Gedagte vir Vandag
Maandag, 21 Oktober 2024
Koos Espach
Die sonde en die straf (7)
Wie is ék vir God
Rom. 1:26-27 – “Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ‘n teen-natuurlike omgang. 27 Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit.” (2)
Sterk stemme gaan hedendaags op vir die erkenning van homoseksuele en lesbiese regte. Daar is ‘n toenemende getal mense wat sulke verhoudings as ‘n aanvaarbare lewenswyse sien. Maar hoe gaan ons na die Bybel as ons gesagsbron luister? Ons kan tog nie sekere dele uitsny of verkieslik net vinnig daaroor lees en dit afmaak as ‘outyds’ nie. Die probleem kan geïllustreer word met die volgende tekste byvoorbeeld: “Jy mag nie ‘n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ‘n afstootlike sonde” (Lev. 18:22); “Julle moet julle op geen van hierdie maniere verontreinig nie, want dit is wat die heidene gedoen het wat Ek voor julle verdryf” (Lev. 18:24); “Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ‘n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word” (Lev. 20:13).
In ons dag word die Bybelse lering oor homoseksualiteit uitgedaag en aangeval. Mense het baie besware teen verse soos Romeine 1:26-27. Hierdie twee verse vorm seker die belangrikste verwysing in die Bybel waar daar na homoseksualiteit verwys word. Wat ons hier behoort raak te sien, is dat Paulus in hierdie gedeelte ‘n teologiese oogmerk het – die herstel van die regte verhouding met God op grond van God se genade. Die perspektief kom uiteindelik duidelik na vore in Romeine 11:32: “God het almal aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal kan ontferm.”
Oor een ding kan ons seker wees, homoseksuele en lesbiese verhoudings is nog lank nie afgehandel of oor klaar gepraat in ons kerke nie. Die debat oor gay-wees kom nie net in Afrikaanse kerke voor nie, maar in omtrent alle kerke op aarde. En almal weet die kerk het ‘n groot verantwoordelikheid teenoor sommige van hulle lidmate, ernstige gelowige mense, selfs predikante, wat op seksuele gebied ‘anders’ georiënteerd is. Dit is gelowige mense wat hulle pad deur die lewe moet vind en ván hulle voel selfs dat die kerk sy deure vir hulle gesluit het.
Dit is mense soos ek en jy, gelowige lidmate van die kerk wat worstel met vrae oor hulle emosies, hulle gedagtes, hulle ‘andersheid’. Mense wat wil weet: “Wie is ek vir God?” Die belangrikste is dat ons as mede-gelowiges die Bybelse standpunt in hierdie verband op só ‘n manier oordra dat God verheerlik word. Ons moenie só optree dat God se genade verduister word nie, ook nie asof ons sonder sonde is nie. Die eerste wat ons sou kon antwoord op die vraag is moontlik: “Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes ... U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep ...” (Ps. 139:1, 13-14).
Psalm 139 is ‘n aangrypende loflied van Dawid wat self deur allerlei storms in sy lewe gegaan het. Alhoewel hy ‘n menigte hoogtepunte én laagtepunte beleef het, was hy gedurigdeur bewus van God se Hand wat hom vashou en lei. Iemand het gesê gay wees is nie noodwendig anders wees nie. Dit is eiesoortig. Vir hierdie eiesoortigheid benodig hulle nie ‘n valbyl nie, maar ‘n uitgestrekte hand. Dalk is Dawid se laaste woorde in die Psalm, die uitgestrekte hand: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. 24 Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!” (Ps. 139:23-24).
“Christene moet elke dag kies tussen ‘n lewe van emosie en ‘n lewe van geloof. Hulle riglyn is dat emosie meestal om jouself draai terwyl geloof God se eer in gedagte het” (Andrew Murray).
Gebed: Here, ek fluister vanoggend my gebed. Ek is ook skuldig daaraan om homoseksuele en lesbiese persone met ‘n hoogmoedige gesindheid te benader. Dit terwyl hierdie ‘anderse’ verhoudings slegs twee gedeeltes is van die lang lys sondes waaraan ek skuldig is. Here, ek prewel in U oor die waarheid van my lewe, dankie dat U my nie verwerp nie, en my steeds liefhet. Amen.
Comments