Gedagte vir Vandag
Vrydag, 14 Februarie 2025
Koos Espach
Die vrug van die vryspraak (5)
In God se brandkluis
Rom. 5:3-4 – “Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4 en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop ...” (1)
Ons het gister gesê dit is nie belangrik hoe ek en jy ons verheug, hoe ons jubel in die heerlikheid wat God vir ons (eendag in die toekoms) bestem het nie. Ons verheug ons ook in die hede. Vandag, wat maak ons met vandag? In hierdie verband skryf Paulus nou iets vreemds: “ons verheug ons ook in die swaarkry ...,” Nee Paulus, dit maak nie sin nie. Hoe kan swaarkry nou deel uitmaak nadat God ons vrygespreek het omdat ons glo? (v. 1). Blydskap en swaarkry hoort mos nie bymekaar nie.
Paulus wil ons dan gerusstel – ‘n Christen weet wat in God se ‘swaarkry-skool’ gebeur. Dit maak sterk. Dit leer ons om te volhard. Dit leer ons om vas te byt! Dit leer ons om te bid! Dit is ‘n suiwering van ons geloof – dit verwyder al die onsuiwerhede. Soos alle onsuiwerhede uit goud verwyder word, verwyder God alles wat onsuiwer is van ons geloof. Petrus sluit hierby aan: “Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan” (1 Pet. 1:6-7a). Jakobus voeg by: “... as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard” (Jak. 1:3).
Wanneer “ons geloof die toets deurstaan het,” eg en heeltemal onvoorwaardelik op God gerig is, kweek dit hoop sê Paulus. Die waarheid is, ons ou mensies sukkel om ons te verheug in ons swaarkry, en dit alles ter wille van ons geloof. Ons verdien dit mos nie. Waarom laat God dit toe? Die Living Bible beskryf dit miskien duideliker: “We can rejoice, too, when we run into problems and trials for we know that they are good for us – they help us learn to be patient. And patience develops strength of character in us and helps us trust God more each time we use it until finally our hope and faith are strong and steady.” Wat uiterlik in ons lewe gebeur is minder belangrik as wat innerlik gebeur. Moeilike omstandighede is net tydelik, maar ons karakter sal vir ewig duur.
Paulus was feitlik die beste persoon wat ontdek het dat swaarkry ons by die drie boustene van Christenwees bring, by geloof, hoop en liefde. (Bekend nê). Sy CV getuig immers daarvan. Sou ons God se liefde ervaar het as alles in ons lewe net voorspoedig was? Sou ons ooit geleer het om geduldig te wag vir God se antwoord? Sou ons geleer het wat werklike geloof behels? Swaarkry is goed vir ons geloofslewe sê Paulus. Ons moet bly wees daaroor. Lyding en swaarkry is nie tevergeefs nie. Dis ‘n vormingsproses!
Omdat God ons soos Jesus wil maak, gaan Hy ons presies dieselfde as Jesus laat ervaar, sê Rick Warren. Wat het Jesus tydens sy tyd op aarde ervaar? Dit sluit eensaamheid, versoeking, stres, kritiek, verwerping, swaarkry, mishandeling en nog talle ander probleme in, voordat sy eie mense Hom laat kruisig het! Die Bybel sê Jesus het “deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is” (Heb. 5:8b). Waarom sou God ons dan vrystel van wat Hy sy eie Seun laat ervaar het? Paulus gee die antwoord: “Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. En aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid” (Rom. 8:17).
Ons hoef dus nie te panic oor ons swaarkry nie, dit “kweek hoop!” Lyding kan ons nie uit God se hand ruk nie. Ons is in sy ‘brandkluis’ weggebêre. Ons is sy kosbaarste besittings want Hy het ons immers ‘n splinternuwe lewe geskenk omdat ons in Jesus Christus glo. Die veiligste plek waar God ons kan ‘bêre, is in sy brandkluis’, waar Hy die hele dag, elke dag, ons kan oppas, terwyl ons nog op pad is hemel toe. Is dit nie genoeg rede om te volhard in die geloof nie, al gaan dit met swaarkry gepaard?
“God vrywaar ons nie van lyding nie maar Hy staan by ons. Al moet ons die lewe laat, verlaat Hy ons nooit” (Helmut Thielicke).
Gebed: Here, help my om te midde van my swaarkry na U op te kyk en dit reg te kry om van blydskap te straal ten spyte van my omstandighede. Ek weet dat U by my is wanneer die swaarkry op sy hewigste is. Help my om aan U vas te hou, om aan te hou, uit te hou, vas te byt, want swaarkry is net tydelik. U heerlikheid wat vir my wag, is vir ewig. Amen.
Comments