top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Mar 25
  • 4 min read

Woensdag, 26 Maart 2025

Koos Espach


In diens van wat God wil (5)


God se genade oortref alles


Rom. 6:21-23 – “Wat was die vrug wat die dinge waaroor julle nou skaam kry, toe vir julle opgelewer het? Die uiteinde van dié dinge is die dood. 22 Maar nou – julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe. 23 Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.”

 

Vergelyk ook Jak. 4:6b-10 – “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.’ 7 Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. 8 Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. 9 Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. 10 Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.”

 

Paulus bêre die beste vir laaste. Sy vierde argument waarom ‘n Christen nie in die sonde mag voortlewe nie, beklemtoon die nuwe toekoms wat vir ons voorlê: God se genadeloon is die ewige lewe! Eerstens het hy gewys ons is dood vir die sonde en nou leef ons vir God. Die rede dat ons vir God leef, is tweedens omdat God ons Koning is. Derdens het God daardie posisie ingeneem in elke Christen se lewe, want ons is nie meer slawe van die sonde nie maar diensknegte van God. Die toekoms is rooskleurig mits die mens die regte keuse maak: óf in diens van God, óf in diens van die sonde.

 

Tot dusver het Paulus breedvoerig geskryf wat God se genade beteken. Daarom draai hy nou nie doekies om wat die gevolge gaan wees indien mense daardie genade verwerp nie. Indien ek en jy met volharding aanhou om vir “Baas sonde” te werk, gaan ons ‘salaris’ wat ons ontvang, die dood wees. Hierdie dood is nie net die afsterwe van die mens op aarde nie, maar die ewige dood – die hel! God daarteenoor, betaal nie ‘n loon, of salaris nie. Wat sal ons in elk geval met ons gebrekkige pogings by God kan verdien? Hy gee vir ons iets wat baie meer werd is as wat enige salaris ooit sal wees, en Hy gee dit gratis. God gee vir ons, nee, Hy het reeds gegee: “Vrymaking, in diens van God, heiliging én die ewige lewe.” Paulus noem dit die “genadegawe”. 

 

Die vraag is nou: “Wat maak ons daarmee?” In plaas daarvan om God te dien met alles wat ons het en is, dra ons die mislukkings van ons verlede soos klippies met ons saam. Vir elke mislukking word nog ‘n klippie as aandenking bygevoeg en binne ‘n sak geplaas, ‘n sak wat later só swaar word sodat dit ons skouers stukkend skuur en die rug al skewer trek, totdat die gewig daarvan ons tot stilstand bring. Totdat ons nie meer kan nie en dit voel asof al die probleme die lewe uit ons druk! Dit is dan wanneer Paulus se woorde soos ‘n refrein binne ons koppe maal: “Die loon wat die sonde gee is die dood ...!"

 

Dalk is die oplossing om maar te aanvaar ons maak almal foute en dit afmaak as darem nie te erg nie. Ons kan dan begin om goeie dinge te doen en vir elke goeie daad wat suksesvol afgehandel is, ‘n klippie uit die sonde-sak haal sodat dit ligter kan word. Nooit! Dit sal nie werk nie! Daar is dalk nie genoeg tyd oor om al die klippe uit te haal nie. Wat kan ons dan doen met al ons mislukkings? Die wêreldvreugdes het ons onbewustelik ingesluk sodat ons onsself nie meer erken nie. Ons staan met ons menslike swakheid van begeertes en selfsugtige belange, skuldig voor God en is vreesbevange – “die loon wat die sonde gee is die dood ..." en ons sak met klippies is steeds propvol en die las is swaar!

 

Dankie tog! Ons hemel Vader het ‘n plan gemaak. Hy het vir ons ‘n ander loon deur Jesus Christus geskep. Hy nooi my en jou uit: “Bring jou sak en haal elke klippie een vir een uit My kind. Dink aan die haglike omstandighede waarin die wêreldsdinge jou geplaas het. Begin om jou persoonlike verhouding met My te herstel. Die afstand wat deur jou opstand en afdwaling na die wêreld onstaan het, moet oorbrug word. Onthou, Dawid het net één klippie nodig gehad om die reus neer te fel en uit te skakel! Onderwerp jou aan My, was jou hande; reinig jou hart; bekla jou ellende, treur en huil; laat jou vrolikheid in rou verander en jou blydskap in droefheid. En kyk, jou sak met klippe is leeg, dólleeg!” 

 

God se reaksie hierop is oorweldigend. Hy buig telkens af na ons toe – “Ek sal tot jou nader” sê Hy. Hy verneder of verwyt ons nie, maar “verhoog ons” as Sy kinders. Hy maak ons nuut! Dáárom kan ons weer opstaan, die leë sak waarin die klippies was by Hom los en met die krag wat ons gebruik het om die sak saam te sleep, voort te gaan en die afgryslike sonde beveg. Ons kan dan die lewe vierkantig in die oë kyk. Met uitbundige vreugde kan ons God dank. Hy het nie net na die wond wat die sonde veroorsaak het gekyk nie, Hy het die Geneesmiddel ook gegee – “die genadegawe, die ewige lewe in Christus Jesus ons Here!”

 

“Work hard for sin your whole life and your pension is death. But God's gift is real life, eternal life, delivered by Jesus, our Master” (Onbekend).

 

Gebed: Here, ek is jammer dat ek keer op keer uit pas raak en toelaat dat wêreldsdinge beheer neem van my lewe. Ek weet dit loop dood in die ewige dood. Ek is jammer Heer, vergewe my asseblief, my verhouding met U ly kort-kort skipbreuk. Dankie dat U nie moed opgee met my nie en telkens afbuig na my toe, my verhoog as U kind en my hierdie wonderlike geskenk van genade gegee het. Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page