top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Feb 24
  • 4 min read

Dinsdag, 25 Februarie 2025

Koos Espach


Adam en Christus (1)

 

Aartjie na sy vaartjie

 

Rom. 5:12-14 – “Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het. 13 Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie ‘n wet is nie. 14 Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie.” (1)

 

Paulus keer nou eers weer terug na die onderwerp van die sonde om die ooreenkomste en die verskille tussen onverloste en gelowiges te verduidelik. Hy trek vir Adam nader om daarmee die algemene reikwydte van die sonde sowel as die vryspraak te illustreer. Eerstens verwys hy na Adam as alle mense se stamhoof, alle mense is ingesluit by die Adamfamilie. Vóór ons verlossing behoort ons almal aan hierdie familie want ons familiehoof, Adam, is die “een mens deur wie die sonde in die wêreld gekom het, en so het die dood tot alle mense deurgedring.” Adam se ongehoorsaamheid het die sonde en sy verskriklike “agterryer”, die dood, in God se wonderlike skepping ingebring!

 

Net sodra ons dink Paulus gaan sy stelling omtrent Adam verder voer, val hy homself in die rede om eers die posisie tussen Adam en Moses te verduidelik. Hy maak dit duidelik dat die afwesigheid van die wet nie beteken het dat daar geen sonde was in dié tyd nie. Sonde is ’n universele probleem – dit raak nie net die Jode nie, die dood as loon van die sonde het tot álle mense deurgedring (Rom. 3:23). Adam se sonde was ’n vrywillige, opsetlike oortreding van ’n uitdruklike gebod van God.

 

Die sonde van ons as Adam se nakomelinge was, en is anders. Ons kan dit nie meer vermy om te sondig nie. Die sonde het deel van ons lewe geword. Ons het dus nie gesondig op dieselfde manier as Adam nie, omdat ons nie meer vry was om die goeie te kies nie. Álmal het egter as gevolg van die sonde van Adam in ’n lewensbestaan van sonde verval waarvan die dood die logiese einde is.

 

Ons kan dalk redeneer: “Maar Paulus, dit is vernederend om my deel van die Adamfamilie te maak, dit is lánk voor my tyd! Ek kan nie skuldig staan vir sy verkeerde dade nie! Ek kan nie mede-skuldig wees aan 'n oortreding wat ek nie self gepleeg het nie. Ek is 'n mens op my eie, met my eie keuses en eie foute, my eie smake en my eie drome, my eie geloof ook. En daar is baie, soos Adam, met hulle keuses en foute en smake en drome en geloof; en nog verder is daar "die ander" met hulle vreemde smake en gelowe ... maar gelukkig hoef ek nie te veel met hulle te doen te hê nie.” Verkeerd! Ons is almal sondaars. Alles as gevolg van ons oer-oupa Adam se ‘erfporsie’ wat hy vir ons nagelaat het.

 

So kyk ons dikwels na die mensdom: 'n Klomp losstaande enkelinge wat elkeen sy eie ding doen. Paulus praat hier oor die manier waarop God met ons mense werk. God het ons nie gemaak as 'n klomp individue wat elkeen sy eie ding doen nie. God het die mensdom gemaak as 'n eenheid. Ons het net een oorsprong – die skeppingsdaad waardeur God die mens gemaak het; ons het maar een doel – geskep om God se beeld, sy verteenwoordiger te wees (Gen. 1:26). Ons kan ons doel nie een-een bereik nie, maar net as ‘n eenheid, daarom het God ons so nou aan mekaar gebind. Ons is verbonde – wat een doen, raak almal – aartjie na sy vaartjie!

 

Die sonde en die dood teister die hele wêreld sedert die tyd van Adam en die onverloste mense van alle eeue word deur Adam se ‘erfporsie’, deur die ewige dood ingesluk. Gelukkig het Jesus Christus op die toneel verskyn om die gevolge van Adam se gemors op te ruim. Jesus het deur sy optrede, die mag van die sonde en die dood oorwin. Terwyl ons almal sondaars was, het Christus vir ons gesterf: “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus” (Rom. 3:23-24). Ek en jy behoort nou aan die Christus-familie waarby alle gelowiges ingesluit is, nie meer die Adam-familie nie. Almal in een: in Adam of Christus. Daar is geen alternatief nie. Die keuse is elkeen s’n om te besluit waar hy of sy wil wees. 

 

“Geen mens is so ver verlore dat Jesus hom nie kan vind en kan red nie” (Andrew Murray).

 

Gebed: Onse Vader, sonde verinneweer, verneder en verwoes. Dankie Vader, dat U nie alleen sondes vergewe nie, maar dat U nooit weer daaraan dink nie. Dankie Jesus dat U Adam se sondes kom neutraliseer het. “Halleluja! Ek loof U, Heer; U daal in my ellende neer, o Jesus, my Verlosser! Vir my as sondaar, het U gesterf, en my lewe deur U dood verwerf. Daarom roem ek in U as my Verlosser” (Liedboek 449:2, effens aangepas). Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

コメント


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page