top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Mar 13
  • 4 min read

Vrydag, 14 Maart 2025

Koos Espach


Dood vir die sonde, maar lewend vir God (8)

 

Verkeerde begeertes

 

Rom. 6:12-14 – “Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. 13 Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. 14 Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.”

 

Vergelyk ook Kol. 3:5 – “Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.”

 

Wanneer ek en jy aanvaar dat ons dood is saam met Christus aan die kruis, kan ons aanvaar dat ons gelowiges in Christus vir die sonde dood is, en daarom voortaan vir God behoort te lewe. Ons mág nie in die sonde voortlewe nie, maar volgens ons nuwe status as Koningskinders, soos God se kinders leef! Ons moet self opstaan in ’n nuwe lewe en ons ou sondige gewoontes kruisig en in Christus lewe. Ons moet nie meer “toelaat dat die sonde nog langer oor ons heerskappy voer en langer gehoorsaam wees aan die begeertes van ons sterflike aardse bestaan nie”.

 

Soos in Paulus se tyd, is die swakste plek in ons mondering vandag steeds “die begeertes van ons sterflike aardse bestaan”, begeertes wat ontaard het in hartstogte, drange en luste wat “dele van ons liggaam in diens van die sonde stel.” Wanneer Paulus twee keer na die dele van ons liggaam verwys, sluit dit álles in, álle liggaamsdele en organe wat ons in staat stel om volledig mens te wees, nie net ‘n oog of ‘n hand nie. Wanneer God daarenteen, die Eienaar is van ons lewe, sluit dit élke vermoë en funksie van mens-wees in wat ‘n “werktuig kan wees om te doen wat God wil”, en nie wat die wêreld voorskryf nie.

 

As ons die sonde dien, word ons Godgegewe skeppingsdrang geoffer aan satan. Wat beteken dit? Jakobus skryf: “Weet julle nie, julle ontroues, dat vrienskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is” (Jak. 4:4). Om ons begeertes te vermeng met die wêreld beteken dat ons in ‘n gevaarsone beland waar ons beheers word om “’n vriend van die wêreld te wil wees” wat buite die konteks is om ‘n “werktuig te kan wees om te doen wat God wil.” Iemand wat hom deur sy eie begeertes laat lei, bewys daarmee dat hy uit die verhouding met God wil wees, en eerder in ’n vriendskap met die wêreld wil gaan. God en die sondige wêreld is in konflik met mekaar en sluit mekaar uit!

 

Dit beteken ons moet gewillig wees om met dit wat aanleiding gee tot die sonde, “die aardse dinge doodmaak wat nog deel van ons lewe is.” Ons moet ontslae raak van die ou mens wat na hartelus en harteloos volgens die begeertes van ons sondige natuur leef, en net so nou en dan God wil dien. Alleen kan en sal ons nie suksesvol wees nie. Elke keer wanneer satan sy suksesvolste verleidingstegniek van die sensuele en seksuele aan ons voorstel, moet ons hom troef met: “Weerhou my van ‘n nuttelose lewe, Heer. Laat my leef op die weg wat U my aanwys” (Ps. 119:37).

 

Daar is een ding wat ons nie moet doen nie: ons moenie God se genade goedkoop maak nie. Paulus sê vandag vir ons “die sonde moet nie meer baas wees oor ons nie, want ons staan onder die genade.” Ons kan nie God se genade vir ons toe-eien en spog ons leef (staan) onder sy genade, en dan leef asof ons dit nie nodig het nie. Om dan voort te gaan soos ons maar altyd gedoen het, en ons claim to fame dat God ons vergewe omdat Hy genadig is, is om met God te spot! Genade is ‘n gawe van God waarin ons as begenadigdes moet leef. Genade is nie ‘n pleister op ons sonde nie, maar God se oproep op my en jou om berou daaroor te hê en daarmee te breek. Laat ons dan God se genade aangryp en daarvan leef en hierdie gawe van God gebruik om ander ook daarmee te laat leef.

 

“As die Bose jou in God se geselskap sien, sal hy nooit rus sonder om jou met allerlei verleidelikhede daar te probeer weglok nie” (CS Lewis).

 

Gebed: Hemelse God en Vader, maak my brandend van U liefde, sluit elke vermoë en funksie van my mens-wees in wat ‘n “werktuig kan wees om te doen wat U wil.” Verhoed dat ek ingesuig word deur die tydelike plesier wat die wêreld bied, en laat my vashou aan U, my Anker, wat ewigheidswaarde het. Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page