Gedagte vir Vandag
Maandag, 3 Maart 2025
Koos Espach
Adam en Christus (5)
Slegs genade, Sola Gratia
Rom. 5:15, 17 en 20 – “15 Maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk. 17 Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer. 20 Die wet het bygekom om die oortredinge nog meer te maak; en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword.”
Paulus gebruik die woord genade ‘n honderd keer in sy briewe. In hierdie gedeelte is dit treffend dat hy die woorde “oorvloed en oorvloediger” byvoeg wanneer hy God se genade beskryf. Eers keer hy weer terug op die kwessie van die wet. Sedert Romeine 3:21 wil hy aan ons tuisbring dat die mens nie gered word deur die werke van die wet nie, maar enkel uit God se genade. Die wet openbaar die diepte van ons verlorenheid en die skuld voor God. Maar, sê Paulus, gelukkig openbaar dit ook hoe groot God se genade is, “want hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword.” Hoe skerper die besef van sonde, hoe heerliker die roem in God se genade van vergifnis en oorwinning oor die sonde.
Die wet het die sonde blootgelê en daardeur getoon waarom die sondige mens onder die heerskappy van die dood verkeer. Maar dit het geskied met die doel om die mens uit te dryf na die genade en die vryspraak van die sonde. Daarom is dit treffend dat Paulus met nadruk vir ons wil wys watter ongelooflike voorreg ons gelowiges het om te kan deel in die oorvloed van genade wat God aan ons skenk. Daardeur is ’n nuwe heerskappy oor die mens opgerig – die heerskappy van die genade. Hierdie heerskappy is deur een Persoon daargestel: Dit lei ons “tot die ewige lewe deur Jesus Christus ons Here.”
Wat wil Paulus vir ons vandag sê met hierdie gedeelte? Adam se sonde het die dood van baie veroorsaak, maar Jesus se ‘verlossingsdood’ het die verandering gebring: “Die oortreding van hierdie een mens, Adam, het die dood van baie veroorsaak, maar die ander mens, Jesus Christus, het soveel meer gedoen: die genade van God, ja, sy genadegeskenk wat Hy deur Jesus Christus aan baie mense gee, oortref alles!” (v. 15). Die uitkoms hiervan is vertroostend: “Almal wat hierdie genadegeskenk van vryspraak ontvang, sal koninklik oor die sonde en die dood triomfeer” (v. 17). Koninklik triomfeer beteken ons gelowiges sal die vrug van God se vergifnis en beskerming in hierdie lewe ontvang, sáám met die belofte van die ewige lewe in God se teenwoordigheid hierna. Ek kan nie aan ‘n groter geskenk as dít dink nie!
En dan is daar steeds mense wat nie weet wat genade beteken nie. Mense wat wonder of genade die moeite werd is? Stephan Joubert som dit mooi op wanneer hy sê baie mense het nog nie die genadebladsy in God se Woord raakgelees nie. Genade is die kerk se hoop-boodskap. Dit maak sondaars lewend. Dit bied aan gelowiges wat gestruikel het ‘n tweede kans. Genade is nie net die belangrikste hoop vir hierdie deurmekaar wêreld nie, dis die énigste hoop. God se genade is die enigste ‘geneesmiddel’, en dis genoeg – slegs genade, Sola Gratia!
Om te vra of genade die moeite werd is, is eintlik ‘n dom vraag. As dit iets is wat ons moes koop om te verkry, was dit natuurlik ‘n goeie vraag, maar ons ontvang dit net, dis gratis en oorvloedig. Dis ‘n geskenk van God af. Natuurlik is die vereiste om dit te ontvang, geloof in Jesus Christus. Elkeen wat Jesus bely as die Here van sy of haar lewe, kom in aanmerking vir God se genade. God se genade is al wat regtig saak maak, dis God se meesterplan om regtig vrede vir hierdie wêreld te bring. Die wonderlike daarvan is dat God dit oorvloedig weggee. Dit hou nooit op nie. En dit is direk uit die hemel uit. Ek en jy kan maar net in verwondering hieroor staan en God dank daarvoor. Doen dit dan!
“Deur genade alleen – Sola Gratia. William Tyndale het ‘n marteldood gesterf vir hierdie oortuiging en ander wat daarmee saamhang. Martin Luther se bekende lied bevat hierdie gepaste woorde: ‘Die liggaam kan hulle doodmaak: God se waarheid sal bly staan.’ So glo ons!” (Dr. Victor Kuligin).
Gebed: Onse Vader, U genade kry ek nie met my menseverstand raakgevat nie. Tog ondervind ek dit elke oggend opnuut. Dit omvou my juis wanneer ek dit die minste verdien. Dankie dat ek niks hoef in te ruil vir U oorvloedige geskenk van genade nie. Dankie dat U genade altyd bereid is om my nog ‘n kans te gee. Amen.
Comments