top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 28 Januarie 2025

Koos Espach


Die voorbeeld van Abraham (4)


Hemelse berekeninge   

 

Rom. 4:4-8 – “’n Arbeider se loon word nie vir hom as ‘n guns gegee nie, maar as iets wat hom toekom. 5 Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof. 6 So sê ook Dawid dat dié mens geseënd is wat deur God vrygespreek word buite wetsonderhouding om: 7 ‘Geseënd is die mense wie se oortredinge nie gestraf word nie en wie se sonde vergewe word. 8 Geseënd is die mens vir wie die Here die sonde nie toereken nie.”  

 

Vergelyk ook Ps. 32:1-2 – “Dit gaan goed met die mens wie se oortredings nie gestraf word nie, wie se sonde vergewe word. 2Dit gaan goed met die mens vir wie die Here die oortreding nie toereken nie.”

 

Paulus plaas die twee moontlikhede waaroor vryspraak gaan, nou teenoor mekaar. Word ‘n mens deur God vrygespreek deur jou goeie werke, of geloof in Hom wat die goddelose vryspreek? Abraham se vryspraak deur God was nie vergelykbaar met die loon wat ’n arbeider op grond van sy arbeid toekom nie. In die geval van ’n arbeider is daar nie van guns sprake nie, maar van verdienste. Hy het sy vakmanskap, sy kundigheid en met sweet sy taak afgehandel en voel tevrede. Die bedrag waaroor ooreengekom is, sy salaris, sal noukeurig bereken word en hy sal dit volgens verdienste, ontvang.     

 

In Abraham se geval het dit egter nie om verdienste nie, maar juis om God se guns gegaan. God het aan Abraham iets toegereken wat hy nie in homself besit of verdien het nie, want Abraham het nie op sy wetsonderhouding staatgemaak nie. Hy het ook nog nie die wet gehad nie. Hy het volkome “geglo in Hom wat die goddelose vryspreek.” Daarom het Abraham die vryspraak deur sy geloof verkry.

 

Dan trek Paulus ook vir Dawid, as nog ‘n voorbeeld van iemand uit die Ou Verbond nader. Dawid het ook God se vryspraak uit genade ontvang en nie op grond van wetsonderhouding of verdienste nie. Abraham en Dawid se vryspraak was dus nie as gevolg van hulle verdiende loon nie, maar hulle genadeloon.

 

Dit is ‘n wonderlike ontdekking as dit vir ons duidelik word dat ons hele verlossing net uit genade is. God reken my en jou nie toe wat ons gedoen het of nagelaat het om te doen nie. God hou nie boek van die kwaad nie, Hy maak nie somme van die duisternis van verkeerdhede wat in ons woon nie, Hy bedek dit alles met genade. Hy wis dit uit en dink nooit weer daaraan nie. Is dit nie ‘n oorstelpende blydskap om te weet dat God ons nie aansien vir wie en wat ons werklik is nie?

 

Dit is egter ons wat sommetjies maak, verkeerde aardse berekeninge. Ek is geseënd want God skuld my! Daarom “straf Hy my nie vir my oortredinge nie.” Ek het sóveel goeie dinge vir God en my medemens gedoen en as ek nou elke sonde wat ek al gedoen het, met ‘n goeie daad aftrek, dan sal God my op die Groot Betaaldag moet uitbetaal? Nee, ons kan nie só redeneer nie, God werk nie so nie! God meet nie ons loon volgens ons prestasie af nie. Trouens, hoe gaan ons in elk geval weet wanneer het ons genoeg gedoen om God te behaag?

 

Ai tog, ons arme mense. Ons arme sondaars skiet so ver tekort. En ek sluit myself hierby in. Ons is mos nou maar eenmaal so gemaak en so gelaat staan! Nee! Nog ‘n verkeerde redenasie. Inteendeel, God het ons gemaak en Hy maak nie foute nie. Hy het ons ook nie so laat staan nie! God werk nie met sommetjies nie. God het net een keer wel sommetjies gemaak, hemelse berekeninge, en toe moes Hy Jesus wegvee uit die land van die lewendes, ter wille van ons!

 

Dis vreemd dat baie mense bereid is om enigiets vir godsdiens te doen, behalwe om te aanvaar dat God se genade verniet is. Ons kan nie genade verdien deur daarvoor te werk nie, of selfs koop nie. Die goeie nuus dat God ons vergewe het in Jesus Christus, het baie mense se harte nog nie gepenetreer nie. Hulle sal alles glo behalwe dat daar buite die kringetjie donker rondom hulle, ‘n Lig van liefde brand. Die skille het nog nie van hulle oë afgeval sodat hulle kon ‘sien’ God verras ons met genade! Ons hoef nie God se guns probeer verower nie. Ons kan Hom maar net met trane in ons oë bedank vir sy onuitspreeklike goedheid.  

 

En dis tog so eenvoudig. Ons moet aanvaar dat God ons sondes vergewe het. Sy genadegawe is ‘n hemelse geskenk en daarom kan ons dit diep in ons harte beleef dat ons vry is van al ons skuld. Ons hoef niks terug te betaal nie – “Almal (gelowiges in Jesus Christus) word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus” (Rom. 3:23b). God se genade beteken dat Hy ons verlede met al sy foute, mislukkings en sondes, opgeskeur en weggegooi het. Dis betaal en gestempel – “Paid in Full!” 

 

“Genade beklemtoon terselfdertyd die hopelose armoede van die mens en die grenslose liefde van God” (William Barclay).

 

Gebed: Hemel Vader, dit is ‘n onbeskryflike wonder dat U genadige liefde uitgestort word aan my wat niks besit nie behalwe die sonde. Dit is ‘n oorstelpende vreugde om te weet U sien my nie aan vir wie ek werklik is nie. Dankie, U reken my nie toe wat ek gedoen het of versuim het om nie te doen nie – U wis dit uit en bedek dit met U genade en dink nooit weer daaraan nie. Dankie dat U die onvergeeflike in my ook vergewe het, dit toegeplak en weggegooi het, vir ewig. Ek loof en prys U my genadige Vader. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page