Gedagte vir Vandag
28 April 2021
Koos Espach
JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (74)
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (20)
(Matt. 21:1–22:46)
Die gelykenis van die boere en die wingerd (1)
(Mark. 12:1-12; Luk. 20:9-19)
God se genade het geen perke nie!
Matt. 21:33-38 – “Luister na nog ‘n gelykenis,’ het Jesus gesê. Daar was ‘n grondbesitter wat ‘n wingerd geplant en ‘n klipmuur daar rondom gebou het. Hy het daarin ook ‘n parskuip uitgekap en ‘n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en op reis gegaan. Toe dit tyd geword het vir die druiweoes, het hy van sy slawe na die boere toe gestuur om sy deel van die oes te gaan haal. Maar die boere het sy slawe gevang, die een geslaan, en ‘n ander een doodgemaak en ‘n ander een gestenig. Die eienaar het toe weer ander slawe gestuur, meer as die eerstes, maar die boere het met hulle net so gemaak. Heel laaste het hy sy seun na hulle toe gestuur met die gedagte: hulle sal tog my seun ontsien. Maar toe die boere die seun sien, sê hulle vir mekaar: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood en vat sy erfenis.”
Na die gelykenis van die pa en sy twee seuns, gee Jesus nie eintlik Sy hoorders, en veral die Joodse leiers, kans om asem te skep nie. Hy volg feitlik onmiddellik op met hierdie gelykenis waar Hy die beeld van die wingerd voorhou as die koninkryk van God, God se gemeente. Die eienaar is God. Die boere verwys na die kerkleiers wat Jesus se gesag as die Messias van God bevraagteken. Die slawe wat op die regte tyd gestuur word, is die verskeie profete wat oor eeue heen deur Israel geminag, mishandel en soms selfs doodgemaak is. Die seun van die eienaar, is Jesus wat ten laaste gestuur word. Duideliker kan dit seker nie – die gelykenis spel letterlik die geskiedenis uit wat binnekort aan die kruis voltrek sal word.
Destyds was die bepalings in verband met die verhuring van grond, dat die eienaar die grond gee, die huurders die saad en arbeid, en die oes dikwels om die helfte gedeel word. Grondeienaars het soms ver van hulle grond in ’n stad gewoon en weinig kontak met die huurders gehad. In ander gevalle het grondeienaars ook gehelp om armoede en werkloosheid te bekamp, en juis grond beskikbaar gestel sodat die behoeftiges, ‘n lewe kon maak.
In hierdie geval doen die eienaar veel meer as waartoe hy verplig is. Hy sorg vir die plantwerk, vir ’n heining om die wingerd teen vernieling van diere te beskerm, ’n parskuip om die oes te bewerk en ’n wagtoring wat tegelyk dien as woonplek vir die huurders en as skuur vir die oes. Hy vertrou hulle ten volle want hy besoek hulle geensins, of gaan maak nie seker oor hulle boerdery vernuf nie. Hulle het dus hoegenaamd geen rede om ontevrede te wees nie.
Dit was die plig van die huurders om te sorg dat die eienaar sy deel van die oes ontvang. Hierdie eienaar kom hulle tegemoet deur op die bestemde tyd sélf iemand te stuur om met die oorbring van sy deel behulpsaam te wees. In plaas van waardering, was daar by die boere ’n blindheid vir die voorregte wat hulle geniet en ’n vyandige gesindheid. “Hulle het sy slawe gevang, geslaan, een doodgemaak en ‘n ander een gestenig.” En dan gebeur ‘n vreemdste ding, die eienaar “stuur nog slawe, meer as die eerstes, maar die boere het met hulle net so gemaak.” ‘n Mens sou dink die eienaar sou leer uit die vorige gevolge, en polisie stuur om die huurders uit te sorteer. Maar hy raak nie wraaksugtig nie, en dis tog buite die kwessie, in die gewone lewe sal dit mos nie gebeur nie! Hy stuur jou werklik waar toe sy seun “met die gedagte dat hulle hom tog sal ontsien”, maar die gevolge is meer tragies!
Ons het hier ‘n gelykenis wat uitstyg bo die menslik moontlike, onwaarskynlik en selfs ondenkbaar. Geen eienaar vandag, sal duld wat hierdie eienaar duld nie. Dit vertel ons iets van die hart van God wat vir ons aandui dat God in sy lankmoedigheid, volkome anders handel as ’n mens – wat by die mens onmoontlik is, is by God moontlik! Allereers val die klem op die groot sorg waarmee God vir Hom van die begin af ‘n gemeenskap van gelowiges bymekaar maak. Aan die wingerd kom niks kort nie, “die wingerd van die Here die Almagtige, die wingerd wat Hy geplant het en waarin Hy Hom wou verlustig, is die Israeliete, die volk van Juda” (Jes. 5:7a). Dit getuig van God se sorg en liefde vir Sy wingerd.
Tweedens val die klem op God se groot geduld met ons wat weier om die vrug van die koninkryk te dra. Hy stuur nog slawe, nie omdat Hy so gesteld is op Sy deel van die opbrengs nie, maar omdat hy ons huurders, die geleentheid wil gee om tot inkeer te kom en behoue te bly. Hy probeer weer en weer en gee ons tot oorlopens toe kans vir berou en bekering. “Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het” (2 Tim. 1:9).
Afgesien van wie ek en jy is, van wat ons gedoen het, goed of sleg, die lewende God bied aan ons Sy verlossing en die hoop op die ewige lewe in Sy koninkryk. Hy doen dit met lankmoedigheid en uiterste geduld! Al wat ons moet doen, is om te glo en te bely dat ons Jesus nodig het en nie sonder Hom kan lewe nie. Dit klink té eenvoudig om waar te wees. Maar as ons dit nie glo nie, beroof ek en jy onsself van die grootste Bron van Vreugde en Vrede wat aan die mens bekend is. God se verlossing is nie ‘n fantasie nie, maar ‘n voldonge feit: “Hy het sy Seun gestuur om die opbrengs van Sy oes te kom haal!” Die keuse is ons s’n of ons deel van daardie vrugdraende oes wil wees of ‘n vyeboom met net blare aan. Natuurlik is dit baie belangrik om die “Seun toe te laat om die opbrengs van die oes bymekaar te maak en Hom nie gryp en hom uit die wingerd uitgooi en doodmaak nie.”
“Dis nie ons daad van geloof wat ons regverdig maak nie, dit is die inhoud van ons geloof wat dit bewerk. Dit gaan nie daaroor dat ons die een of ander toevlug het nie; dit gaan alleen daarom dat God self ons toevlug is” (Karl Barth).
Gebed: Hemelse Vader, ek dank U vir die verlossing wat U my geskenk het deur Jesus Christus my Verlosser en Saligmaker. Dankie vir U Lig waarmee U my lewe seën en U Woord wat my verryk. Dankie vir die vreugde om deur gebed met U te mag praat, vir die hoop van môre en elke dag. Dankie dat ek op U teenwoordigheid kan vertrou en met sekerheid daarop kan bou. Dankie Gees dat U my laat rus in U seën, liefde en bewaring. Geloof sy die Here, dag na dag dra U my. Amen.
Kommentare