top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 7 Maart 2025

Koos Espach


Dood vir die sonde, maar lewend vir God (3)

 

Ek is in Christus Jesus

 

Rom. 6:3-4a – “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4 Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe ...”

 

Vergelyk ook Joh. 15:4-8 – “Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. 5 Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6 As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ‘n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7 As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8 My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

 

Paulus gebruik dikwels die uitdrukking “in Christus” in al sy sendbriewe. Ook hier in sy brief aan die Romeine, sê hy selfs ons is in Christus se dood gedoop en saam met Hom in sy dood begrawe. Maar wat beteken dit om ‘ín’ Christus te wees? Wat beteken dit om te sê God is ‘in’ my lewe; Jesus is ‘in’ my hart of die Heilige Gees is ‘in’ my? Beteken dit dat alle gelowiges ‘n stukkie van God in hulle het? Of sê die Bybel iets baie kosbaarder daarmee?

 

Die geleerdes reken dat ‘in’ jou nie noodwendig ‘n spesifieke plek aandui van waar God Hom bevind nie, maar eerder ‘n erkenning is dat ons deur geloof, ‘n persoonlike intieme verhouding met God gevestig het. Die laaste aand saam met sy dissipels het Jesus die woorde “Ek in julle en julle in My” meer as een maal gebruik. Wat probeer Jesus vir ons sê? In ons vergelykende teksvers volg Jesus met “julle moet in My bly en Ek in julle.” Jesus verwys ook na sy eie definisie: “Wie My liggaam eet en My bloed drink, bly in My en Ek in hom” (Joh. 6:56). 

 

Ons woonplek, ons huis, is daar waar ons tuis en veilig voel. As Jesus dus sê ons moet in Hom bly, beteken dit dat ons geestelik by Hom sal ‘intrek.’ Hy word ons huis, ons woonplek! Dit beteken om in ons daaglikse lewe by wyse van spreke, “Sy liggaam te eet en Sy bloed te drink.” Dit beteken ons moet Hom soek, met Hom gesels en na Hom luister, na Hom verlang, Hom  ken, Hom liefhê en doen wat Hy vra. Dit moenie wag vir elke drie maande tydens nagmaal nie, maar elke dag! Dit gaan oor ʼn lewende verhouding met Hom as Persoon. 

 

Ons bly immers saam met Hom! En omdat ons so saam woon, weet Hy presies wat ons dink en doen en voel, veral oor Hom. En wanneer ons verkeerd reageer of optree, gebruik God Sy snoeiskêr om die “dooie” lote af te knip en reg te snoei. Eina, dit maak seer maar die eindresultaat sal beter wees, “ons Vader word juis daardeur verheerlik dat ons baie vrugte dra!”

 

Soos die wingerdstok sy sap met die lote deel, deel Jesus sy lewe met ons. Dit het egter met meer as die nagmaal te doen, Hy het ons sy Gees gegee: “Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee” (1 Joh. 4:16). Om in die Here Jesus te bly, beteken om elke dag deur sy Woord en Gees gevoed te word, elke dag in sy teenwoordigheid te wandel, nie net Sondae of nagmaaltye nie.

 

Bybellees en gebed moet in die ware sin van die woord 'n daaglikse, opbouende gesprek tussen ons en die Here wees. Ons kan egter vir jare lank Bybel lees en bid sonder om in Hom te bly! Ons moet met Hom praat omdat ons Hom persoonlik goed ken en omdat ons Hom liefhet en Hom vertrou. Hoe beter die verbinding met die wingerdstok, hoe beter is die oes aan die loot, ‘n loot wat die vrugte van die Gees in oorvloed dra!

 

Ek en jy wat onsself Christene noem, moet biddend en gelowig hierdie waarheid aanneem: Ek is in Christus Jesus! “God self het ons op hierdie vaste grond gevestig: op Christus” (2 Kor. 1:21). Deur God is ek en jy in Christus. Ons moet dit met alles in ons glo en die Heilige Gees sal ons hierdie gawe laat beleef. Ons moet net vurig daaroor bid en die leiding van die Gees volg. Ons moet egter onthou, om in Christus te bly is ‘n saak van die hart. Slegs namate ons elke dag tyd saam met Christus deurbring, sal sy teenwoordigheid in ons ‘n heerlike werklikheid word en ons dag na dag vernuwe.

 

“Die inwonende God is basies dít – om God gedurig in jou denke te hou, sy troon voortdurend in jou binneste gevestig. Dán is God met jou, in jou, vir jou!” (Basil die Vrome).

 

Gebed: Jesus, om in U te bly, is die regte plek vir my! Dit is veel meer as om net kerk by te woon, Bybel te lees en te bid. Laat my in geloof net op U konsentreer en simbolies U liggaam eet en U bloed drink. Hou my gewortel in U, aan U liefde is daar geen einde nie. Amen.

 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page