Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 21 Januarie 2025
Koos Espach
God verlos die mens (6)
God se optelkinders
Rom. 3:27-31 – “Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit. Deur watter wet? Dié van die werke? Nee, deur dié van die geloof. 28 Ons betoog is tog dat ‘n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie. 29 Of is God net God van die Jode, nie ook van die heidennasies nie? Ja, ook van die heidennasies, 30 want daar is net een God. Hy sal die besnedenes deur die geloof en die onbesnedenes deur dieselfde geloof vryspreek. 31 Hef ons dan deur die geloof die wet op? Beslis nie. Ons laat die wet juis tot sy reg kom.”
Vergelyk ook Fil. 3:8b-9 – “Ek (Paulus) beskou alles as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9 en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo.”
Paulus kom stel nou geregtigheid teenoor die wet en geregtigheid uit die geloof teenoor mekaar – dieselfde teenstelling tussen eie geregtigheid en die geregtigheid wat uit God kom. Eie geregtigheid is om te verstaan dat die beginsel van ons verlossing, nie daarin bestaan dat die mens deur sy eie werke, sy verlossing verdien nie, maar daarin dat ons in die geloof in Christus alleen verlos kan word. Ons kan dus nie onsself spreekwoordelik ophef of ‘opklim met ‘n leer’ na God toe nie; nie deur die wet nie; nie deur goeie werke, of godsdienstigheid of selfs vroomheid, nie. Paulus het dit probeer (Fil. 3:3-6), en homself te pletter geval in ‘n afgrond van waardeloosheid – en hy het later erken hy het eintlik niks gehad om oor te roem nie.
Vir alle mense is daar slegs één weg tot geregtigheid voor God – die weg wat álle menslike roem uitsluit. Dit kan só maklik gebeur dat die mens op grond van sy nakoming van die wet of godsdienstige vroomheid, só selfvoldaan raak dat hy of sy die Here nie meer erken nie: “Die wyse man moet nie in sy wysheid roem nie, die soldaat nie in sy krag nie, die ryk man nie in sy rykdom nie” (Jer. 9:23). Dit is wanneer die mens se voortreflike “ek” só groot word dat dit God heeltemal verberg! Hoe kan ons dit verander? Die regte soort roem is natuurlik om ons in God te beroem: “Laat hom wat wil roem, daarin roem dat hy insig het en My ken” (Jer. 9:24). Ek en jy word minder, en God meer!
By God is daar net een manier om salig te word en ons kan niks doen om saligheid te verdien nie. Goddank, ons kan nie en hoef ook nie. God het uit die hemel 'afgeklim' na ons toe (Joh. 1:14). Hy het ons kom optel in sy genade: “Niemand was besorg oor jou toe jy gebore is nie. Toe het Ek verbygekom en jou in jou bloed sien spartel en vir jou gesê: ‘Leef, groei!” (Eseg. 16:6). Ons is God se optelkinders! Daarom het ons niks om oor te roem nie. Indien ons wil roem is daar net één roem, die roem in die kruis van Jesus Christus (Gal. 6:14).
En daarin kan ons roem: “Ons betoog is tog dat ‘n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie.” Alle selfroem is nou uitgesluit deur die wet van die geloof in Jesus Christus. By God is daar net één manier om salig te word, en dit is my en jou leë hande wat uitgestrek is in geloof. Geloof is om te glo dat Jesus Christus is wie Hy sê Hy is en dat Hy alles sal doen wat Hy belowe het om te doen. Die Hebreërskrywe sê: “Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hý ‘n priesterskap wat nie op ‘n ander oorgedra word nie. Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir (ons) by God in te tree” (Heb. 7:24-25).
Jesus is wat die Bybel sê Hy is. Hy sal doen wat Hy gesê het Hy sal doen. Daarom kan ek en jy Hom vertrou! Wanneer ek en jy minder word en die Here meer, roem ons in die Here. Dan kan ons sê: “Die Here sal vir my wees wat Hy sê Hy is en Hy sal vir my doen wat Hy belowe het om te doen. Ek laat myself in sy hande, want Hy is my Redder. Ek rus in sy beloftes!”
Is dit nie verlossende geloof in Christus nie? Beslis! Wanneer ek en jy hierdie geloof besit, besit ons ook die ewige lewe want Hy is die Lewe. Wat ook al die probleme, wat ook al ons swakheid en sondes, een ding is seker: Ons wat só glo in Jesus Christus, sal nooit verlore gaan nie. Bloot die feit dat God bereid was om sy eie Seun in ons plek te laat sterf, sodat ons nie hoef te betaal vir ons droogmaak nie, skuif die deur van God se hart oop en sien ons hoe sy liefde vir ons klop. Daarom was Jesus ook bereid om sy lewe neer te lê vir ’n klomp sondaars soos ons. Jesus is egter die lewe. Hy is die Een wat lewe gee aan elkeen van ons. As ons in Hom glo en Hom aanvaar as ons Verlosser, raak ons ook deel van elkeen wat nooit verlore sal gaan nie, maar altyd sal lewe. Wat ‘n wonderlike voorreg!
“Die loon van die sonde is die dood. Goddank dat Jesus my bevry het voordat die betaaldag aanbreek” (Reamer Loomis).
Gebed: Dankie Heer dat U mens kom word het om my aan God te kom voorstel. Ek probeer dit verstaan en begryp maar my menslike verstand is net nie opgewasse daarvoor nie. U deins nie terug vir opoffering nie. In U sien ek wat menswees waarlik is. Here, ek kan oor niks seker wees nie, behalwe van U en daaroor kan ek doodseker wees! Ek prys U heilige Naam, Here Jesus, omdat U liefde my gevind en verlos het. Amen.
Comments