top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Feb 27
  • 4 min read

Donderdag, 27 Februarie 2025

Koos Espach


Adam en Christus (3)

 

God se genade is geskryf met Jesus se bloed

 

Rom. 5:14b-17 – “Daar is ‘n ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, 15 maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk. 16 En met die gawe van God is dit anders as met die sonde van die een mens. Op die oortreding van die een mens het die oordeel gevolg en dit het tot veroordeling gelei, maar op die baie oortredings het die genadegawe gevolg en dit het tot vryspraak gelei. 17 Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer.”

 

Paulus val homself jou werklik wéér, vir die soveelste keer in die rede. Voordat hy die ooreenkoms tussen die Adamfamilie en die Christusfamilie aantoon, wil hy eers wys hoe groot die verskil is wat die genade van God maak. God skenk Sy genade in oorvloed wat nie net Adam se sonde, maar ál ons sondes bedek. God se “genade en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk.” Adam is per slot van rekening nie die belangrikste figuur in die geskiedenis van die mensheid nie, maar Christus. Dit is wat Paulus in sy argument wil beklemtoon. Adam is self ’n heenwysing na Christus wat kragtens God se raadsplan van ewigheid af bestem is om die nuwe mensheid in Homself in te sluit en te verteenwoordig (Ef. 1:4).

 

Die misdaad van Adam en die genade in Christus is egter nie vergelykbaar nie. Ons moenie vergeet dat Adam ons eintlik in die sondeval ‘verteenwoordig’ terwyl Christus ons aan die kruis verteenwoordig. Deur die één mens, Jesus Christus, is veel meer bereik: “diegene wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer.” Die heerskappy van die lewe is soveel meer, soveel heerliker as die heerskappy van die dood.

 

Die verskil tussen die heerskappy van die dood en heerskappy van die lewe het, ironies, alles in ‘n tuin begin. Die las van die mens se sonde het in die Tuin van Eden begin. Daar het Adam tot ‘n val gekom en gaan wegkruip vir God; in die Tuin van Getsemane tree Jesus op die voorgrond en neem standpunt in, gaan kruip nie weg nie maar gaan die geregsdienaars tegemoet; in Eden het God na Adam gesoek, in Getsemane worstel Jesus met God en soek na sy Vader in gebed; in Eden het satan vir Adam na ‘n boom geneem wat tot sy dood gelei het, in Getsemane kon Jesus se bloed nie daar die volle prys vir ons sonde betaal nie; en Jesus moes gaan na die kruis wat uit ‘n boom gemaak is, wat tot ons lewe gelei het!

 

Bestaan daar ‘n plek, ‘n “tuin” in hierdie wêreld waar satan nog nie ingemeng het nie? Satan en sy makkers maak hulle oral tuis en teer op sondige begeertes – in die skole, kerke, gemeenskap, ons beloftes, ons reinheid, ons gedagtes, ons morele waardes, ons menswees. Sy vernaamste teenstanders is ons harte, die harte van Christengelowiges, die ‘tuin’ van God! Wat satan in Eden gedoen het, doen hy vandag nog; hy werskaf veral in die tuin van God. Die goeie nuus, daarenteen, is dat mense die keuse het om te sorg dat satan nie oral aanwesig is nie, maar dat God is!

 

Wat Jesus in Getsemane gedoen het, doen Hy vandag nog – Hy staan in vir ons Christengelowiges, Hy beskerm ons teen satan, “ons sal in alle ewigheid nie verlore gaan nie. Niemand sal ons uit Jesus se hand ruk nie” (Joh. 10:28). Adam se dinge is dalk nog in ons lewe teenwoordig, maar is nie meer baas oor ons nie, “die dood voer nie meer heerskappy oor ons nie.” Dit wat Christus gedoen het, is altyd meer en oorvloediger: “Deur Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer.” Christus se optrede in my en jou lewe, het die oorhand. Dis genade – peperduur genade. God se genade is geskryf met Jesus se bloed. Ek en jy kan met hierdie genade, ons lewe in beheer neem, “en heerskappy voer,” en vrede hê in ‘n deurmekaar wêreld! 

 

“Soos Adam was Jesus ook in ‘n tuin. Adam het homself en die hele menslike geslag van alle eeue in die paradystuin prysgegee aan die verderf. Maar Jesus het in ‘n tuin van pyn die hele menslike geslag van alle eeue gered, en Homself prysgegee” (Blaise Pascal).

 

Gebed: Hemel Vader, ek is só bevoorreg om aan die ontvangkant van U oorvloedige genade te kan staan. Die weelde en rykdom daarvan is deur Christus se Naam, myne! Maak my elke dag genoeg bewus daarvan dat hierdie “oorvloed van genade” en seën vir my beskikbaar is en laat my dit uitleef na ander. Dankie dat U beheer oorgeneem het met die instandhouding van my ‘tuin.’ Dankie Jesus van Nasaret, dat U God se genade op my drumpel kom aflaai het. Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

Comentarios


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page