top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Mar 19
  • 4 min read

Woensdag, 19 Maart 2025

Koos Espach


In diens van wat God wil (1)


Eksklusiewe nuwe Eienaar


Rom. 6:15-16 – “Wat beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade? Beslis nie. 16 Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe.”

 

Paulus het tot dusver reeds twee redes gegee waarom ons die rug moet draai teen sonde: Eerstens dat ons in Christus dood is vir die sonde en voortaan vir God leef. Tweedens is God nou ons Koning en nie meer die sonde nie. Ons is dus nie meer slawe van die sonde nie, maar diensknegte van ons Koning, God. Ons is God se eiendom, Hy het ons duur gekoop met die bloed van sy Seun. Anders gestel: Ons as Christene wat voorheen gehoorsaam was aan Baas Sonde, móét nou gehoorsaam wees aan ons nuwe Meester God.

 

As gelowiges het ons nou ‘n verpligting om met alles wat ons is, met alles wat ons het en met elke deel van ons liggaam, in diens van God gaan staan. Ons kan nie anders as om gehoorsaam te wees aan ons nuwe Meester nie. Ons mág nie meer ‘n slaaf wees wat Baas Sonde navolg nie. “Ons het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God” (Kol. 3:9-10).

 

Een van die eerste dinge wat ons moet erken wanneer ons begin ondersoek wat ons beheer of domineer, is dat ons sélf verantwoordelik was vir die feit dat ons toegegee het aan wat dit ook al mag wees. Ja, ons is geneig om satan die skuld te gee vir enige oortreding, maar indien ons eerlik aan onsself wil wees, was dit die ek wat in myself oortree het. As ek ‘n slaaf van myself is, is ek self te blameer. Ek het aan my sélf toegegee, dis nie iemand anders se skuld nie, nie eers ‘die ou duiwel’ nie.

 

Ons het tog ‘n keuse. “As dit die sonde is, beteken dit vir ons die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe.” Die geheim van ons keuse is oorgawe. Wat beteken oorgawe? Dit beteken dat ek en jy nie meer die status quo van ons sondige lewe aanvaar nie, maar ons totaal oorgee aan God. Hy is nou ons eklusiewe Eienaar! Ons vertrou dan God om dinge in ons lewe te laat werk in plaas daarvan om ons eie agenda af te dwing en die situasie te probeer beheer. Ons laat God die werk doen. Ons hoef mos nie altyd in beheer te wees nie. Die Bybel sê ons moet in stilte op die Here vertrou (Ps. 37:7). Pleks daarvan dat ek en jy harder op ons eie probeer, vertrou ons meer.

 

Dit is ongelukkig nie altyd maklik om oor te gee nie. Oorgawe is ‘n intense ‘oorlog’ teen ons selfgesentreerde aard. Baie het al gedink: “Ek wil vir God leef, maar ek wil ook ...” Ware oorgawe is om te weet dat God enigiets kan doen, dat die onmoontlike vir Hom moontlik is! Daar is geen maar’s wat bygevoeg word nie! Soos Jesus behoort ons dan ook te sê: “Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil” (Mark. 14:36). Die Bybel is glashelder oor die voordele vir ons as ons ons lewe ten volle aan God oorgee. Ons sal o.a. vrede ervaar: “Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef en so sal jy voorspoed hê” (Job 22:21).

 

Oorgawe maak ons nie swakker mense nie. Dit beteken ook nie ons is nou iemand se ‘vloermat’ nie. Inteendeel, as ons aan God oorgegee het, hoef ons niks anders te vrees of daarin oor te gee nie. God het byvoorbeeld Maria as Jesus se moeder gekies omdat sy haar ten volle aan Hom oorgegee het, nie omdat sy ryk of mooi of talentvol was nie. Toe die engel God se ‘onmoontlike’ plan aan haar verduidelik het, het sy kalm geantwoord: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het” (Luk. 1:38). Sjoe, wat ‘n kragtige antwoord! Is daar iets kragtiger as ‘n lewe wat in God se hande oorgegee is?

 

Oplaas gee ons almal ons aan iets oor – aan die menings van ander, aan geld, vrees, luste, ego – noem maar op. Ons is egter geskep om God te dien. En as ons God nie aanbid en dien nie, gaan ons ander dinge skep waaraan ons ons lewe gaan aan wei. Ons het ‘n keuse waaraan ek en jy ons aan kan oorgee, maar ons sal die gevolge van ons keuse moet dra. Die verstandige keuse is om saam met Paulus te erken: “Of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos die Here dit wil” (2 Kor. 5:9). Kom ons plaas Christus agter die stuur van ons lewe, ons vrese, ons drome, ons swakhede, ons gewoontes, ons alles. Niks waarvan Hy beheer het, kan ooit buite beheer raak nie!

 

“Die grootsheid van ‘n mens se krag lê in die mate van sy of haar oorgawe” (William Booth).

 

Gebed: Here, neem asseblief beheer van my lewe en vorm dit soos U wil. Maak my nederig in U besluit. As U my Meester is, kan ek enigiets bemeester – ek is tot alles in staat deur U wat my krag gee! Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page