Gedagte vir Vandag
Vrydag, 8 November 2024
Koos Espach
Die besit van die wet stel jou nie vry van straf nie (3)
Is jy die regte een wat verbykom?
Rom. 2:14 – “Wanneer heidene, wat nie die wet het nie, tog vanself dinge doen wat die wet vereis, is hulle vir hulleself ‘n wet al het hulle nie die wet nie.”
Vergelyk ook Matt. 7:21-23 – “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. 22 Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam duiwels uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ 23 Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”
Vanaf vers 13 waar Paulus ‘n stelling maak dat by God, die Regter voor wie ons hele lewe soos ‘n boek ooplê, dit nie net gaan oor ‘hoor’ van die wet nie, maar ook die ‘dóén’ daarvan, kom die vraag spontaan na vore: wat van die heidene wat nie die wet van God ontvang het nie? Hoe kan hulle God se wet toepas wat nooit aan hulle gegee is nie? Hoe kan hulle die God van die wet dien, as hulle nie eens weet van Hom nie? Paulus het egter ‘n antwoord gereed: die heidene weet diep in hulleself wat reg en wat verkeerd is. Al het hulle nie die Tien Gebooie nie, “is hulle vir hulleself ‘n wet.”
Paulus se argument is daarom nog steeds dat die heidene én Jode voor God se regbank skuldig staan. Paulus verskoon die heidene nie hiervan nie, hulle kan nie algehele onkunde met betrekking tot die wil van God pleit nie, want God se werke van sy hande gaan voortdurend ook tot hulle uit. En ons, wat van ek en jy wat die wet het en weet wat dit vereis?
Onwillekeurig het die laaste woorde van Jesus in vers 23 van ons vergelykende teks: “julle wat die wet van God oortree,” my laat dink aan die Fariseërs se verdraaiing van die wet (Matt. 5:20). God se wet is saamgevat as “liefde vir Hom en liefde vir ons naaste” (Matt. 22:37-40). As ons dus anders as die Fariseërs wil wees, behoort ons dan ons geloof met dade te bewys. ‘n Waaragtige geloof in Christus moet dus uit sy aard vrugte dra – dade van liefde wat by ‘n geloof behoort wat God en ons naaste dien.
Ek glo nie daar is een gelowige wat nog nie Jesus se gelykenis van die barmhartige Samaritaan gelees of gehoor het nie (Luk. 10:25-37). Die volgende ware storie het my daaraan laat dink. Een Sondag toe die mense by ‘n sekere kerk begin opdaag vir die diens, lê daar ‘n boemelaar, vuil en verwaarloos so entjie van die hoof-ingang van die kerk af. ‘n Onaangename reuk van sy kant af, vergesel die kerkgangers terwyl hulle die kerk instap. Almal het hom half sleg aangekyk, maar niemand het nader gestap om te help nie. Feitlik almal het gepraat oor die min respek wat die boemelaar het om sy dronkverdriet daar teen die kerkmuur te kom lê en uitslaap. Sommiges was selfs kwaad vir hom.
Waar skrik hulle hulle boeglam toe dieselfde boemelaar met die aanvang van die diens, op die kansel stap. Dit was die hele tyd die predikant wat hom so vermom het. En toe preek hy oor die barmhartige Samaritaan – lae hou! Watter geluk was dit nie vir die man wat onder die rowers geval het dat die Samaritaan verbygekom het om hom te help nie? Hoeveel keer is ek en jy die regte een wat verbykom? Hoeveel keer kon ons al ‘n verskil gemaak het in mense met nood se lewe? Hoeveel keer het ons al?
Dié verhaal leer ons mos dat daar nie ‘n verskoning is nie. Die priester en Leviet het seker belangrike dinge gehad om te doen, maar hulle het ‘n ideale geleentheid gemis om Jesus se voorbeeld van diens en omgee te verrig. Daar is baie geleenthede wat my en jou pad elke dag kruis, kom ons gebruik hulle. Kom ons bid dat die Here ons moet gebruik. Dalk moet ons net vra dat ons die regte een is wat verbykom! Ons is tog die mense wat vir Jesus, “Here, Here” sê, nie die ateïs of hulle wat nie vir Jesus ken nie.
“God wants availability more than ability” (Robert Browning).
Gebed: Here, Here, ek skiet verskriklik ver tekort in my pogings om ‘n behoorlike en toegewyde dissipel van U te kan wees. Ek praat die regte “kerktaal” van mense en engele, maar bly ‘n klinkende metaal en galmende simbaal. Help my om U liefde prakties te demonstreer wanneer ek die regte een is wat verbykom. Here, Here, gebruik my in die wêreld waar ek werk en leef. Amen.
Comments