Gedagte vir Vandag
Vrydag, 31 Januarie 2025
Koos Espach
Die voorbeeld van Abraham (7)
Moenie die vertroue in die toekoms met die geloof van vandag meet nie
Rom. 4:11-12 – “Hy (Abraham) het die besnydenis as ‘n teken ontvang. Dit is ‘n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het omdat hy geglo het toe hy nog onbesnede was. Die doel daarmee was dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nie besny nie. Hulle word dus ook deur God vrygespreek omdat hulle glo. 12 Ons voorvader Abraham sou ook die vader wees van dié besnedenes wat nie net besny is nie maar ook glo, soos hy geglo het toe hy nog onbesnede was.”
Vergelyk ook Hand. 7:8 – “God het met Abraham ‘n verbond gesluit waarvan die besnydenis ‘n teken is. So het dit gekom dat Abraham sy seun Isak op die agste dag na sy geboorte besny het. Isak het dieselfde gedoen met Jakob, en Jakob met die twaalf stamvaders.”
Die verbond wat God met Abraham gesluit het, was ’n “blywende verbond – die Abrahamitiese Verbond – om sy God te wees en sy nageslag en al hulle geslagte” (Gen. 17:7), ‘n blywende verbond wat natuurlik alle gelowiges insluit, my en jou ook. Dit was ‘n verbond waarvan die besnydenis die verseëling en uiterlike teken was. Elke seun onder hulle moes op sy agtste dag besny word (Gen. 17:12).
Israel se sekerheid van God se seënende genade op die Here se verbond met Abraham en sy nageslag, berus nie op die tempel of die wet nie. Op die agtste dag het Abraham vir Isak besny (Gen. 21:4) en so ook Isak vir Jakob en Jakob vir die twaalf aartsvaders op hulle agtste lewensdag. “Ons voorvader Abraham sou ook die vader wees van dié besnedenes wat nie net besny is nie maar ook glo, soos hy geglo het toe hy nog onbesnede was.”
Geloof is om te glo in dinge wat ’n mens nog nie kan sien nie. Geloof het Abraham sy huis laat opgee en agter God se roepstem aan laat trek en in ‘n vreemde land laat woon. Sy geloof het Sara se onvrugbaarheid op 90 jarige ouderdom, en al was die odds teen hom wat al 100 was, verdryf sodat hulle ‘n kind kon kry. Hy het geduldig aangehou met glo. Hoe God dit gaan regkry, het hy nie geweet nie, maar hy het bly glo dat God een of ander tyd getrou sal wees.
Wanneer God ’n belofte aan ons maak, waarvan ons mos die meeste in sy Woord kry, moet ons by Abraham en Sara leer. Ons moet met alles daaraan vashou en geduldig wees. Al sê die wetenskap en die sogenaamde ‘slim mense’ wát, glo dat God vir my en jou sal voorsien, al kos dit ’n wonderwerk. Wat God sê, doen Hy op sy tyd. God sal altyd sy beloftes waar maak. So, wanneer ons in die verlede God ervaar het en Hy sê Hy sal nog dinge in die toekoms doen, kan ons Hom mos maar vertrou. Sy styl is om te doen wat Hy belowe het. Hoekom sal Hy dan nou halfpad van plan verander? Ek en jy moet God net vertrou en alles oorgee in sy hande.
Daar is só baie egpare wat net soos Abraham en Sara, sukkel om kinders te kry. Dis nie ’n maklike pad nie. Dit wat ons verwag normaal moet gebeur, het nou ’n wetenskaplike, goed beplande en ek wil amper sê, koue proses, geword. Hoe teleurgesteld moet hulle nie wees as die swangerskaptoets elke keer negatief is nie? Wonder hulle ook hoeveel keer gaan hulle nog net een keer probeer? Wonder hulle ook wanneer die geld vir al die toetse gaan opraak? Hoe sleg moet dit nie vir hulle wees as hulle hoor van nog ’n kindjie wat geaborteer is nie? Hulle wat so graag met alles in hulle ’n kleine baba wil hê en aan die ander kant, word een sommerso in ‘n vullisblik, puttoilet of ashoop weggegooi, omdat dit nie nou die regte tyd is of net nie nou welkom is nie.
Ai, ons weet nie hoekom is dit nie vir almal beskore om ouers te word nie. Dit bly onverstaanbaar. Dis hier waar ’n mens ’n goeie skoot geloof moet bymekaarmaak. Geloof is om met vertroue die toekoms tegemoet te gaan “en ons vertroue in die Here te stel, dan is ons veilig” (Spr. 29:25). Ons moet hierdie ene onthou. Dis wat vertroue in God doen. Kom ons kyk maar oor ons lewe. Orals sal ons momente sien waar ons gedink het dis nou die einde, en tog het God ons daaruit gered. Raak rustig, en al weet ons nie wat presies gaan gebeur nie, weet dat God op ’n manier ’n ‘haas uit ’n hoed gaan trek’. God sal, op sý tyd, laat gebeur wat moet gebeur. Al kan ons nie al die waaroms beantwoord nie, ken ons deur die geloof dié God wat al die antwoorde het in Jesus Christus.
“Die toekoms behoort aan hulle wat aan God behoort” (John Galsworth).
Gebed: Vader, dankie dat U ’n goeie God is en U nie steur aan die mens se wetenskap of planne nie. Dankie dat U elke keer U beloftes waar maak, al kos dit wat. Help my om op die pad van geloofsvertroue van môre en al die môres hierna, te bly. Ja, “al gaan ek selfs dan deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig” (Ps. 23:4). Amen.
Comments