top of page

Gedagte vir Vandag

19 April 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (66)

(Matt. 16:21–25:46)


Die vraag oor Jesus se gesag (1)

(Mark. 11:27-33; Luk. 20:1-8)


Strikvrae eindig gewoonlik met ‘n powere “ek weet nie”!


Matt. 21:23-27 – “Jesus het na die tempel toe gegaan, en terwyl Hy besig was om die mense te leer, kom die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk na Hom toe en vra: ‘Met watter gesag doen U hierdie dinge? En wie het u hierdie gesag gegee?’ Toe antwoord Jesus hulle: ‘Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen. Die doop van Johannes, waar het dit vandaan gekom: van God, of van mense af?’ Hulle redeneer toe onder mekaar: ‘As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy vir ons sê: Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ Maar as ons sê: ‘Van mense af,’ kom ons by die mense in die moeilikheid, want almal beskou Johannes as ‘n profeet.’ Toe antwoord hulle vir Jesus: ‘Ons weet nie.’ En Hy sê vir hulle: ‘Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”


Ná Jesus se opspraakwekkende tempelreiniging en die vervloeking van die vyeboom, “kom die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk” om ‘n gesprek met Jesus te voer “terwyl Hy besig was om die mense te leer.” Markus meld dat die skrifgeleerdes ook die “kommissie van ondersoek” vergesel het. Hulle open die gesprek met ’n vraag wat aanleiding gee na ’n reeks van vyf twisgesprekke (Matt. 21:23-22:46) tussen Jesus en die Joodse leiers, gesprekke wat telkens uit ’n vraag en tipiese Rabbynse teenvraag van destyds bestaan. Matteus voeg tussenin ook drie gelykenisse van Jesus by, as deel van Sy dialoog met die leiers.


Ter informasie, moet ons daarop let dat die priesterhoofde uit die stam van Levi kom wat verantwoordelik was vir die tempeldiens; die familiehoofde was die leiers van die volk, die ryk elite, en die skrifgeleerdes was die professionele skrywers wat verantwoordelik was om die Ou Testament te kopieer. Hulle was kenners van die Joodse Wet, en “onderwysers” in die sinagoges. Hierdie “kommissie of afvaardiging”, d.w.s. verteenwoordigers van die Joodse Raad wat belas is met die handhawing van die orde in sake, rakende die Joodse godsdienstige en ook nasionale lewe, wil weet wie Jesus die reg gegee het om op hulle terrein te oortree, wie Hom die gesag gegee het om binne hulle klein koninkrykie op te tree?


Op hulle vraag van wie Jesus hierdie “gesag ontvang het om hierdie dinge te doen?”, sou hulle graag wou hê Jesus bevestig Hy kry sy gesag van God – ‘n rede vir hulle om Jesus onmiddellik van godslastering te kon aankla. Dit beteken die doodstraf en hulle is van Hom ontslae. Sou Hy sê dat Hy die gesag uit Homself het, kan hulle Hom aankla dat Hy Homself bo die Wet stel en die gesag van die Wet aan Hom toeëien.


Jesus se antwoord is ’n teenvraag – heel gebruiklik vir destydse Joodse rabbi’s – wat die eintlike saak aan die orde stel: “Kom die gesag waarmee Johannes die Doper doop van mense of van God?” Dit plaas die “kommissie” voor ’n dilemma. Ek dink hulle het besef dat dit ‘n strikvraag is. “Hulle het toe onder mekaar begin redeneer”: Indien hulle erken dat Johannes se gesag van God kom, impliseer dit dat hulle Johannes moes geglo het en dus ook Jesus se gesag moes aanvaar. Johannes het immers as wegbereider vir Hom opgetree (Matt. 3:11, 14; Matt. 11:7-10). Aan die anderkant, sou hulle sê Johannes was net ‘n selfaangestelde profeet, sou die skare teen hulle draai omdat die skare Johannes as God se gestuurde beskou het. Jesus het hulle in ‘n hoek, daarom die maklike maar uiters swak antwoord van hierdie belangrikste manne van die Jodedom, wat eintlik behoort te weet: “Ons weet nie.”


Die vraestellers wou Jesus tot rekenskap roep i.v.m. Sy optrede, maar kan vir hulleself geen rekenskap gee omtrent die optrede van Johannes die Doper nie. Hulle weier (of kan) nie Jesus antwoord nie. Daarom weier Jesus ook en so ontneem Hy hulle die kans om Hom aan te val oor Sy eie aanspraak op gesag. Terselfdertyd bring Hy die sluheid en huigelagtigheid van sy teenstanders aan die lig. Sy getuienis dat Johannes nét die wegbereider was en dat Jesus die sterkere was wat sou kom, is bewys genoeg vir sy Goddelike gesag. Wie hierdie getuienis nie wil aanvaar nie, is in die oë van die volk geopenbaar as huigelaars.


Ons het jare gelede ‘n kerkdiens bygewoon waar die predikant met die Sondagkoerant op die kansel geklim het, in plaas van sy Bybel. Gou het hy ons gemeente se nuuskierigheid weggeneem toe hy die koerant plegtig oopmaak, en ons meedeel, die koerant berig dat God die vorige aand dood is na ‘n lang siekbed. Hy wou by ons weet of dit waar is of nie, want indien dit so is, kan ons maar die erediens verdaag. Na ‘n ongemaklike stilte het een van die ouer lidmate, taamlik hard sy afkeuring van die berig getoon en gesê: “Dominee, jy weet hoe die koerante kan lieg!” Dominee wou weet hoe seker hy is dis ‘n leuen en of enigiemand dalk bewyse het om die teendeel te bewys dat God nie dood is nie. Na nog ‘n ongemaklike stilte en ‘n paar mense wat keel skoonmaak, antwoord die predikant: “Ek kan julle verseker ek weet God leef want ek het nog vroeër vanoggend met Hom in gebed gepraat.” Hy het ons darem ook verseker dat daar nie so ‘n berig was nie. Gelukkig het niemand hoorbaar, ‘n sug van verligting gegee nie.


Dit is presies waaroor sy preek gehandel het. Eintlik wou die vraestellers weet of Jesus die “regte papiere” het om op gesag die tempel te reinig, die kreupeles en blindes te genees en soos nou in die tempel te leer. Indien Jesus nie kon bevestigend antwoord “met watter gesag Hy hierdie dinge doen nie, en wie Hom hierdie gesag gegee het,” was dit strafbaar met die dood. In Jesus as die Verlosser en Seun van God moet geglo word. Hy kan nie met logiese antwoorde bewys word nie. Hy het nie ‘n CV of die “regte papiere” nodig om te bewys Hy is God se Seun nie en met God se gesag optree nie. Hy moet geglo word. Dit vra bekering van ons wat in ‘n daaglikse verhouding met Hom lewe. Ons kan nooit vanuit ons wêreld, gevolgtrekkings oor God maak nie. Ons kan alleen vanuit die geloof, gevolgtrekkings oor ons wêreld maak.


Tot hierdie bekering word ons opgeroep om te glo dat Jesus op aarde, God se koninkryk kom bekend maak het. Hy was in God se diens. Die vraag bly steeds belangrik vir my en jou: “Glo ons in Jesus dat ons Sy gesag kan verstaan?” Indien nie, stry ons net soos die Joodse leiers oor die oorsprong van Sy gesag. So het Jesus sy eie voorskrif aan ons nagekom: “Elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie die minste onder julle almal is, hý is groot” (Luk. 9:48). Dis nie die magtige, onoorwinlike held wat waarlik gesag afdwing nie, maar Hy wat in staat was tot algehele selfoorgawe en tot selfvernietiging sodat Hy ander kan red. Die Leeu is alleen Leeu omdat Hy nie geaarsel het om Lam te word nie. Jesus het Lam geword en daarom kan Hy met gesag soos die ware Leeu optree (Op. 5).


“God se wese en gesag is so onbegryplik groot dat ons sintuie nie ten volle Sy majesteit kan waarneem nie” (Johannes Calvyn).


Gebed: Here, daar was al verskeie mense wat teenoor my gewonder het of ons die regte godsdiens beet het? Dan antwoord ek maar beskeie dat ek die Oorsprong van Jesus se gesag ken! Wanneer hulle sien hoe “dedicated” ander gelowe is, sommige van hulle wat tot vyf keer ‘n dag bid en sóveel ure opoffer vir hulle geloof, is seker rede om oor te wonder. Maar dan kom ou Paulus en verseker my dat ons “oor een ding nie hoef te twyfel nie, naamlik dat ons godsdiens nie iets is wat ons kon uitgedink het nie. Dit was God se geheim en gaan oor Jesus wat mens geword en die Gees het dubbel en dwars beklemtoon dat Jesus aan die regte kant staan. Die hemelse wesens het Hom gesien, sy boodskappers het al die nasies van Hom vertel en deur die hele wêreld het mense in Hom begin glo. Hy is na God toe in die hemel waar almal kan sien hoe belangrik Hy is.” (1 Tim. 3:16). Dankie Here, ek is seker. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page