top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Feb 28
  • 4 min read

Vrydag, 28 Februarie 2025

Koos Espach


Adam en Christus (4)

 

Christusfamilie

 

Rom. 5:18-21 – “Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal. 19 Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word. 20 Die wet het bygekom om die oortredinge nog meer te maak; en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword. 21 Die doel was dat, soos die sonde deur die dood heerskappy gevoer het, die genade deur die vryspraak ook heerskappy kan voer en tot die ewige lewe kan lei deur Jesus Christus ons Here.”

 

Uiteindelik bereik Paulus nou sy standpunt om die breërooreenkoms aan te toon dat ons aan twee verskillende families behoort – die Adamfamilie waarby alle mense ingesluit is, en die Christusfamilie waarvan alle gelowiges deel uitmaak. Die radikale verskil tussen hierdie twee families is dat die een familie behoort tot die sondige ou wêreld en die ander tot God se nuwe wêreld. Dit is opmerklik dat as Paulus oor Adam en die gevolge van sy ongehoorsaamheid praat, hy die verledetyd gebruik. Wanneer hy oor Christus en die vrug van sy gehoorsaamheid praat, gebruik hy die toekomstige tyd. Hoekom? Omdat die heil in Christus eers deel word van mense wanneer hulle in Hom glo.

 

Iemand vertel die storie van die dag toe Adam gesondig het, het 'n bom gebars, 'n bom baie skadeliker as enige kernbom, selfs die kernbom wat Hirosjima en Nagasaki verwoes het in Augustus 1945. Die skokgolwe van die Adamsbom ervaar ons nou nog. Die uitstraling daarvan maak ons steeds siek, letterlik tot die dood toe. Adam het, tragies genoeg, veel bereik – met een daad het hy die hele mensdom in ellende gedompel. In elkeen van ons laat die skokgolwe van die Adamsbom 'n verdere ontploffing plaasvind, met groter en groter skade – uit die een oortreding het baie oortredings gevolg met die ewige dood as loon! Mense wat aan die Adamfamilie behoort is terdoodveroordeeldes!  

 

Maar ... God kan 'n lewensbom maak, en Hy hét. Toe God se Seun mens geword het in Betlehem, het die lewensbom begin tik – “Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal.” Menslike bomeksperte het gemeen hulle ontlont die Lewensbom toe hulle Hom aan die kruis vasspyker. Toe nie! Hulle het daarmee die lont aangesteek. Jesus was besig om op daardie verskriklike Vrydag, met sy "een daad van gehoorsaamheid", Adam se "een oortreding" ongedaan te maak.

 

Drie dae later, het die lewensbom ontplof toe Jesus deur die krag van die Gees uit die graf kom. In die skokgolwe van dáárdie ontploffing kom mense tot geloof, word hulle met God versoen – Adamskinders word God se kinders. Iets soos 'n kettingontploffing gebeur ook hier – in elkeen wat glo, ontplof ‘n nuwe lewe! Die lewe van mense wat weet ons is vrygespreek van skuld, al was ons Adamskinders. Die lewensbom is uiteindelik sterker as die doodsbom. Adam se val en skuld bind ons nie meer nie, want ons is getref deur die krag van Jesus se opstanding en gehoorsaamheid. In Christus ontvang ons “die ewige lewe en heerskappy.”

 

“Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal.” En dit is geloof waaraan ons moet vashou, geloof waarvan die hoop nie beskaam nie (Rom. 5:5): Die oortuiging dat God se genade in my lewe gewen het teen die sonde; God spreek my in Christus vry. Die lewe wat God my gee, is sterker as die dood wat ek vir myself verdien het. Christus se daad van gehoorsaamheid, maak my deel van daardie gehoorsaamheid. En as God in my, selfs in mý kan oorwin, waarom dan nie in jou ook nie? Waarom dan nie in baie, baie mense nie? Want ek is ook mos Adamskind, ook mens, nes jy!

 

“The gospel is this, the power of God is more powerful than the power of sin. Christ is much more powerful than Adam in us” (Edward Markquart).

 

Gebed: Hemel Vader, dankie dat U genade groter is as die sonde, ook die erfsonde. Dankie dat U ‘n God is van groot genade, dat U alle sonde reinig in die bloed van Christus. Dit is ‘n onbeskryflike troos om te weet dat Jesus in die plek van Adam gekom het, dat ek kon opstaan omdat Hy opgestaan het ... en dat ek mag glo dat sy opstanding nog méér mense sal laat opstaan. Dankie Jesus dat U my uit die sonde-lewe bevry het, en my weer ’n lewe saam met God gegee het, ’n lewe waarin ek uiteindelik al die ellendes van nou, finaal sal agterlaat. Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

Comentários


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page