Jesus gesalf – verskriklike kontras.
Gedurende die maaltyd, doen hierdie naamlose vrou (volgens Matteus en Markus), Maria, (volgens Johannes), ’n daad van volstrekte selfverloëning en groot liefde om Jesus te vereer op die uitnemendste wyse wat sy as vrou kan bedink. Sy gebruik ’n ruim hoeveelheid baie kosbare nardusolie wat bekend was vir sy welriekende geur, en giet dit sonder terughouding uit om Jesus te vereer. Dit was die gebruik om ’n eregas se kop met reukolie te salf (Ps. 23:5). Maria bewys egter aan Jesus die hoogste eer, en uit tere liefde doen sy ‘n ongewone ding deur dit “op Jesus se voete uit te giet en sy voete met haar hare af te droog” (Joh. 12:3). Met haar daad van toewyding en liefde, sonder dat sy geweet het van die kruisiging wat voorgelê het, het sy “vooruit al Sy liggaam gesalf as voorbereiding vir Sy begrafnis.”
Maria was impulsief, maar sy kón nie anders nie. Sy is so oorstelp deur haar dankbaarheid teenoor, en liefde vir Jesus, dat sy haarself volledig gee, die kosbaarste besitting wat sy gehad het. Sy ag haarself nie werd om die kop van Jesus te salf nie, maar sy voete, wat eintlik die werk van slawe was. Dit was ‘n skande vir ‘n vrou om haar hare in die openbaar los te maak, want dit is geassosieer met straatvroue. Maar sy gee nie om nie, sy buig voor Jesus op haar knieë en droog sy voete daarmee af. Sy verneder haarself in die openbaar en die mense kan maar sê wat hulle wil, sy is bereid om haarself as lewende offer vir Jesus te gee, om sodoende haar liefde te bewys!
Maria het spaarsamigheid oor die hoof gesien en roekeloos haar geld spandeer. Miskien is dit nodig dat ons, ook soos Maria met ons hart sal dink. Dit is nou die aangewese tyd om die “fles” van ons lewe te breek, om op te hou soek na selfbevrediging en ons lewe voor Jesus uit te giet. Ons Heer vra of ek en jy bereid is, met sy offerande in gedagte wat Hy om ons ontwil volmaak afgehandel het, uit liefde en dankbaarheid vir Hom sal doen? Hy sal dit nooit vergeet nie (vgl. Mark. 14:9).
Maria het haar kosbare fles met nardus gebreek om Jesus vir ‘n paar minute met haar liefdesdaad te seën. Jesus het sy liggaam gegee om vir ons gebreek te word sodat ons vir ewig geseënd kan wees. Hy het nie ‘n albastefles gebreek en jou en my met nardusolie gesalf nie – nee, Hy het sy liggaam gebreek en ons met sy bloed gesalf! Jesus se liefde is allesomvattend en allesdeurdringend (ver, wyd, hoog en diep – Ef. 3:18). Hy was ons skoon deur Sy bloed sodat ons by God se feesmaal kan aansit as eregaste! Waar daar in ons lewe die reuk van die dood was, bring Hy die geur van die lewe!
Daar is baie Marias in vandag se kerke, miskien soms ‘n bietjie impulsief, maar bereid om alles op te offer – hulle vrye tyd, hulle swaarverdiende geld, hulle kragte. Geen opoffering is vir hulle te groot nie! Hulle is bereid om hulleself te verneder, die minste te wees, onvoorwaardelik liefde te bewys, die ander wang te draai en die ekstra kilometer te loop – sout en lig vir die aarde (Matt. 5), want hulle reageer uit dankbaarheid vanweë die verlossing deur Jesus Christus.
Mense spot al en sê ons van die NG Kerk, engee, engee, engee net! Gelukkig verskil ons omstandighede heeltemal van Maria s’n. Ons ken mos die kruis en opstandingsverhaal. God het uit liefde sy Seun vir my en jou gegee om ter wille van ons te ly en sy lewe, sy alles vir ons te gee. Hy het nog verder gegaan deur God te vra om vir ons die Gees van die waarheid te gee (Joh. 14:17). En Hy hou steeds aan om te gee engee-engee-engee want Hy is ‘n gee-en-gee-God! Redeneer jy dalk ook so? Ons kan dit selfs waag om vandag die Here se teenwoordigheid anders te beleef as net met ons koppe. Ons kan selfs ons emosies, geld en energie verkwis tot uitbreiding van sy koninkryk. Die Here weet wanneer dit uit ons harte kom en sal dit nie vergeet nie. Ons sal beslis Sy teenwoordigheid opnuut ervaar.
“Geen opoffering kan te groot wees om te maak vir Hom wat Sy lewe vir my gegee het nie” (C.T. Studd).
Gebed: Here help my om te gee sonder bymotiewe of verborge eiebelang. Ek glo nie in U omdat dit iets vir my in die sak kan bring nie, maar omdat ek aangeraak is deur U onbaatsugtige liefde deur U alles, vir my te gee, selfs U lewe. Maak daarom ‘n soort roekeloosheid in my wakker sodat ek ook opofferend sal gee en gee totdat ek my alles vir U gegee het, uit dankbaarheid vir dít wat U reeds volkome vir my gedoen het. Amen.
Comments