top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 5 Februarie 2025

Koos Espach


Wat belowe is, word deur die geloof verkry (3)


God sal ons nie drop nie


Rom. 4:17 – “Soos daar geskrywe staan: ‘Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.’ Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring, deur sy woord.”

 

Vergelyk ook Heb. 11:11 – “Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om ‘n kind te verwek, omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het.”

 

Abraham het geweet dat dit nie vir hom en Sara nodig sal wees om dalk vir oulaas ‘n buitengewone poging aan te wend om miskien, ten spyte van die feit dat Sara onvrugbaar was (Gen. 11:30), en ten spyte van hulle hoë ouderdom, tog moet probeer om ‘n kind te verwek nie. Hy het bly glo en hoop en was oortuig, dat die God wat hemel en aarde geskep het, sy beloftes sal nakom!

 

Ons kan met reg sê dat Abraham ‘n ‘geloofsreus’ was, en tog, weet ons ook dat hy kleingeloof en twyfel ook geken het. Dink maar hoe hy vir Farao oor sy vrou gelieg het (Gen. 12:10-20) en al die planne wat hy en Sara prakseer het om die Here so ‘n bietjie met die kinderbelofte “by te staan” (Gen. 15:3; 16:1-2).  En dan weer lees ons in Hebreërs: “Omdat Abraham geglo het ...” Sy geloof het hom sy huis laat opgee en agter God se roepstem aan laat trek. Sy geloof het hom in ‘n vreemde land laat woon. Sy geloof het Sara se onvrugbaarheid op negentigjarige ouderdom verdryf sodat hulle ‘n kind gekry het. Sy geloof het hom selfs vir Isak op die offeraltaar laat lê. Sy geloof aan ‘n “God-sal-voorsien” kon Abraham nooit aan Hom laat twyfel nie.

 

Hebreërs 11 is vir my een van die mees aangrypende hoofstukke in die Bybel. Elke keer wanneer ek van die “galery van geloofshelde” uit Israel se geskiedenis lees, dink ek dat hulle geleef het asof hulle tot binne-in die onsienlike wêreld van God kon inkyk. Hulle geloof word spreekwoordelik uitgestal, en onthou, hulle was gewone mense, mense soos ek en jy. Ja, hoor ek iemand sê, dis mense wat deur God voorgetrek is, daarom is hulle name in die Bybel. Nee, toe nie ... “God trek immers niemand voor nie” (Rom. 2:11). Die geheim van hulle lewe word in Hebreërs 11:6 gemeld: “As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil.”

 

Hulle geheim was hulle geloof. Hulle geloof het gemaak dat hulle groot struikelblokke oorkom het. Hulle was oortuig van die dinge wat hulle nie kon sien nie. Hulle geloof in ‘n God wat wel kon sien wat nog gaan gebeur, ‘n God wat die toekoms in sy hande hou, het hulle voluit op God se pad laat loop. Of dit nou Noag was wat God vertrou het deur 100 jaar te vat om ‘n skip op droë grond te bou in ‘n land waar die reënval maar skaars is, of Abraham wat ontneem is van al sy sekuriteite deur sy wortels uit te trek in sy geboorteland en die vreemde in agter God se belofte van ‘n erfdeel aan, getuig van ‘n geloof wat doodseker is van God wat in ‘n ‘onsigbare’ wêreld aan die werk is, “God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring, deur sy woord.”

 

Robert Schuller, ‘n Amerikaanse evangelis vertel die storie van die Geallieerde Magte wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in Duitsland huisies deursoek het vir skerpskutters. By een huis wat feitlik net ‘n rommelhoop was, het hulle die volgende gevind. In die kelderverdieping het een van die slagoffers van die “holocaust” ‘n ster van Dawid teen die verkrummelde muur ‘n boodskap geskryf: “Ek glo in die son – selfs wanneer dit nie skyn nie. Ek glo in die liefde – selfs wanneer dit nie bewys word nie. Ek glo in God – selfs wanneer Hy nie praat nie!”

 

Dit is die wese van geloof: die sekere wete dat God ons as sy kinders altyd stewig vashou met sy almagtige hand – selfs al praat Hy nie. Ek en jy kan ook ons gevoelens êrens neerpen, selfs op ‘n verkrummelde muur. Ons kan ons name ook by Hebreërs 11 se geloofshelde voeg want ons is ook gewone mense soos hulle. Geloof, dis die geheim. Geloof in die waarheid van God; geloof in Jesus Christus as die gekruisigde; geloof in die werk en leiding van die Heilige Gees. Geloof om te doen wat God wil, al sien ons nie die eindpunt nie. Geloof in God wat my en jou nie sal drop nie!

 

“Geloof is om so op te tree, al is dit nog nie so nie, sodat dit so kan wees” (Louis Malherbe).

 

Gebed: Here, vergewe my asseblief. Ek kan nie altyd geloof met my menseverstand vasvat nie, bloot omdat geloof,  genade bly. Maar dankie dat ek in geloof kan vashou aan U beloftes in u Woord. Dankie dat ek weet U weet tog die beste, U sal vir my alles goed laat afloop. U sal my nie drop nie want U is almagtig en kan nie foute maak nie. U sien verder, tot anderkant my vrese. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page