top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 30 Oktober 2024

Koos Espach


Die regverdige oordeel van God (5)

 

God se goedheid

 

Rom. 2:4-5 – “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie. 5 Maar deur jou verharding en jou onbekeerlike hart is jy besig om vir jouself straf op te gaar vir die oordeelsdag, wanneer God Sy regverdige oordeel sal uitspreek.”

 

Ons het tydens die vorige gedeeltes, met skok waargeneem dat God ons direk aanspreek oor ons eie sondes wat ons te ‘blind’ is om raak te sien. Ja, ons aanbid miskien nie afgode soos die heidene nie en ons beoefen dalk nie seksuele perversiteit nie, maar op ons eie manier is ons óók besig om God nie werklik as God te eer nie. Ons is op ons eie manier aan Hom ongehoorsaam. Deur ander mense te oordeel terwyl ons skuldig staan met die dieselfde oortredinge, behoort ons te besef ons staan ook in ons liefdeloosheid, strafwaardig voor God.

 

Maar hoekom het God my dan nog nie gestraf nie? Gee God my “carte blanche” om maar aan te hou om te sondig? Of dink ons dalk dat God ‘n God van liefde is en ons nie sal oordeel soos Hy die heidene oordeel nie? Ek meen, my lewe is darem nie té sleg nie – ek gaan mos kerk toe, gee my dankoffer, lees Bybel, bid, gee om vir ander ...! Nee! Dit is beslis nie genoeg nie. God ken my huigelagtige hart, Hy het my oë oopgemaak en my pynlik bewus gemaak van my eie sondes en ek verdien sy oordeel.

 

Paulus vra “of dit niks vir ons sê nie?” Ja Paulus, dit behoort, maar ... “selfsug en ongehoorsaamheid” gee nog steeds die deurslag in ons lewe, ten spyte van God wat ons gewete al sóveel keer deur ‘n preek of Skrifgedeelte, aangespreek het. Ons is nog onsensitief teenoor die sonde, ons ly aan ‘n “almal-doen-dit-tog” sindroom en vind vrede met onsself daardeur. Ons sal eendag as ons ouer is bekommerd wees oor die oordeel wat wag. Buitendien, ons beplan mos nie om nou al dood te gaan nie, daar is nog te veel dinge wat ons wil doen en vermag. En ou Paulus se waarskuwing dat die gevolg van “ons verharding en ons onbekeerlike hart, ons besig is om vir onsself straf op te gaar vir die oordeelsdag,” val op dowe ore.

 

Die slim mense reken dat die mens altyd ‘voel’ hy of sy is aan die begin van hulle lewe. Ons kan op hierdie stadium van ons lewe onsself nie bring tot by ‘n punt waar ons met die realiteit van die sonde kan afreken nie. Ons kyk na die lewe met die oë van ons verstand en ons verstand wil ons vertel dat die lewe ‘n lied is en daar is om te geniet terwyl ons nog kan! Dit gebeur wanneer die waarheid, wat deel van God is, net nie meer die waarde in die samelewing het as wat God daaraan gegee het nie.

 

Hoe anders kan mense sleg, goed noem, en goed sleg? Buite-egtelike verhouding mense, noem hulself “open-minded”; mense wat hulle alkohol afhanklikheid voed, noem dit “stop vir ‘n vinnige knertsie”; steel van die werkgewer word “ek vat net wat hulle my eintlik skuld”; selfverryking en korrupsie word “hulle skuld dit vir ons”. In die proses word die mens, of kom ons bring dit maar nader, word óns verstrik in die kettings van sonde, en ons kom dit nie agter nie.

 

God word nie deur verkeerde name geflous nie. Hy sien elkeen van ons se dade vir wat dit werklik is en nie vir wat ons hulle noem nie. Ons kan nie God om die bos lei nie! Inderwaarheid is ons eintlik “besig om vir onsself straf op te gaar vir die oordeelsdag.” Ons moet erken dat sonde ‘n feit van die lewe is, en nie slegs ‘n tekortkoming nie. Ons moet weer sonde ‘n slag sonde noem! Dit is ‘n blatante opstand teen God, en óf sonde óf God moet in my en jou lewe tot sterwe kom. As sonde in ons heers, sal die lewe van God in ons doodgemaak word; as God in ons heers, sal sonde in ons doodgemaak word.

 

Dankie tog! Paulus sê “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld.” Ek en jy het met God se guns te doen, God se genade! God wil ons ‘n geleentheid gee om te verander, te bekeer, en daarom hou Hy sy toorn nog in. God handel nie met ons na wat ons verdien nie, maar gun my en jou nog tyd omdat Hy nie die dood van ons as sondaar begeer nie, maar ons bekering. Dalk het ons ‘n tweede bekering nodig, of vanweë ons wispelturige harte, is bekering dalk ‘n herhalende noodsaaklik.

 

God reik na ons uit – Hy het dit reeds met sy Seun se kruisiging bewys! Soos Hy sy liefde in die geskiedenis aan die mensdom aangebied het, so kom bied Hy dit elke dag vir my en jou aan. “Hy is barmhartig en genadig, lankmoedig en vol liefde. 9 Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. 10 Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, 11 want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien” (Ps. 103:8-11). Ons is vir Hom kosbaar. Ons name is in sy handpalms ingegraveer. Jesus het gesterf, sodat ek en jy kan lewe! Hoe reageer ons op God se grenslose genade?

 

“Genade genees nie alle kanker nie, maak nie al ons kinders slim nie en laat ons nie altyd suksesvol wees op alle gebiede nie. Genade is een woord vir álles wat God vir ons in die gedaante van Jesus Christus is!”

(Lewis Smedes).

 

Gebed: Dankie Here dat U ryk is in goedheid, verdraagsaamheid en geduld. Dankie dat U nie ongeduldig met my raak nie en my elke dag toevou met U onverdiende genade. Dankie dat U dit weer en weer kom aanbied op presies die regte tyd wanneer ek dit die nodigste het. U Naam ter eer. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page