Gedagte vir Vandag
Maandag, 20 Januarie 2025
Koos Espach
God verlos die mens (5)
Om te glo is ...
Rom. 3:25-26 – “Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.” (2)
Ek dink dit is nodig dat ons vandag nog ‘n rukkie vertoef by die ‘sleuteluitdrukking’ in hierdie gedeelte: ‘om te glo.’ Dit wat die bedeling “onder die wet” nie kon bereik nie (Rom. 1:18-3:20), is “nou” bereik deur die “nuwe bedeling van geloof” – “vryspraak in die teenswoordige tyd”, in Christus. Geloof is nou die enigste vereiste vir almal. Geloof staan vir die nuwe fase waarin geregtigheid verkry word deur geloof in Christus. Álmal word op dieselfde manier voor God geregverdig – deur geloof. Die mens kry dus nie die geregtigheid deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus te glo. Jesus het vir ons die geregtigheid ten volle aan die kruis verdien.
Bybelverklaarders het dit eens dat die meeste mense soms ‘n probleem het met die idee van geloof. Om te glo is ‘n groot waarheid wat baie diep in my en jou Chistelike lewe insny. Die Hebreërskrywer sê: “Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie” (Heb. 11:1). Geloof is om God te vertrou; om Hom op sy Woord te neem. Dit is tog al wat ons het – sy Woord! Maar meeste van ons mense se probleem is egter om soos Tomas te wil wees – ons wil sien en voel (Joh. 20:24).
Die ding met ons mense is, ons wil God probeer verstaan, in plaas daarvan om Hom te vertrou! Neem Tomas as voorbeeld. Hy was nie ‘n toonbeeld van geloof nie, en tog het Jesus vir Hom sy vrede aangebied. Nog meer, Jesus het Tomas se twyfel en ongeloof aangespreek en hom, asook alle ander twyfelaars van alle eeue, opgeroep om te bly glo ten spyte daarvan dat hulle en ons nie die geleentheid sal hê om ons hande in Christus se spykerwonde te steek nie.
Jesus het vir Tomas gesê: “Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo” (Joh. 20:29). Geloof is nie ons eie maaksel nie. Dit is ‘n gawe van God soos Paulus dit uitspel: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God” (Ef. 2:8). Iemand het gesê hy verstaan nie God se fisika nie: ‘n Swart koei eet groen gras en gee wit melk waarvan ons geel botter maak, wat ons dan op wit of bruin brood smeer? Ons glo so maklik alledaagse dinge – ons klim in ‘n vliegtuig in en glo hy sal ons veilig by ons bestemming bring; ons glo aan artikels in koerante; selfone wat selfs mense oorsee kan bereik, maar net sodra ons by God kom, het ons ‘n probleem met geloof! Hoe dan nou?
Soos Tomas, ervaar ons ook miskien tye waar dit vir ons moeilik is om te glo, of dalk moeilik om iets te aanvaar bloot omdat ander mense so sê. Ons kom tot geloof nie bloot deur redelike denke, of deur bloot die getuienis van ander te aanvaar nie. Ons moet self die Opgestane Christus in ons lewens teenkom, want dit is in die ontmoeting met Hom dat ook ons deur die werklikheid van sy teenwoordigheid oorweldig sal word. God openbaar die waarhede aangaande Homself en sy Koninkryk aan ons deur Sy Woord en Sy Gees en ons moet leer om meer na hierdie twee Getuies te luister. Ons moet leer om op Hulle te vertrou, eerder as om dit te probeer uitredeneer of te wonder daaroor.
Kom ons stel onsself vir God oop, sodat Hy daagliks ‘n groter werklikheid word. Agter elke gelowige mens, staan God. Geloof is die paspoort waarmee ek en jy die nuwe land van God se genade kan binnegaan. “God oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.” En Jesus is op soek na mense wat nie net maar sal glo as hulle wonders sien gebeur nie. Hy is op soek na die ongelowige Tomasse wat toe oë in Hom sal bly glo. Ja, al ruk die geweld, korrupsie en misdaad in die wêreld, en veral in Suid-Afrika, hande uit en al lyk dinge rondom ons deurmekaar. God vra geloof van my en jou – geloof in Jesus Christus. Hoe gaan ons reageer? Moenie uitstel nie.
“Om te sterf vir jou geloof vra één dag groot moed. Om jou geloof te lééf, vra elke dag groot moed. Daarom kan ‘n gelowige nie sonder daaglikse gebed lewe nie” (William Thackeray).
Gebed: Here, die feit dat U my Here en my God is, het my hele lewe verander. My dwarrelende gedagtes is tot rus gebring; ek kan met vrymoedigheid na U toe kom sonder om eers met U te redeneer, sonder om eers te pleit. Ek kan maar net glo dat U deurboorde hande en voete, U wond aan die sy, die leë graf, ook vir my was! In geloof kan ek my laste by U kom neerlê en dit daar laat, in ruil vir U vrede, wat alle verstand te bowe gaan. Dankie Here! Amen.
コメント