Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Feb 20
- 4 min read
Donderdag, 20 Februarie 2025
Koos Espach
Die vrug van die vryspraak (9)
Die Gees wek die liefde in ons
Rom. 5:5 – “Die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” (2)
So ietsie meer oor Andrew Murray wie ons gister daaraan herinner het dat die ‘pad van die liefde’ nie in ons eie krag lê nie. Hy het ook gesê dit is ‘n gawe van God wat feitlik elke dag in ons lewe, deur die Heilige Gees hernu moet word. Deur die werking van die Heilige Gees kom die liefde van God in ons lewe tot volle werking, want, “God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”
Dis ongelukkig ‘n feit soos ‘n koei dat hierdie verskeurde wêreld waarin ons woon, dringend liefde nodig het. Nog ‘n feit is dat God die Heilige Gees, volgens Paulus, in ons harte uitstort. Dit is deur God se liefde dat Hy vir ons die Heilige Gees gegee het. En net so seker as wat Hy sy Gees gegee het, sal Hy ook sý liefde skenk. Dan kan ons met reg vra: Hoekom ervaar ons hierdie waarhede, hierdie feite, so selde?
Is dit nie miskien omdat ons nie opreg glo nie? Maar God weet gelukkig van ons onvermoë om soms opreg te glo. God weet ons het tyd nodig om te glo in die magtige werk van die Heilige Gees. Hy weet ook dat ons tyd nodig het om terug te trek uit hierdie wêreld en sy belange. Ongelukkig gaan ons dit nie alleen regkry nie. En hier kom Paulus weer tot ons aansporing. Hy sê “ons is tot alles in staat deur Hom wat ons krag gee” (Fil. 4:13). As ons glo in die krag van God en sy groot liefde vir ons, sal ons kry wat ons vra, dit is, “die liefde van God, in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees.”
God verlang dat ek en jy Hom met ons hele hart en met al ons krag lief sal hê. En weereens weet Hy hier ook van ons onvermoë om dit reg te kry. Daarom het Hy sy Gees aan ons gegee wat ons hiermee sal help. Solank ons vertrou op ons eie krag en vermoëns, sal ons altyd wegskram van enige uitdaging wat na ons toe kom. En dit is hier waar die “Gees wat in ons harte uitgestort is,” ons sal help om God op te soek en tyd saam met Hom deurbring in aanbidding en lofprysing. Met respek gesê, dis die Gees se job.
Natuurlik is dit nou ons job, ons verantwoordelikheid as gelowiges, om met die Heilige Gees saam te werk. Dit help nie ons sit nou soos passiewe toeskouers op die pawiljoen en kyk hoe die Gees werk nie. Ons moet Hom toelaat om ons te verander. Ek dink dit was Stephan Joubert wat gesê het die Heilige Gees is God se “binneversierder.” Ons moet daarom die Gees toelaat om sy versieringswerk in ons lewe te kan doen. Ons mag nie ons ore toedruk wanneer Hy ons op die regte pad wil lei nie. Hoe doen ons dit? Dit is noodsaaklik om positief te raak in hierdie “negatiewe” wêreld wat ons in woon.
Die Gees sal ons leer om in God se liefde te bly soos ‘n kind. Ek en jy moet die Gees vra om vas te stel of daar negatiewe dinge is wat ons lewe oorheers, en dit biddend voor God neerlê. Die Gees sal ons lei om haat met liefde te vervang; rusie met vrede; teenspoed met voorspoed. Die Heilige Gees wil ons help om die positiewe na te jaag. Hy wil ons leer wat dit beteken om elke dag in Christus se liefde te bly en hoe om hierdie liefde te bewys aan ‘n stukkende wêreld.
Die Heilige Gees “wat God met sy liefde in ons harte uitgestort het,” wil ons lewe tot ‘n sieraad vir God maak. Dit is sy werk. Hy maak ons vry van negatiewe dinge om God positief, met oorgawe te dien. God het ons sy Gees gegee om heeldag en heelnag by ons te wees, 24/7. Ons het Hom die nodigste in ons alledaagse werk, ons gedagtes, ons álles, want die wêreld het die vermoë om ons van God af weg te trek. As ons Hom biddend toelaat om sy werk te doen, sal Hy ons harte ‘n fontein van ewige liefde maak, tot seën vir almal met wie ons te doen het. Ons kan Hom daarvoor met kinderlike geloof vertrou!
“Wanneer ons té sterk voel, moet ons ons eie swakheid onthou. Wanneer ons té swak voel, moet ons die krag van die Heilige Gees onthou” (Sir Thomas More).
Gebed: Wat ‘n wonderlike wete Gees van God, dat ek onder die bestuur van U staan. Omskep my in ‘n sieraad van God. Maak my tot seën vir almal met wie ek in aanraking kom. Leer my om meer tyd te maak om in U heerlike teenwoordigheid te wees. Amen.
Comments