top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Feb 20
  • 4 min read

Vrydag, 21 Februarie 2025

Koos Espach


Die vrug van die vryspraak (10)

 

Die kruis gaan saam met ons die toekoms in

 

Rom. 5:6-8 – “Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 7 ’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ‘n regverdige nie. Ja tog, vir ‘n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. 8 Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”

 

Paulus gaan voort met sy redenasie deur terug te keer na die verlede, die verlede wat ons ken. Ons Bybellesers weet mos van al die wonderlike dinge wat God se liefde vir ons in die verlede gedoen het. Die belangrikste natuurlik, toe ons nog magteloos, goddeloos en sondig was, het Christus die onbegryplike gedoen. Hy het vir ons gesterf! Ons was nog ‘vervreemd’ van God toe Hy die inisiatief geneem het om ons wat nog sondaars was, met Hom te versoen.

 

Wat God gedoen het, is ‘n oortuigende bewys dat Hy ons nie in die steek sal laat nie. God het self die tyd uitgekies om Christus te laat sterf: “Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe.” By die bewerking van ons verlossing, is God deur niemand anders of enige faktore van buite beïnvloed vir sy daad nie. Trouens, God se liefde en genade is die enigste bron waaruit ons verlossing stem. “God bewys Sy liefde vir óns hierin dat Christus vir óns gesterf het toe óns nog sondaars was.” Hy het nie vir óns gesterf ómdat ons sondaars is nie, maar omdat ons óns is, sondaars wat Hy liefhet.

 

Is dit nie genoegsame bewys van God se liefde vir ons nie? Die bewys lê daarin dat God ons so liefhet dat Hy sy enigste Seun vir ons gegee het ... (Joh. 3:16). Hy het ‘n afkeer in ons sonde, maar tegelyk het Hy ons só lief dat Hy ons nie oor ons sonde wil laat verlore gaan nie. Opvallend dat Paulus dan skryf dat “God bewys sy liefde (nou) vir ons hierin dat Christus vir ons gesterf het ...” Dit was tog lank gelede, hoe kan God nog steeds sy liefde deur die kruis bewys?

 

Omdat die kruis saam met my en jou wat hier lees, die toekoms ingaan. Hoe gebeur dit? Deur die verkondiging van die evangelie word die kruis gebring tot by ons – “Jesus Christus is tog so duidelik aan ons verkondig dat ons Hom as’t ware aan die kruis kon sien hang” (Gal. 3:1). Tydens die nagmaal beleef ons gereeld die werklikheid van die kruis. Die kruis is oral te sien op ons paaie, in dorpe en stede, hangertjie om mense se nekke, alles deel van die getuienis en bewys van God se liefde vir ons.

 

Maar, het God dan nie sy Seun liefgehad nie? Is Hy die God van liefde maar tog die harde, wrede God wat net eis? “’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie,” en tog moes Jesus ‘tussenbeide’ tree tussen God en ons om God se gesindheid te verander. Nee, dit werk nie so nie! God neem self die inisiatief om sy oordeel oor ons terug te trek (Joh. 3:16). God het ook nie ons liewer gehad as wat Hy sy Seun het nie. God het gewéét sy Seun, Jesus Christus ons Here, is in staat om die offer te bring wat ons nie kan bring nie. God het gewéét sy Seun kan die dood oorwin, terwyl ons onder sy oordeel verlore sal gaan. God wéét sy Seun het ons net so lief soos Hy! Daarom het Hy die “moed gehad om vir ons te sterwe.”

 

Dit word vertel van ‘n klein dogtertjie se enigste hoop op genesing was, om dringend ‘n bloedoortapping te kry. Haar jonger boetie het dieselfde seldsame bloedgroep gehad en die geneesheer het hom gevra of hy sy bloed vir sy sussie sou gee sodat sy kan lewe. Met ‘n bewende lippie het hy nie geaarsel nie en die twee is saam die hospitaalkamer ingestoot – Maria skraal en bleek; Johnny bang en gesond. Toe hulle oë ontmoet, het hy vir haar geglimlag. Toe die bloedoordrag byna voltooi is, vra Johnny: “Dokter, wanneer gaan ek doodgaan?” Johnny het gedink hy gee sy lewe prys om sy bloed vir sy sussie te gee. Gelukkig moes Johnny nie sterf om sy sussie te red nie!

 

Elkeen van ons het ‘n ‘siektetoestand’ wat baie erger is as Maria s’n en dit het van Jesus Christus geverg om nie net sy bloed nie, maar ook sy lewe te gee om ons te “genees!” Omdat Jesus ‘n vervloekte van die kruis geword het, is daar nou vir my en jou hoop en ‘n toekoms by God. Ons kan nou agter Jesus skuil. Sy kosbare bloed het ál ons oortredinge en sondes bedek. Al wat ons moet doen, is om dit te glo, en God spreek ons heeltemal vry. God hef met ander woorde, ons doodsvonnis op. Ons is vry. Omdat Jesus in my en jou plek God se vloek gedra het, kan ons nou as vrygespreektes voor God staan. Dankie Here!

 

“Die sterwende Christus is die bewys van die woede van God teenoor die sonde; maar die lewende Christus is die bewys van God se liefde, genade en vergifnis” (Lorenz Eifert).

 

Gebed: Ons Vader, mag U liefde, my liefde word. U liefde is so groot, so magtig, so begerig. Stel my in staat om U met my hele hart, lief te kan hê. Help my om hierdie liefde verder uit te dra. Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

댓글


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page