top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 29 Januarie 2025

Koos Espach


Die voorbeeld van Abraham (5)

 

Die kruis is verlate en die hemel vol

 

Rom. 4:5 – “Die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof.”

 

Paulus het nou al by Rom. 5:10-18 vir ons ‘n hele reeks aanhalings gemaak uit die Ou Testament om te wys dat daar niemand is wat regverdig is en na God se wil soek nie. En ná die volk se ballingskap het dit ‘n groot saak geword in Israel se vroomheid. Hulle het geglo die wet moet tot die letter onderhou word om regverdig by God te wees. En dit is reeds téén hierdie oortuigings van die Jode, waarvan hy ook een is, wat Paulus se boodskap gerig is.

 

As ons mooi luister na Paulus se ‘argument’, dan klink dit nogal vreemd. Trouens, hoe word ‘n mens regverdig voor God? Hoe kan God my en jou vryspreek as ons skuldig is oor ons oortredinge? Spreek God goddelose mense vry? Eerstens kan ‘n regter byvoorbeeld nie ‘n skuldige vryspreek nie. Dis onreg. Die regter kan die skuldige wel genadig wees en ‘n ligte straf gee, maar nie onskuldig verklaar nie.

 

En dis presies wat God met ons skuldiges doen! Hy spreek ons vry! Hoekom? Dis hier waar die kruisverhaal inkom. Paulus sê: “Ons weet ‘n mens word nie van sonde vrygespreek deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo” (Gal. 2:16) – “Die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom, hy kry die vryspraak deur sy geloof.”

 

Ons sê weer: dis hier waar die kruisverhaal inkom. In ‘n aangrypende boek oor genade vra die skrywer Philip Yancey: “What’s so amazing about grace?” Is God se genade regtig so groot? Genade is die hart van alles. Dit is wat die kerk op die ou end uniek maak, sê Stephan Joubert. Dis God se liefdesbewys! Genade is immers wat ons gereeld laat omkyk na die kruis. Soos ‘n groot uitveër het die kruis my en jou sondige verlede met al sy skrikwekkende sondes uitgevee. As ons mooi kyk, sal ons al ons sondes nog daar aan die kruis sien hang. Jesus se bloed is die ‘gom’ wat dit daar vir altyd vasgeplak het. Nadat Jesus daar by Golgota van die kruishout afgehaal is, het ál my en jou sondes daar agtergebly.

 

Al die sondes wat daar aan die kruis agtergebly het, sal nooit weer in die weg van God se genade vir ons ‘n struikelblok wees nie. En die kruis van Golgota is verlate. Jesus Christus wat daar gehang het, is terug hemel toe – die hemel is vol! Al wat die kruis nou is, is ‘n simbool van God se genade. Dit vorm nou ‘n ‘sleutel’ na God toe, “elkeen wat glo in Hom, hy kry die vryspraak deur sy geloof.”

 

Weereens, wat is geloof? Ten diepste is geloof volgens die kenners nie iets wat ons doen of nie doen nie, maar ‘n verhouding, ‘n verhouding met die gekruisigde Here. Miskien kan die volgende voorbeeld help. Geloof is soos ‘n huwelik. Ons kan nie ons huwelik aan iemand wys nie; wel ons eggenoot. Net so kan ons nie sê: “Kyk, hier is my geloof,” nie. Ons kan wel sê: “Kyk, daar is ‘n soortgelyke kruis waaraan ons Verlosser gehang het – ek glo dit!”            

 

Nog ‘n storie wat vertel word is van ‘n man wie se verhouding met sy geliefde na vier jaar op die rotse geloop het. Om haar liefde terug te wen, het hy veertien kilometer ver op sy knieë agter haar aan gekruip. Langs die pad is hy aangemoedig deur motoriste en verbygangers, maar toe hy die einde van sy ‘marathon van liefde’ bereik, was sy geliefde glad nie beïndruk nie. Sy het doelbewus haar huis verlaat om hom nie te sien nie. Sommige mense probeer soortgelyke dade van toewyding om God te beïndruk en verlossing te verkry – maar tevergeefs. Al wat God beïndruk en verlossing waarborg, is geloof in Jesus Christus deur God se genade.

 

Die kruis sê alles met een woord – genade! Dit vertel van God se liefde, van Jesus se lyding vir jou en vir my en van ‘n splinternuwe lewe vir ons. Dit is die enigste simbool van hoop vir die wêreld. Moenie twyfel aan die Man wat daaraan gehang het nie – “elkeen wat glo in Hom, kry die vryspraak deur sy geloof.” Ek en jy kan met vrymoedigheid wegkyk van ons sondes, ons geloof of dalk ongeloof. Dit is immers nie die daad van ons geloof wat ons red nie, maar die inhoud van ons geloof – Jesus Christus, die Gekruisigde!

 

“Ek is nie wat ek behoort te wees nie; ek is nie wat ek graag wil wees nie; ek is nie wat ek hoop om te wees nie; maar deur die genade van God is ek wat ek is” (John Newton).

 

Gebed: En ek self – wat kan ek doen om my sonde te versoen? Nóg gebede, nóg geween kan my red Heer; U alleen. Amen.

Comentários


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page