Gedagte vir Vandag
Woensdag, 8 Januarie 2024
Koos Espach
Niemand is regverdig nie (8)
Fokus op die Vredevors se woorde en bly op die regte pad
Rom. 3:15-18 – “Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. 16 Hulle laat ‘n spoor van verwoesting en ellende agter. 17 Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, 18 ontsag vir God het hulle nie.” (3)
Vergelyk ook Matt. 7:13-14 – “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. 14 Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”
Paulus som die sonde van die mens se lewenswandel kort en kragtig op. Hy koppel dit aan die feit dat die mens nie “ontsag vir God het nie, daarom het hulle nie die pad van vrede leer ken nie.” Sy “klagstaat” uit die Ou Testament, het nie net betrekking op die gemeente in destydse Rome nie, maar is vandag steeds op elke mens van toepassing. Hy maak dit duidelik dat hier nie met menslike maatstawwe gemeet word wat net die uiterlike raaksien nie, maar gemeet word met God se maatstaf: Hy wat diep in ons harte inkyk; Hy wat selfs sien wat ons vir onsself wegsteek; Hy wat sien op watter verkeerde weë ons voete hulle bevind – weë wat ‘n “spoor van verwoesting en ellende agterlaat.” Dalk is dit nodig dat ons weer by die Vredevors se woorde inval om ons op die regte pad te hou.
Van die vroegste tye is daar reeds bepaal dat ‘n mens feitlik altyd met kruispaaie gekonfronteer word. Daar waar ‘n keuse gemaak moet word watter pad die korrekte een sal wees om te neem, watter weg na die regte bestemming sal lei. Tydens sy Bergpreek daar langs die See van Galilea, konfronteer Jesus ons ook met hierdie weë – die breë en die smal pad – en as ons so luister na Jesus, dan klink die regte keuse nie juis rooskleurig nie – “die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”
Hierdie “nou poort wat na die smal pad lei” waarna Jesus verwys, blyk dat die ingang daarheen, moeilik is. Hoekom is die “poort nou?” Eerstens, die koninkryk wat ons Verlosser kom vestig het is eksklusief! Daarom is daar net één “deur” wat na die “smal pad” lei – Jesus Christus. Die leringe van die wêreld wat beweer dat álle geloofspaaie na God toe lei, is ‘n leuen wat satan ontwerp het om mense op die breë pad te hou en sodoende hulle na die verderf toe lei, want “die pad van vrede het hulle nie leer ken nie.” Die pad van vrede is ‘n Persoon – Jesus is die enigste Weg, om deur God se genade en deur geloof in Jesus Christus, deur hierdie “nou poort” in te gaan (Joh. 14:6).
Tweedens is die “poort nou” want daar is baie mense wat die evangelie van Jesus Christus verwerp, daarom sê Jesus “dié wat dit kry, is min.” Sedert Adam en Eva se sondeval is daar miljoene mense wat rondtas in die duisternis van sonde – “Die pad van die goddeloses is soos die donker: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie” (Spr. 4:19) en daarom “bly hulle in die duister as gevolg van gebrek aan insig” (Rom. 1:21). Die ingang na die “nou poort” word deur God se soewereine genade gevind, deur ‘n geestelike opwekking uit die “dood” van sonde (Ef. 2:1). “Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredinge, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is ons gered!” (Ef. 2:5).
Die “wye poort wat na die breë pad lei”, is daarenteen, so wyd dat selfs ‘n blinde daardeur kan stap. Geen probleem of inspanning word ondervind om dáár te kan ingaan nie – “hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hul onkunde volhard” (Ef. 4:18). Dit is die pad van die filosofiese “kom, eet en drink en wees vrolik, môre is ons dood.” Dit is die pad waar elkeen doen wat reg is in sy eie oë, waar ‘n mens sy eie godjie kan wees. In die ‘eie-godjiemens’ se planne is daar nie “ontsag vir God nie,” “dit gaan mos altyd goed met alles wat hy aanpak” (Ps. 10:4b-5). Dit is die pad waar “baie” hulle op bevind, sê Jesus. “Baie” is só gemaklik daarmee – dis die almal-doen-dit-tog pad.
Die keuse tussen die “nou poort en smal pad” of die “wye poort en breë pad” is elkeen se keuse, hang af waarheen ons wil gaan. Eendag moet elke mens die finale tree gee in die ewigheid in. Daar is net twee keuses gedurende ons aardse lewe wat hierdie finale bestemming gaan beïnvloed: Die maklike pad sonder God, of God se genadepad. Daar is geen middeweg of moderne alternatief nie! "So sê die Here: Staan by die kruispaaie en kyk, en vra na die ou paaie. Vra watter pad die beste is en loop dit, dan sal julle rus vind” (Jer. 6:16). Wanneer ons by die kruispaaie (die keusepaaie) staan, vra dan: Wat is die beste vir my huwelik, vir my gesondheid, vir my geestelike groei, vir my gemoed, vir my ...? (Vul jou keuses in). Kies, maak dit 2025 se nuwejaarsvoorneme, en loop dan die pad waar rus gevind kan word by die Vredevors.
“’n Vurk in die pad het twee weë gebaan. Ek het die een gevolg waarlangs die minste spore gaan. En dit het al ‘n verskil gemaak” (Robert Frost).
Gebed: Here, “daar is so baie weë wat vir ons as mense reg lyk, maar dis weë van die dood” (Spr. 14:12) want U is nie daar nie. Dankie dat U die weg, die waarheid en die lewe is wat na ons hemelse Vader toe lei. Dankie dat U my vertrekpunt en my eindbestemming is. Ek bid vir hulle wat nog by kruispaaie staan en nog nie die “nou poort en smal pad” gevind het nie, dat hulle dit spoedig sal doen. Amen.
コメント