Gedagte vir Vandag
Woensdag, 12 Maart 2025
Koos Espach
Dood vir die sonde, maar lewend vir God (6)
Saam met Jesus op die wenpad
Rom. 6:9 – “Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie.”
Dit was Paulus se geloof en eerstehandse ervaring dat Christus uit die dood opgewek is. Wie kan dan sy Damaskus ervaring vergeet? Paulus vertel vir ons dat Jesus iets ongeloofliks gedoen het toe Hy daardie Vrydag aan die kruis gesterf het. Hy het ons almal saam met Hom kruis toe gevat. Met ander woorde, toe Jesus daar aan die kruis gehang het, het ons saam met Hom daar gehang. Só het Jesus volkome vir ons sondes gesterf: God het nie meer sy Seun daar sien hang het nie, maar vir my en jou. Jesus het regtig vir ons sondes gesterf en regtig weer opgestaan uit die dood. Regtig! Dink bietjie daaroor.
Christus het vir ons sondes gesterf en die dood vernietig met sy opstanding. In Hom vrees ons nie meer die dood nie. God se genade maak ons vir altyd deel van Jesus se verhaal aan die kruis en sy opstanding drie dae later. In 1 Johannes 3:14 lees ons dat ons alreeds “uit die dood na die lewe oorgegaan het.” Ons kan dus nou al die ewige lewe hê. Maar, vir ons Christene is daar steeds egter iets soos die skadu van die dood want dit gooi ‘n skadu oor hulle wat agterbly.
Ongelukkig beskik niemand oor eerstehandse kennis van die dood nie. Geen mens op aarde kon ons nog vertel hoe dit is om die dood te ervaar nie. Dat die dood hartseer en verwarring bring, is natuurlik, maar kinders van God hoef nie bang te wees vir die dood nie. Jesus het die dood gedood. Die Bybel verseker ons dat Jesus met sy opstanding, vir altyd die angel uit die dood kom haal het.
Tydens my kinderjare was my ouers lief daarvoor om veral Sondae die plaaslike begraafplaas te besoek en die inskripsies op die grafte te lees. Ons moes saam sodat ons die werklikheid van die dood kon ervaar. Dit was opvallend dat die meeste grafskrifte begin het met: “Hier lê ...” Dan volg die naam, geboorte- en sterfdatums en bietjie lof vir die oorledene. Maar hoe anders is die grafskrif op Jesus se graf nie! Dis nie op klip uitgebeitel nie. Dit kom uit die mond van ‘n engel en is presies die teenoorgestelde van wat op al die ander grafte regoor die wêreld staan: “Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek ...” (Matt. 28:6).
Ons was bevoorreg om die Tuingraf in Jerusalem te kon besoek. Hoe anders was die oomblik toe ek van binne die leë graf, teen die houtdeur wat later aangebring is, Jesus se “grafskrif” kon lees: “He is not here for He is risen.” Soos wat die dood ‘n werklikheid was in my geboortedorp se begraafplaas, was Christus se opstanding op daardie oomblik ‘n werklikheid vir my in Jerusalem! Maar met ‘n verskil: “Die dood het nie meer mag oor Hom nie.” As Christene kan ek en jy saam met Paulus juig. Paulus sê in Romeine 6 ons kan klaar ‘n oorwinnaarslewe geniet. Ek en jy wat glo, het volledig deel van Jesus se geskiedenis aan die kruis en sy opstanding geword.
Paulus sê met die volgende beelde dat ons alles meegemaak het wat met Jesus gebeur het: Toe Jesus gekruisig is, is ons saam met Hom gekruisig; toe Jesus gesterf het, het ons saam met Hom gesterf; toe Jesus begrawe is, is ons saam met Hom begrawe; terwyl Jesus in die doderyk was, was ons saam met Hom daar; toe Jesus opgewek is, is ons saam met Hom opgewek (Vgl. ook Ef. 2 en Kol. 23). Ons is egter meer as gekruisigdes en opgewektes uit die dood. Die mag van die sonde is gebreek want ons is saam met Christus in ‘n nuwe lewe opgewek! Die sonde heers nie meer oor ons nie.
Ek en jy is dood vir die sonde. Daarom kan Paulus sê ons is meer as oorwinnaars. Ons word dit nie, ons ís dit. Ons hoef nie soos ‘n atleet weg te spring by die begin en oor elke sonde-hekkie probeer kom voordat ons die wenpaal haal nie. Nee, ons spring weg by die wenpaal, waar Jesus staan. Ons begin elke dag om saam met Hom te stap sonder om bekommerd te wees of ons gaan wen of nie. Ons is heeldag op die wenpad. Van twéé dinge kan ons absoluut seker wees: ons sal eendag doodgaan en as ons in Jesus Christus glo, sal ons vir altyd leef. Maar die manier waarop ons elke dag lewe, het betrekking op ons lewe ná die dood. Ons moet dus seker maak ons spandeer genoeg tyd aan dinge met ewigheidswaarde terwyl ons leef.
“Death is to lose the earth you know, for greater knowing; to find a land more kind than home, more large than earth” (Anonymous).
Gebed: Here Jesus, hoe wonderlik is dit om te weet die dood het nie meer mag oor U nie. U kruisdood en opstanding het vir altyd die angel uit die dood kom haal. Alhoewel die dood vir my steeds ontwrigtend, onbekend en vol hartseer bly, weet ek dit is nie nodig om die dood te vrees nie. Dankie dat die dood nooit die einde van die lewe beteken nie, maar die begin is van die eintlike lewe by U. Amen.
Comments