top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Feb 25
  • 4 min read

Woensdag, 26 Februarie 2025

Koos Espach


Adam en Christus (2)

 

Oorvloedige genade, onbeskryflik groot

 

Rom. 5:12-14 – “Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het. 13 Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie ‘n wet is nie. 14 Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie.” (2)

 

Hoe verstaan ek en jy die feit dat ons van nature deel is van die Adamfamilie? Paulus stel dit duidelik dat die dag toe Adam misluk het, het ons almal misluk. Sy val was ons almal se val, sy skuld ons almal se skuld. Na Adam staan elkeen van ons skuldig voor God. Daarom het ons ook nie 'n kans nie: Soos Adam die doodstraf gekry het, staan elke mens onder 'n doodsvonnis. Hierdie harde oordeel spring geen mens vry nie.  

 

Die wet van Moses staan teenoor die genade en waarheid in Christus – die ou bedeling het plek gemaak vir die nuwe, en Moses teenoor Jesus. Deur Moses het God die wet aan sy volk gegee. Dit was 'n wonderlike onthulling wat God se wil vir die mens is, en ook wat God se goedertierenheid teenoor die mens is. Moses was maar net die bemiddelaar deur wie God sy wet gegee het. Daardie wet was wel die openbaring van die waarheid, maar nie van die genade nie. “God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom” (Joh. 1:17). 

 

Christus is óók as Middelaar gegee, maar meer nog, Hy is as dié Een wat persoonlik aarde toe gekom het en self die volheid van “die genade en die waarheid” is. Hierdie “waarheid” is meer as die ware kennis; dit is ook die vasstaande, werklikheid van die liefde en trou van God. Juis dít is die kenmerk van die nuwe bedeling – dít is ’n tyd van genade. Die genade wat deur die Woord, Jesus Christus aarde toe gekom het. “In Hom is die volle wese van God beliggaam, en in verbondenheid met Hom deel ons in sy volheid” (Kol. 2:9).  

 

Die vraag waarmee Paulus ons eintlik konfronteer, is of ons nog deel is van Adam se familie, of is ons ten volle deel van Christus se familie? Daar hang ’n doodsreuk oor die Adamfamilie. As ek en jy nog aan hierdie familie behoort, is ons terdoodveroordeeldes! Ons is lyke wat ’n doodsreuk saam met ons sleep in alles wat ons doen en sê. Dit is dalk die rede dat baie van ons se huwelike, familie verhoudings en baie ander verhoudings halfdood is. Ons kan nie waarlik leef nie, want die sonde maak ons dood vir alles en almal!

 

Die alternatief is natuurlik om deel te wees van die Christusfamilie. Oor hierdie familie hang daar nie ’n doodsreuk nie, oor hulle sweef die vars, veranderende reuk van God se goedheid en genade. Hierdie genade is veel groter en méér as die sonde – dit verander in die weelde van genade op genade, oorvloedige genade – genade wat al ons sondes volkome toemaak en ons skatryk laat, ons ware genade-biljoenêrs maak.

 

Dis nooit vir enigeen lekker om te hoor dat ons van nature deel is van die sondige Adamfamilie nie. Dis eintlik ‘n klap in die gesig. Dit maak ons selfbeeld seer. Alhoewel daar baie ‘familietrekke’ in ons daaglikse doen en late waargeneem kan word, is ons geskep om deel van God se familie te wees. God het reeds voor ons geboorte beplan dat ons deel van sy familie moet wees. Paulus skryf: “In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees” (Ef. 1:5). 

 

Die oomblik toe ons geestelik in God se familie gebore is, het ons deel gekry aan ‘n verstommende ‘verjaarsgeskenk’, deel van ‘n erfenis: “Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir (ons) in bewaring gehou word” (1 Pet. 1:4). Dit beteken ons erfenis as familie van God is onskatbaar, dis permanent, dis suiwer en beskerm. Niemand kan dit van ons af wegvat nie, nie eens ‘n swak ekonomie nie. Om deel van God se familie te wees, is die hoogste eer en voorreg wat ons ooit kan of sal ervaar. Niks kom eens naby dit nie. As ek en jy die dag onbelangrik, ongeliefd of selfs onseker voel, moet ons net onthou aan Wie ons behoort.  

 

“Wat ook al met ons gebeur, niks kan die feit verander dat God ons Vader is, dat Hy ons liefhet, en dat Hy intens in ons belangstel soos ‘n pa in sy kind” (David Martyn Lloyd-Jones).

 

Gebed: Dankie Vader dat U genade en waarheid vir my die Evangelie kom oopsluit het. Op U kan ek vertrou want U skenk my insig in die kern van die Evangelie – om te kan glo in Jesus Christus en daardeur het U “genade onbeskryflik groot, aan my bewys. Ek was ‘n verlore mens – ‘n wegloopkind, maar nou is ek weer in die Vaderhuis” (Liedboek 510). Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page