Gedagte vir Vandag
Donderdag, 13 Februarie 2025
Koos Espach
Die vrug van die vryspraak (4)
Daar is altyd plek in God se koor
Rom. 5:2b – “En ons verheug ons ook in die hoop op die heerlikheid wat God vir ons bestem het.” (2)
Vergelyk ook Hand. 16:25 – “Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing.”
Die afgelope paar dae dink ek aan Paulus wat ons bemoedig om bly te wees omdat ons verlos is uit genade en al die heerlikheid wat dit meebring. Ek dink ook aan hy en Silas daar in die tronk in Filippi. Middernag is gewoonlik slaaptyd vir die meeste mense, maar hulle het in uiters moeilike omstandighede, God geloof met gebed en sang. Hoe het hulle dit reggekry om vreugdevol te wees in sulke omstandighede? Hoe kan ons byvoorbeeld in Suid-Afrika vreugdevol optree terwyl dit lyk asof ons al hoe dieper in ‘n donker gat wegsink en nooit weer daar gaan uitkom nie? En ook, Paulus het nie geweet van mý probleme nie. Om te bid en liedere tot God om middernag te sing, gaan nie my bekommernisse soos mis voor die son laat verdwyn nie.
Dus Paulus, jammer, dit gaan nie vir my werk nie. Maar dan lees ek weer die vergelykende vers en ek onthou in sy brief aan die Filippense, het Paulus ook gesê ons moet altyd bly wees in die Here. Hy skryf ook daar dat die Here altyd naby ons is. Ons moet oor niks besorg wees nie maar ons begeertes deur gebed en met danksegging aan God bekend maak (Fil. 4:4-7). En Paulus sit in die tronk en sing lofliedere! Hy hoef ons nie te ken nie. Hy hoef nie van my en jou vrese en bekommernisse te weet nie. Paulus sê, te midde van sy probleme, hy ken die Here! Dieselfde Here wat belowe het Hy is by ons tot aan die einde van die wêreld (Matt. 28:20).
Ons kan dit seker waag om Paulus dan te glo. Terwyl hy in die tronk sit, skryf hy herhaaldelik oor blydskap en moedig ons aan om bly te wees. Dit klink vir my of ou Paulus iets geweet het van God se vrede en vreugde. Ons kan dan seker “ons ook verheug in die hoop op die heerlikheid wat God vir ons bestem het.” Dalk kan ek en jy ook soos Paulus besef dat bekommernis nie ons stryd op aarde gaan versag nie. Ons kan dit gerus oorweeg om ons kommer vir God se vrede en vreugde in te ruil. Dis die enigste verweer teen die skerp kante van die lewe. Maar hoe? Dankie tog, ons kan Paulus en Silas se voorbeeld volg en doelbewus kies om dag vir dag ons voete op God se vreugdepad te sit, al is ons voete in ‘houtblokke.’
Watter pad is God se vreugdepad? Ek onthou ek het iets daarvan raakgelees in Prediker, of was dit Psalms? Ek kan nie lekker onthou waar nie. Terwyl ek deur Prediker blaai en soek, kom ek op nog ‘n sombere en donker prentjie af: “Een en dieselfde lot tref almal: die regverdige en die goddelose ... Die ellende met alles wat in hierdie wêreld gebeur, is dat dieselfde lot almal tref ...” (Pred. 9:2-3). Ag nee man. Ek soek iets oor vreugde. En volgens die Prediker waarborg geloof nie enige byvoordele nie. Gelukkig lees ek verder: “Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. ‘n Hond wat lewe, is beter as ‘n leeu wat dood is” (v. 4). Sjoe! Volgens hom het ons gelowiges nie spesiale voorkeur behandeling nie – ons geloof is nie ‘n versekeringspolis teen swaarkry nie – maar ons leef darem. Daar is dus hoop!
Dit bring my terug na Paulus en Silas wat in die tronk is omdat hulle vir die mense in Filippi van Jesus vertel het. Die boodskap was só ‘gevaarlik’ dat hulle ‘n behoorlike drag slae toegedien is en in die tronk gegooi is. Was dit ek, sou ek eerder “Lewenstorme breek in woede, alles om my heen is nag ...” gesing het. Paulus-hulle sing lofliedere, nie klaagliedere nie. Die feit is, hulle leef nog – “’n hond wat lewe, is beter ...” – Die donkerste donker kry hulle nie onder nie. Hulle vreugde word nie gedemp deur hulle pyn en uiters slegte omstandighede nie. Is dit nie wat God se genade in sy kinders se lewe tot gevolg moet bring nie? Vreugde val immers nie self in ons skoot nie, ons moet gaan soek daarvoor. Ons kan mos besluit of ons beter of bitter wil wees.
Hoe klink my en jou lofliedere? Het ons nog iets in ‘donker’ Suid-Afrika om oor te sing? Wel, Paulus en Silas se lofliedere het gehelp. Selfs God was so aangegryp deur sy kinders se vreugde in hulle donker middernagtelike uur dat Hy nie anders kon as om hulle met sy genade aan te raak nie. Die Here skuld ons nie ‘n gemaklike lewe, ‘n gelyk paadjie hemel toe nie. Maar Hy is by ons, al is die pad soontoe hoe swaar. God is egter nie haastig nie, Hy stap saam met ons teen die spoed van een dag op ‘n slag. Terwyl ons nog lewe kan ons dit aangryp en dit met vreugde vul. Ons moet egter onthou, ons ontvang lewe net een dag op ‘n slag. Môre is nie in ons hande nie en gister is opgeleef. Dis ons keuse om vandag God se vreugde te kies en die negatiewe dinge te vergeet.
Ek en jy kan dit waag om God se lof te besing. Ons kan elke dag ons melodieë onder alle omstandighede verander. Die lewe is ‘n lied, al sing ons vals. Ons kan God loof oor wie Hy is, en nie net wanneer ons so voel nie. Daar is steeds iewers ‘n stukkie geluk te vind in hierdie deurmekaar wêreld van ons. Ons kan nou al in God se vreugdekoor op aarde sing. Dit is solank die oefenveld vir dit wat vir ons eendag in die hemel wag, want daar gaan ons net sing en feesvier. Put elke dag uit die vreugdefontein wat nóóit opdroog nie. Terloops, daar is nog plek vir jou ook in God se koor ...!
“Daar is geen groter vreugde nie as die sekerheid dat jy midde-in jou nood omsluit word deur die liefde van God” (Johannes Calvyn).
Gebed: Bron van vreugde, dankie dat U vreugde kwistig uitdeel. En U is nie spaarsamig daarmee nie, U gee arms vol weg, verniet. Ek bely Here, ek het ook ‘n meestersgraad in bekommernis soos baie mense in ons land. Vul my ook asseblief met U vreugdemedisyne vir die pyn wat hierdie lewe soms bring. Dankie dat ek dit elke dag by U kan kom haal en my kommer by U dan laat. Amen.
Yorumlar