top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Mar 4
  • 4 min read

Dinsdag, 4 Maart 2025

Koos Espach


Dood vir die sonde, maar lewend vir God (1)

 

Die nuwe mens is dood vir die sonde

 

Rom. 6:1-2 – “Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? 2 Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?”

 

Paulus gebruik weer die vraag: “Wat sal ons dan sê?”, by die aanvang van ‘n nuwe deel van sy argument. Hy het pas in Rom. 5:20 die stelling gemaak dat, hoe meer die sonde word, hoe oorvloediger het God se genade geword. Sou dit kon beteken dat ons maar lustig kan voortgaan met sonde “sodat die genade kan toeneem?” Vernietig hierdie siening nie dalk ons verantwoordelikheid om van die sonde af te ontvlug nie?

 

Elke aand bely ons maar net ons sonde, en daardie selfde aand vergewe God ons in sy groot genade. Maak nogal sin. Dan ontvang ons mos baie meer genade as die ou wat nie sonde doen nie! ’n Mens kan dus maar goddeloos lewe en in die sonde volhard want die sonde laat God se genade net meer word. Lekker man! God is mos ‘n God van liefde, sy genade is oorvloedig, daarom kan ons sonde maar ligtelik opneem.

 

Hoe sou ons die vraag beantwoord: “Ontvang ons meer genade wanneer ons meer sonde doen?” Dalk met iets soos: “Nee, God se genade is nie goedkoop nie. Dit het sy Seun gekos en ons Christene het respek daarvoor.” Omdat Paulus dié vraag dalk verwag het, antwoord hy half vreemd: “Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?” Hy wys dit af met ‘n besliste nee en motiveer sy antwoord deur ’n aantal teenvrae wat moet toon hoe dwaas so ’n vraag eintlik is. Dit is dus nie ‘n kwessie of ons nog wíl sonde doen nie, ons kán nie meer sondig nie. ‘n Dooie mens is tot niks in staat nie!

 

Sonde maak ‘n mens dood, selfs al haal ons nog asem. Sonde is nie maar net 'n paar foutjies in 'n mens se lewe nie, dit is ‘n mag wat jou beetkry en jou in sy greep vasklem. Dit neem jou gedagtes oor en rig jou optrede – “ ... ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood” (Jak. 1:14-15). Sonde verander ons in lewende dooies, al klop ons harte nog, dit verander ons lewe in ‘n reuse begraafplaas.

 

Maar, sonde het geen beheer oor ‘n lyk nie. Diegene wat dood is vir die sonde, kan nie daarin voortlewe nie. Versoekings kan maar aanhoudend na ‘n ‘lyk’ toe kom, dit sal onverrigtersake voor ‘dooiemansdeur’ omdraai. Hierin lê ‘n diep geestelike waarheid opgesluit – ons het in Christus gesterf aan die sonde toe ons Christene geword het! Daardeur is ons vrygemaak van die houvas van die sonde op ons. Ons kan nou saam met Paulus bely dat ons nuut geword het, die ou sondige ek en jy het gesterf, “en nou is dit nie meer (ons) wat lewe nie, maar Christus wat in (ons) lewe” (Gal. 2:20).

 

Ons is nou nie meer hulpelose slagoffers van die sonde nie, die oorwinning is klaar behaal. God hoef nie meer my en jou sonde te oorwin nie, Hy het alreeds! Ons moet net sy oorwinning in ons lewe toepas. Maar hoe? God se genade is die dryfveer om die sonde te weerstaan! Dit was God se genade wat Jesus in staat gestel het om die bespotting, die mishandeling, die Via Dolorosa en uiteindelik die kruis, te laat verduur. As ons hierdie genade in gedagte hou en besef hoe duur dit was, “kan ons nie voortlewe in die sonde nie”, ons het saam met Christus daarin gesterf.

 

Dit is die moeite werd dat ons tyd maak om te luister wat Paulus vandag oor hierdie Skrifgedeelte vir ons wil wysmaak. Vir my beteken dit dat ek dood is vir die sonde deur Jesus Christus. Wat beteken dit? ‘n Ruspe word op ‘n stadium deur die natuur in ‘n kokon toegevou. ‘n Paar weke kom ‘n pragtige vlinder te voorskyn. Net so kan ek en jy met al ons moedeloosheid, verwardheid, ongelukkigheid, depressie of wat ook al, na Christus toe kom en as ‘n nuwe mens anderkant uitkom. God sê “Ek sal vir julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee ... (Eseg. 36:26). Dit klink ongelooflik, selfs onmoontlik, maar dis wat God sê!

 

Wanneer ons groei in die bewuswording van ons eenwording met die gekruisigde Christus, sal ons die krag van sy lewe in ons ervaar wat ons ook vrymaak van die sonde oor ons. Wanneer ons voel dat ons in ‘n kokon is, kan ek en jy die oorwinning van Christus se opstanding vir ons toe-eien. Ons kan met vrymoedigheid ons wend na Hom. Hy sal ons pragtige ‘vlerke’ gee sodat ons bokant ons probleme kan uitstyg. Wat ‘n bevrydende ervarvaring!

 

“’n Gesprek met God, wat begin met die erkenning dat ons verkoop is aan die sonde, hoef ons nie terneer te druk nie. God kan immers iets daaraan doen. Nee, Hy het reeds iets gedoen” (Emilie Griffin).

 

Gebed: Ons Vader, neem weg die bose begeertes uit my lewe en vervang dit met U vreugde. Gee my vlerke Here, sodat ek bokant my probleme en versoekings kan uitstyg. In Jesus se Naam tot U eer. Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page