top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 6 Maart 2025

Koos Espach


Dood vir die sonde, maar lewend vir God (2)

 

Saam met Hom

 

Rom. 6:3-4 – “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4 Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die heerlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei.”

 

Ons het Dinsdag genoem dat sonde ons in lewende dooies verander, al klop ons harte nog, dit verander ons lewe in ‘n reuse begraafplaas. Die goeie nuus is dat God ons nie sommerso in die begraafplaas van sonde laat verrot nie, Hy het sy Seun gestuur om sy houtkruis by wyse van spreke hier tussen ons sondaars op te slaan, sodat “almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is.” Paulus verwys nie hier na ‘spesiale’ mense van sy tyd wat hierdie doop ervaar het nie, hy verwys na álle gelowiges, na “ons almal”.

 

Deur die doop lyf God “ons almal wat in Christus Jesus gedoop is”, by Hom in: “Deur hierdie geloof in Jesus Christus is (ons) nou almal kinders van God, 27 want (ons) almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword” (Gal. 3:26-27). Ons is in Christus se dood, ingedoop. Die doop is die uiterlike handeling waarmee ons ingelyf word in Christus se dood. Dit is ‘n teken en ‘n seël van die reiniging van ons sondes deur Christus se dood. Paulus lei daaruit af dat die dopeling dus die sonde afgesterf het, dat die gedoopte vir die sonde dood is. Dit is so ’n finale werklikheid, dat hy kan sê die “gedoopte is immers saam met Hom in sy dood begrawe.” 

 

“Saam met Hom” is die sleutelwoorde wat Paulus hier gebruik, maar wat beteken dit? Is dit 'n soort van simboliese eenheid? Dit is moeilik om dit met die menseverstand te beskryf. Met Christus se dood en sy opstanding, tree ons na vore in 'n nuwe gewaad, as nuwe mense, beklee met Christus. Ons is nuut, en lewe nou nuut, dood vir die sonde maar lewend vir God. Ons kan daarom met vrymoedigheid elke dag begin om vir onsself te sê: “Ek is ‘n nuwe mens, die ou mens is saam met Christus gekruisig. Ek besit Goddelike krag om nee te sê vir die sonde. Die sonde-tiran is nie meer my baas nie, want ek is ‘saam met Hom.”

 

Dankie Paulus, dit klink alles goed en is verseker die waarheid, maar ek sien dit dan nie in my eie lewe nie! Ek het al so dikwels die ou mens saam met die sonde probeer begrawe, maar hy staan elke keer maar weer op. Ek het hom in ‘n graf gesit, en toegegooi, maar telkens beur hy weer boontoe, hy wil net nie dood bly nie. Die mens is verantwoordelik vir sy eie sondeval. Die broeiplek vir die sonde het sy oorsprong by onsself: “Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep” (Jak. 1:14). Die moeder van alle sondes het sy oorsprong by ‘n meesterbrein: Onsself!

 

Is ons dan verlore en gedoem vir die ewige dood omdat ons slawe van sonde is? As gevolg van sonde kon Adam en Eva nie voldoen aan die volmaaktheid wat God vir hulle bedoel het nie. As gevolg van sonde het die Israeliete van die heerlikheid wat God vir hulle as sy volk bedoel het, afgesien. As gevolg van sonde het Judas die geleentheid om apostel van Jesus te wees, vir die dood verruil. Sonde bederf elke deel van ons lewe wat dit aanraak. Elke area van ons lewe is vatbaar vir sonde se vernietiging!

 

Maar, die wonder van verlossing is dat ons “saam met Hom” is. Omdat God ons deur die doop met Christus verenig het, het ons deel aan al sy ervarings, ook deel aan sy dood. Christus het vir die sonde gesterf, dus is ons ook vir die sonde dood. Ons sondige bestaan is beëindig. Ons is saam met Christus uit die dood van die sonde opgewek “om ‘n nuwe lewe te kan lei.”

 

Wat beteken dit? God het gedoen wat ek en jy nie kon nie. Deur Christus se offer aan die kruis het God in sy genade sy verlossing vir ons aangebied en die boete van ons sondes kwytgeskeld. Hy voorsien selfs vir ons die geleentheid om dadelik ons sondes te bely en van alle ongeregtigheid gereinig te word (1 Joh. 1:9). Sy genade heel gebroke harte; sy genade wis woede en bitterheid uit; sy genade herstel gebroke verhoudings. God se genade neem my en jou lewe wat deur sonde verwoes is, en maak dit volkome heel!

 

“God het een Seun sonder sonde; maar Hy het geen seun wat nie versoek word nie” (Charles Spurgeon).

 

Gebed: Onse Vader, dankie dat U genade, dooie mense wat die lewe in die begraafplaas van die sonde en dood deurgebring het, lewend maak. Verlos my van die bose mag van die sonde en laat ek U adres daar agterlaat, want satan is geneig om weer ‘n besoek af te lê. By U is hy egter nie welkom nie. By U sal hy my met rus laat want ek is saam met U. Amen.

 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page