top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 21 November 2024

Koos Espach


Die oordeel van God is nie in stryd met die voorreg van die Jode nie (1)


Rigsnoer vir ons lewe


Rom. 3:1-2 – “Het dit dan enige voordeel om ‘n Jood te wees, en het die besnydenis enige nut? 2 Ja, baie, in allerlei opsigte. Die belangrikste is dat God sy woorde aan die Jode toevertrou het.”

 

Paulus het tot dusver aangetoon dat die uiterlike dinge waarop die Jode, nie-Jode en ons vertrou het, soos onder andere die besit van die wet en die besnydenis, op sigself waardeloos is as dit nie deel uitmaak van ‘n persoonlike en toegewyde verhouding met God nie. Paulus onderbreek homself nou telkens sodat hy kan seker maak dat hy ál die kwelvrae stel én beantwoord ten einde sy saak te motiveer dat almal God se wet oortree en God se genade dringend nodig het!

 

Sy eerste vraag of “dit dan enige voordeel om ‘n Jood te wees en die besnydenis enige nut het?”, beantwoord hy onmiddellik. Hy erken dat dit in alle opsigte so is dat die Jode juis ‘n voordeel teenoor ander volke het. Die belangrikste van hulle bevoorregte posisie was dat alléén Israel, die openbaring van God se woord in die Ou Testament ontvang het – “God het sy woorde aan die Jode toevertrou.” Daarom kon God met reg aanspraak maak op die trou van Israel teenoor sy Woord.

 

Ons het vandag die voorreg van die volle openbaarmaking van God se Woord in die Ou- én Nuwe Testament. Ons is selfs meer bevoorreg as die Jode van destyds. God se roeping tot ‘n persoonlike verhouding met ons, word veral sigbaar deurdat Hy kennis van Hom binne ons bereik gebring het. En om ons nog verder te bevoorreg, bring Hy dit in ons eie taal! 

 

Die vraag is egter: wat maak ons met hierdie voorreg? Het God se Woord – die Bybel – maar net nog ‘n boek geword wat êrens in die huis stof opgaar? Dit word nie eers meer Sondae saamgeneem kerk toe nie want die tegnologie bring die teks op ‘n skerm vir ons. “Die belangrikste is dat God sy woorde [aan ons] toevertrou het,” en dit beteken nie dat die Bybel veilig gebêre moet word nie, maar wat daarin staan geléés moet word, gedóén moet word en wat dit vra, te déél met ander.

 

Ons moet God altyd dank omdat ons bevoorreg is om ‘n Bybel te kan besit – dit is lewende woorde van die lewende God wat sy Woord vir ons uit genade gee! Ons moet ook besef dat die blote besit van ‘n Bybel en selfs gereelde Bybellees, ‘n leë uitwendige roetine word as dit nie daartoe lei dat ons onsself oorgee en in ‘n gehoorsame verhouding met God begin lewe nie.

 

Ons lees ook nie die Bybel net omdat ons van kleins af geleer is om dit te lees nie. Ons lees die Bybel omdat dit die waarheid is waarsonder ons nie kan klaarkom nie. Dit is die volmaakte openbaarmaking van die Here: “Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid ...; dit dui die regte koers aan; dit bring blydskap; dit gee insig; dis kosbaarder as goud ... soeter as heuning: wie dit onderhou se beloning is groot” (Ps. 19:8-12).

 

Gebruik ons die voorreg van die volle openbaarmaking van God se Woord om net te lees en te luister na die Woord of te luister en te gehoorsaam? Jesus doen ‘n beroep op ons om God se Woord te “hoor en daarvolgens te handel” (Matt. 7:24a). Ons het God se Woord baie nodig. Daarsonder val ons baie rond. Die God wat ons geskep het, het vir ons sy Boek gegee om te lees, oordink, bepeins en in die praktyk probeer toepas, dan eers word dit mý en jóú Boek.  

 

In ons geestelike groei moet ons nie net by melkkos bly nie, maar die Bybel in diepte leer ken. In ons studie van die Bybel moet ons soek na die Persoon van Christus en daarin moet die Heilige Gees ons lei. Die belangrikste van Bybelstudie is om onsself so te verdiep in God se Woord om uit te vind wat God vir mý en jóú wil sê, sodat ons vrugte kan dra, vrugte wat sal hou!

 

Psalm 119 byvoorbeeld, handel oor God se Woord wat ons leer dat ons wonderlike dinge kan beleef as ons erns daarmee maak. Enigiets anders is nie volmaak nie, maar met sy Woord is dit anders: “Ek het ondervind dat alle volmaaktheid perke het, net u gebod (Woord) het geen begrensing nie” (Ps. 119:96). Maar dit help nie as dié Boek toe bly nie. Maak die Bybel oop en lees dit gereeld – dit is ‘n Boek van waarheid vol boeke van waarhede - dis ‘n rigsnoer vir my en jou lewe!

 

“Wie die Bybel vinnig lees, trek net so min voordeel daaruit as wat ‘n by daaruit sou kry indien hy skrams oor ‘n blom vee eerder as om diep in te gaan en die stuifmeel uit te haal” (Madame Guyon).

 

Gebed: Here, ek bely vandag dat my gehoorsaamheid aan U, soms maar power is. Ek wil graag agter die verskoning wegkruip dat daar soveel dinge in U Woord is wat ek nie verstaan nie, maar dit sou ‘n leuen wees want ek het deur U Gees, U as Outeur leer ken. Dankie vir U Woord, ‘n fontein van lewende water, die onfeilbare rigsnoer vir my lewenspad, die onbeskryflike bron van wysheid en troos. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page