Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Mar 24
- 4 min read
Dinsdag, 25 Maart 2025
Koos Espach
In diens van wat God wil (4)
Is ‘n sondelose lewe moontlik?
Rom. 6:19b-20 – “Soos julle elke deel van julle liggame in diens van sedelike onreinheid en wetteloosheid gestel het en losbandig gelewe het, so moet julle nou elke deel van julle liggame in diens van God stel om heilig te lewe. 20 Toe julle slawe van die sonde was, was julle nie in diens van God nie.”
Vir Paulus was die wese van Christenskap geleë in Jesus Christus wat alles kom nuut maak het. Hy het mense wat dood was in hulle sonde, lewend gemaak; sondaars saam met Hom laat kruisig, saam met Hom laat sterf, en saam met Hom uit die dood laat opstaan. Christus het die magte van die dood aan die kruis oorwin en die mag van die sonde in ons as God se kinders, kom breek sodat ons nie meer slawe van die sonde is nie. In die lig van al die wonderlike dinge wat Christus vir ons kom doen het, kan ons nou op ‘n nuwe manier leef. Daarom gee Paulus ook ‘n paar praktiese riglyne hieroor.
Hy sê ons moet heilig lewe deur onsedelike gedagtes en dade te systap. Wat beteken dit om heilig te leef? Stephan Joubert sê om heilig te wees, is ons eenkant geplaas. Ons is deur God opsy gesit om Hom te dien. Ons mag nie met ons lewe maak wat ons wil nie, ons staan onder God se bestuur. God verwag van ons om anders te wees as die wêreld. Hy verwag van ons “om heilig te lewe.” Dis wat God sê op verskeie plekke in die Bybel.
Maar watter uitwerking moet hierdie werklikheid op ons hê? Ons word herinner aan God se opdrag om te leef op ‘n manier wat God se heiligheid weerspieël onder andere in 1 Petrus 1:16: “Wees heilig want Ek is heilig.” Dit behels dat ons ‘n poging aanwend om moreel opregte lewens te lei, die sonde te los en ons lewens aan God toe te wy met die hulp van die Heilige Gees. Die Heilige Gees gaan voort om in ons te werk en ons te reinig omdat ons, selfs as Christene, nog nie volmaak is nie.
“Heilig” is nie altyd ‘n gewilde woord in ons moderne mense se woordeskat nie. Dit word gewoonlik gekoppel aan die sogenaamde ‘hoogheilige mense’ wat neersien op ander, daardie geestelike hoogmoediges van die gemeente. Dan is daar baie mense wat dink om heilig te wees beteken om die sprankel van die lewe te verloor. Maar eintlik is die heiligmakende proses nie oninteressant of eentonig nie. Die opwindende uitdaging om volgens die standaarde van God te leef, al is dit hóé moeilik, hou ‘n mens só besig dat daar nie tyd is vir terneergedruktheid nie.
Paulus stel ‘n aantal sterk heiligheidsuitsprake op verskeie plekke in sy briewe, wat ons laat dink aan volmaakte gelowiges, mense wat eenvoudig die sonde agter die rug het en hulle volkome aan God wy. Ander skrywers wat by hom aansluit is Johannes en Petrus. Almal van hulle se uitsprake word aangevul met die “soos” uitsprake: “Ons moet soos God vergeef” (Kol. 3:13); ons moet soos Christus in liefde leef (Ef. 5:2); mans moet hulle vrouens soos Christus liefhê (Ef. 5:25); ons moet soos God heilig wees (1 Pet. 1:15); ons moet onsself rein hou soos Christus rein is (1 Joh. 3:3). Terwyl ons hierdie uitsprake gelees het, het ons na ons asem gesnak! Hoe sal ons dit regkry?
Dankie tog! Dit gaan nie oor my en jou inspanning nie, God sal dit doen! Ons hoef nie moedeloos te raak nie. Luister wat sê Paulus: “Maar nou het God, ook (ons) met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om (ons) heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel” (Kol. 1:22). God het ons ou lewe-in-die-sonde beëindig, Hy het ons ‘n aandeel aan Jesus gegee (Rom. 6:1-10). Dit beteken dat ek en jy nie meer ons ou lewe leef nie, dié is klaar begrawe (Rom. 6:4). Ons neem nou aan Christus se lewe deel, Christus wat net vir God lewe (Rom. 6:10).
Dan is dit mos logies dat ons ook net vir God lewe (Rom. 6:11). Dit is die grond van Paulus se heiligheidsuitsprake. In beginsel behoort ons nooit weer sonde te doen nie. In beginsel behoort elke Christen sy of haar lewe nét vir God te leef. Maar ai, ons weet mos dit werk nie so nie. Ons is maar te geneig om na ons ‘ou’ lewe terug te gaan. Elke outjie het ’n foutjie. Party van ons het ’n hele paar en om dit in ’n verkleiningsvorm te gebruik, doen redelik afbreek aan die waarheid. Ja, die meeste van ons sukkel met ’n stuk sonde wat te gereeld by ons lewe se voordeur opdaag. Ons weet ons moet dit nie inlaat nie, maar helaas, as ons weer sien, sit ons lekker saam en kuier. Net om die volgende oggend weer op te staan met ’n groot skuldgevoel.
Wat moet ons doen? Êrens moet ons ’n pen inkap. Êrens moet ons besef dat ons nie so kan aangaan en God se Naam deur die modder sleep nie. Dit is weer tyd vir versterkings inroep. Hiervoor het God juis sy Heilige Gees vir ons gegee. Kom ons vra die Heilige Gees om te help. Dan sal God se Naam al die pad geëer word. Hoe meer sensitief ons vir die influistering van die Heilige Gees word, hoe verder sal ons vorder op die pad van heiligmaking en sodoende “elke deel van ons liggame in diens van God stel om heilig te lewe.” Sonder Hom sal ons nie die moeisame maar vreugdevolle pad van heiligmaking enduit loop nie.
“Heiligheid is nie slegs dit wat God my gee nie, maar die weerspieëling in my lewe van dit wat God my gegee het” (Oswald Chambers).
Gebed: Dankie vir U foutlose heiligheid, Jesus. Help my om U voorbeeld na te streef. Alleen kan ek dit egter nie doen nie. Help my Gees van God, vorm my al meer tot die volmaakte voorbeeld van Jesus Christus. Om sy Naam ontwil. Amen.

Comments