top of page

Gedagte vir Vandag

27 April 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (73)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (19)

(Matt. 21:1–22:46)


Die gelykenis van die twee seuns (2)


Demonstreer Christenskap deur dade van geloof!


Matt. 21:28-31 – “Wat sê julle hiervan? Daar was ‘n man met twee seuns. Hy het vir die een gaan sê: ‘Seun, gaan werk vandag in die wingerd.’ ‘Ek wil nie!’ antwoord hy, maar later het hy spyt gekry en tog gegaan.’ Die man het toe na die ander seun toe gegaan en vir hom dieselfde gesê. Hy het geantwoord: ‘Goed, Pa,’ maar hy het nie gegaan nie. Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?”


Vergelyk ook Jak. 2:14-17 – “Wat help dit, my broers (en susters), as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red? Sê nou daar is ‘n broer of ‘n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: ‘Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,’ maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.”


Ons het gister afgesluit met ‘n afleiding dat ons geloof in Jesus Christus, woorde alleen tel wanneer dit tot dade van gehoorsaamheid lei. Ons het ook verwys na ons geloofsbelydenis wat meeste gelowiges uit hulle koppe kan voordra, maar wanneer dit by die toepassing, die dóén daarvan kom, is dit ‘n ander storie. Ons bely byvoorbeeld dat “ons glo aan ‘n heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges.” Wat verstaan ons onder die “gemeenskap van die heiliges?” Is dit nie dat ons gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al Sy skatte en gawes deel het, en dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend nie? (V/a 55 van die Heidelbergse Kategismus.)


Jesus bevestig dit in die Bergrede, wat ek graag Sy “grondwet van die Christendom” noem, dat “alles wat ons wil hê mense aan ons moet doen, moet ons ook aan hulle doen” (Matt. 7:12). Dit staan ook bekend as Jesus se “Goue Reël” en wat Hy eintlik sê is dat die hele Bybel hier saamgevat word met ‘n opdrag: “Om te doen” (Vgl. ook Matt. 7:21-23). Is die gevaar nie daar dat ons algaande so besitreg neem oor ons eie lewe dat God en ons naaste, ons “gemeenskap van die heiliges”, geen nut uit ons lewe ontvang nie? Gebruik ons werklik die vryheid van ons genade en gawes, tot voordeel van die koninkryk van God en ons naaste? Indien ons nee antwoord, en ek sluit myself hierby in, staan ons skuldig soos die ouer broer in die gelykenis en openbaar ons ook ‘n gesindheid van "ja-broers" maar "nee-doeners" in die gemeente.


Die geloof en dade van dankbaarheid, is beide Christen eienskappe en dit vorm saam, ons verbondenheid aan God in wie ek en jy, ons geloof in bely. “Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen veral aan ons medegelowiges” (Gal. 6:10).


In ons vergelykende teks, sien ons vandag hoe Jakobus hierby aansluit met een van die kernstukke van sy brief. Hy skryf hier aan medegelowiges en sy voorbeeld van barmhartigheidsdiens is gerig aan “sy broers (en susters).” Hy verwys na die mensewêreld in sy konkrete alledaagse ellende. Hoe sal die persoon met geloof, maar sonder werke reageer wanneer hy van aangesig tot aangesig te staan kom voor medegelowiges wat opsigtelik gebrek ly aan die mees basiese behoeftes van die menslike bestaan, wat nie hulle lyf behoorlik kan bedek teen die koue nie en nooit genoeg kry om te eet nie? Watter opsies het so iemand as hy konsekwent wil hou by altwee dele van sy teoretiese standpunt: dat hy glo, maar dat hy nie nodig het om (goed) te dóén nie?


God kom plaas deur Jakobus vir my en jou, ‘n toepassing by die beginsel – Christenskap moet gedemonstreer word deur dade van geloof! Leë woorde wat voorgee dat dit kan bereik wat alleen deur dade van barmhartigheid reggestel sou kon word, word egter ontmasker as ’n “geloof” wat nie deur dade gerugsteun word nie. Dit bly steeds leë woorde wat niks beteken nie. Ons kan baie mooi praat oor ons geloof, maar as die dade ontbreek, is die geloof maar swak.


Dade bewys nie net deernis nie maar ook geloof. Wat sal die uiteinde wees van iemand met ’n geloof wat nie deur goeie dade gewaarmerk word nie? Is dit ’n egte geloof wat tot redding bring? Die aanvanklike vraag van Jakobus: “Wat help dit?” – Watter voordeel kan dit inhou? Het dit enige waarde? Kan dit enigiets goeds bewerk vir so iemand? Dit help nie om vir iemand te sê “mag dit met jou goed gaan; gaan trek jou warm aan en eet genoeg,” en dan te gaan bid: “Gee ons vandag ons dag se brood,” nie. Die probleem kan nie as opgelos beskou word nie! Daar is nog niks aan die behoeftige se probleem gedoen nie! Die mooi geloofswoorde verander niks aan sy behoeftes nie. Die slotsom is: Wat help dit dan?” Dis tevergeefs! Só ‘n geloof het geen egtheid of betekenis nie. Dit “is sonder meer dood” sê Jakobus.


’n Ernstige vraag het trouens ontstaan, óf oor die karakter van dié God in wie hy dan sou glo, óf oor sy geloofsverhouding tot die ware God. Hoe raak dit ons? Geloof wat nie begelei word deur ’n lewensbeweging tot die goeie nie, wat geen dryfveer openbaar om na God se wil te vra en dit by die geleenthede wat hulle voordoen, met die middele beskikbaar tot uitvoer te bring nie, laat net een gevolgtrekking toe: dit het self geen lewe nie! Voor ons nie met barmhartige harte in noodlydendes se skoene gaan staan nie, sal ons nie verstaan wat hulle deurmaak nie. Jesus het Hom vereenselwig met die mense rondom Hom se nood omdat Hy werklik vir Hulle omgegee het.


Ons gemeente leuse vir 2021 is “Met my hele hart”. Ons wil elkeen wat hier lees vandag uitnooi om “met jou hele hart”, daar waar God jou geplaas het, nié ‘n gesindheid van "ja-broers en susters" maar "nee-doeners" te wees nie. “Ons kan geloof en werke, lippetaal en handetaal saamsnoer tot een magtige simfonie, tot eer van Hom wat ons die genade en gawes daarvoor gegee het” (Ferdinand Deist).

“Die eenvoudigste goeie daad is beter as die edelste goeie voorneme” (Marthe Barmenthlo).


Gebed: Here, ek wil U loof vir die genadegawe van geloof, dat U geloof in my hart geplaas het. Here, ek weet dat ek veronderstel is om my onvoorwaardelik te gee in diens aan U en my naaste, maar ek moet bely: My geloof vind nie altyd gestalte in barmhartige optredes nie. Skenk my die lewende geloof om in bereidheid met liefde te sorg en te dien om my dankbaarheid te bewys, vir dit wat U reeds vir my gedoen het. Tot eer van u Naam. Amen.


Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page