Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Feb 17
- 4 min read
Dinsdag, 18 Februarie 2025
Koos Espach
Die vrug van die vryspraak (7)
Egtheid van geloof lei ons deur beproewing na oorwinning
Rom. 5:3-4 – “Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4 en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop.” (3)
Vergelyk ook Jak. 1:2-4 – “My broers (en susters), julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, 3 want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. 4 En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”
Deur beproewing word ons geloof gelouter en sterker gemaak! Swaarkry bring voordele wat lekker behoort te wees. Maar kan “volharding, egtheid van geloof en hoop”, lekker wees? Tydens beproewing en lyding kan ons wel bly en vol moed wees, hoop hê. Paulus sê so. Ons moet steeds bid, aanhoudend bid, dat ons tot die einde toe standvastig sal bly in die geloof.
Om Christen te wees is nie altyd maklik nie. Ons vra dikwels: “Waarom gebeur slegte dinge met goeie mense? Waarom ly party meer as ander? Waarom moes dit met mý gebeur?” En die antwoorde bly weg! Ons moet egter bereid wees om kruis op te neem en nie saam met die doemprofete ons hande in wanhoop die lug ingooi nie. Ons Christene is kruisdraers – maar dan tog ook ‘n kruis dra wat vreugde meebring – geen kruis, geen kroon!
Hierdie kontras – vreugde te midde van pyn en lyding – is vir die wêreld onverstaanbaar. Hoekom? Die wêreld ken nie vir Jesus Christus nie. Hulle is die pessimiste wat geen goed in die wêreld kán sien en soos doemprofete verkondig dat die toekoms omsluier is in verdoemenis en hulpeloosheid. Dit is hulle wat nie wil aanvaar dat Jesus Christus, die vol-kruis en gruwel van “Donker Vrydag”, in “Goeie Vrydag” omskep het en daardeur God se almag soos nog nooit tevore, in ‘n kaal-kruis van Paassondag verander het.
Toe Jakobus, (broer van Jesus), oor swaarkry en blymoedigheid aan die woord gestel is, was hy besorgd dat ons gelowiges gaan afdwaal, daarom moedig hy ons aan om met ‘n ander perspektief daarna te kyk. Ons kan nie by die kruis vertoef nie, nee, ons moet verby die kruis kyk, tot by die anderkant van die leë graf van die opgestane Jesus. Dis waar ons geestelike groei ontwikkel. Vir ons geestelike groei is beproewing belangrik omdat dit ons leer om in die geloof te volhard. Geloofsvolharding volg wanneer versoeking nie meer ‘n houvas op ons het nie en ons in ons hoop, laat groei. Ons kan die uitdagings van die lewe dan makliker met vreugde aanpak.
Dit is teen die grein van ons menswees om “ons te verheug in die swaarkry, om bly te wees wanneer allerlei beproewings oor ons kom.” Dit gaan egter nie oor die blydskap as sodanig nie, maar die positiewe gevolge daarvan. Christus het reeds alle beproewings wat ons kán tref, weerstaan en oorwin, ons moet net aan Jesus se belofte vashou en toelaat dat die “die Gees van die waarheid, ons in die hele waarheid sal lei” (Joh. 16:13). In alle omstandighede gaan dit egter net oor ons geloof daarvan.
Dis menslik om te wonder of ons verhouding met God geraak word wanneer dit sleg gaan met ons? Raak ons moedeloos en begin ons twyfel in God se bestaan? Wend ek en jy ons toe tot wêreldsdinge en bronne? Gee ons m.a.w. toe aan die druk van omstandighede en wil ons eerder ‘vergeet’ van God?
Die antwoord lê daarin dat “die volharding moet end-uit volgehou word sodat ons tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.” Ons moet dus geestelik groei in geloof, sodat versoekings nie meer ‘n houvas op ons kan kry nie. Énige verhouding groei deur interaksie met die Heilige Gees. In ons swaarkry ervaar ons die werklike betekenis van gemeenskap met God en namate ons in ons omgang met God volhard, raak ons ryper Christene en die Gees help ons om “God te dien sonder enige tekortkominge.” Hoeveel keer het ons nie al gehoor: “Ja, dit gaan nie lekker met my nie. As dit egter nie vir my geloof in God was nie, sou dit nog slegter gegaan het!”
Dit is die Gees van God wat aan ons, deur Jesus Christus, die geloofsoorwinning gee sodat ons ook saam met Paulus, die geloofsmarathon met sukses voltooi en kan sê: “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou” (2 Tim. 4:7). Ons Christene moet net vasbyt in die geloof soos die atleet van die Hebreërs skrywer: “... laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:1). Jesus Christus en sy leë kruis, is die Enigste grond van ons hoop!
“Die grootste geloofstoets op aarde is om lyding en swaarkry te verduur sonder om moed te verloor en te bly hoop” (Anoniem).
Gebed: Dankie Here dat U ook die Here is van die lydendes sonder moed. Ek verstaan nie altyd die ‘waaroms’ van die lewe nie en dan moet ek in skaamte bely dat ek weet ek is nie alleen nie. U het mos belowe om my nooit in die steek te laat nie. Wanneer ek voel die lewe druk, skenk my die moed om my lyding te dra en my onsekerheid, met hoop te vervang. Om Jesus ontwil. Amen.
Recent Posts
See AllDinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...
Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...
Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...
Comments