top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Feb 19
  • 4 min read

Woensdag, 19 Februarie 2025

Koos Espach


Die vrug van die vryspraak (8)

 

Die liefde van God in ons hart

 

Rom. 5:5 – “Die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” (1)  

 

Paulus het tot dusver vir ons beskryf hoe bevoorreg ons is. Bevoorreg, net omdat ons glo! Ons is skatryk sê hy. Ons het sóveel geskenke ontvang van ons hemelse Vader, en álles is verniet, gratis, mahala! Wat het ons ontvang? Daar is nou vrede tussen ons en God; daar is nabyheid en toegang tussen ons en God; daar is hoop, gegrond in God se almag; ons kan vasbyt, volhard, nie sommer tou opgooi nie; daar is blydskap selfs in swaarkry; ons geloof is nou eg, nie oppervlakkig nie, en dit alles lei na die liefde – liefde vir God en liefde vir ons naaste.

 

Die ironie hiervan is dat dit alles verniet is. Alles is genade, gratis geskenke van God. Kan ek en jy vir meer vra? John Baker, eertydse Britse biskop sê ons hoef nie eens te probeer om die toe deur na God toe oop te sukkel omdat dit nog gesluit is nie, of selfs die deur oop te beur nie. Nee, God is volmaak. Hy gee volmaakte geskenke – ons is klaar binne – “God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” 

 

“God het sy liefde in ons harte uitgestort ...!” Sjoe, wat ‘n geweldige geestelike ervaring wat God in ons lewe meebring! En dit gee ons hoop. Maak nie saak wat verkeerd gaan in die lewe nie. Christus leef binne ons deur sy Gees. Ons lewe het spreekwoordelik ‘n hele omwenteling ondergaan. Dit inspireer ons denke, verbreed ons uitsig op die lewe, gee nuwe vertroue. Hoekom? Dit is alles deel van die Heilige Gees se werk. Ons hoop is gegrond daarin dat die Gees ons hierdeur wil verseker van ons verbintenis met God, die Bron van ware liefde.

 

Die vraag is egter nou of hierdie liefde wat in ons harte uitgestort is, geanker is in die werklikheid? Wanneer ons met ander woorde sê dat ons God liefhet, sê ons ook dat ons liefde dieselfde is vir ons naaste, selfs ons vyande (dis die moeilike een)? Kom dit tot uiting in ons woorde en gesindheid teenoor ander? Is die eise van die liefde dan nie onbereikbaar, dalk te hoog vir ons nie? En omdat ons dit feitlik onmoontlik ag, maak ons maar min vordering op die pad van die liefde (my opinie).

 

Andrew Murray herinner ons daaraan dat die ‘pad van die liefde’ nie in ons eie krag  lê nie. Nee, dit is ‘n gawe van God wat feitlik elke dag in ons lewe, deur die Heilige Gees hernu moet word. Deur die werking van die Heilige Gees kom die liefde van God in ons lewe tot volle werking, want, “God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”

 

Namate ek en jy die volle verantwoordelikheid vir ons geloof in die Gees aanvaar dat die Gees ons inspirasie en Leermeester in die liefde is, sal ons toelaat dat Hy ons elke dag met sy liefde vul en volgens sy wil begin leef. En dit is nie so maklik nie! Om heeltemal onder die leiding van die Heilige Gees te leef wat ons in staat stel om die wil van God uit te voer, is ‘n tall order. Ons ou persoonlike willetjie word nie sommer net afgeskryf nie.

 

Maar daar is hoop! “Die hoop beskaam nie,” sê Paulus. En hy is reg. Jesus Christus het deur sy Gees sy kruisliefde in ons harte uitgestort. As ons só daaraan dink, word dit makliker om lief te word vir iemand wat ons voorheen nie ‘kon vat nie.’ Indien dit nog moeilik is, kan ons saam met Paulus bid: “Ek kniel in gebed voor U Vader en ek bid dat U deur U Gees uit die rykdom van U heerlikheid, aan my, die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in my hart sal woon en dat ek in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag ek sy liefde ken, liefde wat my verstand te bowe gaan” (Ef. 3:14-17, 19).

 

Tensy ons hierdie boodskap uit God se Woord nie ons eie maak  nie en tensy ons nie elke dag op ons knieë voor God buig en Hom vra om ons hierin te versterk nie, is dit feitlik onmoontlik om “God se Heilige Gees wat Hy in ons harte uitgestort het,” se wil toe te pas. ‘n Lewe van gebed sal ‘n lewe in die liefde van Christus, in die liefde vir mekaar, ‘n lewende werklikheid maak.

 

“Die mens wat waarlik liefhet met die liefde van Christus, skep ‘n paradys op aarde: hy het God in sy binneste, want God is liefde” (Robert de Lammanais).

 

Gebed: Vul my hart met die liefde van God, o Gees van liefde, sodat ek elke dag van my lewe in hierdie liefde sal optree. Om Jesus ontwil. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page