top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 6 Februarie 2025

Koos Espach


Wat belowe is, word deur die geloof verkry (4)


Egte geloof


Rom. 4:22-25 – “Omdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek. 23 Dat hy vrygespreek is omdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, 24 maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. 25 Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.”

 

Vergelyk ook Joh. 5:24 – “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.”

 

Paulus pas Abraham se geskiedenis nou op alle Christene van alle eeue toe – wat oor Abraham meegedeel is, het ook vir ons betekenis. Hoekom kon Paulus bevestig “dat Abraham vrygespreek is omdat hy geglo het, dit nie net ter wille van hom opgeteken is nie, maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word?” Paulus kon dit met vrymoedigheid en opregtheid bevestig want tussen Genesis en Romeine staan ‘n kruis! Jesus het voor Abraham ingeskuif. Jesus Christus se kruis het voor élkeen ingeskuif, élkeen “wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het!” Ek en jy kan hieruit leer. Is dit nie bemoedigend vir ons nie?

 

Ware geloof is die vertroue op hierdie God, die God van wie ons immers bely: “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, Skepper van hemel en aarde”, dieselfde God wie se almag geen perke ken nie. Dieselfde God wat ons nie kan sien of bewys kan word nie, ons moet gló dat Hy God is: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie” (Heb. 11:1)! Ons word deur God se Woord en Gees oortuig dat God, God ís. Ons kan God se bestaan nie bewys nie, maar ons wil ook nie, al kon ons. Hy bewys Homself deur sy openbaring.

 

En dit is wat Jesus kom doen het toe Hy aarde toe gekom het. Hy het God aan ons kom openbaar. In ons vergelykende teksvers sê Jesus ons moet “luister na wat (Hy) sê en in Hom glo wat (Jesus) gestuur het.” Wat beteken dit? Eerstens is God soos wie Jesus sê Hy is – Hy is liefde. Tweedens is dit om die lewe te aanvaar wat Jesus aanbied, al is dit hóé moeilik (kruis opneem). Al is daar baie opofferinge om te maak, dit is egter die enigste weg na hoop, vrede, vreugde en liefde; enige ander weg is die dood en ewige oordeel.

 

Derdens behels dit die ware geloof, die geloof in Christus, die Een wat die Vader kom bekend stel het: “Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak” (Joh. 1:18). Vierdens behels dit om die hulp wat die opgestane Jesus aanbied, te aanvaar en onder leiding van die Heilige Gees die krag te ontvang om op die regte pad wat na die ‘nou poort’ lei, te bly – “Die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min” (Matt. 7:14).

 

Ons gelowiges “glo in God” omdat God waaragtig en geloofwaardig is. Wanneer ons dan “luister na wat Jesus sê en in God glo wat Hom gestuur het”, betree ons ‘n nuwe verhouding met God – die Regter word ons Vader, die toekoms word die hede, die onbekende word intimiteit met God en vrees verander in liefde. Wanneer ek en jy onsself in geloof aan Jesus Christus oorgegee het, gaan ons uit die dood oor tot die lewe. Ons leef nie meer ter wille van ons eie selfsugtige belange nie. Die tydverdrywe en dinge wat ons vroeër gekoester het, het nie meer dieselfde aantrekkingskrag nie. Die doelstellings wat ons so naarstigtelik nagejaag het, is nie meer so belangrik nie.

 

Watter wonderlike belofte en versekering dat óns, as ons “na die woorde van Jesus luister en in sy Vader glo”, nie meer geestelik dood is nie en nóú reeds seker mag wees dat ons rééds uit die dood na die ewige lewe oorgegaan het? Hoekom? Want Jesus is die weg na God toe (Joh. 14:6)! Solank as wat die mens onkundig bly oor die waarheid van die Woord, bly hy gebind deur die leuen dat Jesus nie sy sondes weggeneem het nie. Ons as gelowiges in Christus glo dat God ons onvoorwaardelik liefhet op grond van dit wat Jesus gedoen het vir ons aan die kruis - daardie kruis wat voor élkeen ingeskuif het, élkeen “wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het!” God is die Waarmaker van sy beloftes! Indien jy twyfel, vra dan: “Help my in my ongeloof” (Mark. 9:24).

 

“Geloof is nie om te glo dat God sal doen wat jy graag wil hê nie. Geloof is om te glo dat God sal doen wat reg is” (Max Lucado).


Geloofsbelydenis as gebed: Dankie God dat U uself as Vader aan my verbind. 2) Dankie God dat U, u Seun Jesus as Here oor my lewe aangestel het. 3) Dankie Jesus dat U geboorte my skuld bedek. 4) Dankie Jesus dat U lyding onder Pontius Pilatus my verlos het van my ewige geestelike lyding onder God se toorn. 5) Dankie Jesus dat U sterwe en begrafnis my verlos het van my ewige dood. 6) Dankie Jesus dat U ter helle neergedaal het sodat ek nooit daar sal kom nie. 7) Dankie Jesus dat U opstanding my ‘n nuwe lewe gegee het. 8) Dankie Jesus dat U wederkoms my toekoms is. 9) Dankie Heilige Gees dat U in al U volheid aan my gegee is. 10) Dankie Heilige Gees dat U my deel maak van ‘n kerk. 11) Dankie Heilige Gees dat U my verseker van my sondevergifnis. 12) Dankie Heilige Gees dat U my verseker van my fisiese opstanding en ewige lewe. Amen.

 

תגובות


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page