Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Oct 18, 2024
- 4 min read
Vrydag, 18 Oktober 2024
Koos Espach
Die sonde en die straf (6)
Verregaande onsedelikheid
Rom. 1:26-27 – “Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ‘n teen-natuurlike omgang. 27 Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit.”
As agtergrond, net eers die volgende: Die gemeente in Rome en die impak van die wêreld waarin hulle gelowiges moes wees, was steeds enorm. Keiser Nero was toe al 3 jaar aan bewind in Rome en sou tot in 68 nC aan bewind bly. Dit was bekend dat Nero twee keer getroud was met mans in sy termyn, wat beteken dat dit nie net deel was van die manier van doen in die Romeinse samelewing nie, maar iets wat op die hoogste vlak gebeur het. Trouens, dit was nog meer bekend in die Griekse samelewing van dié tyd. Paulus sou dus met oogklappe moes gelewe het om nie daarvan te geweet het nie.
Ons het reeds genoem dat Paulus nie ‘n moordkuil van sy hart maak nie. Hy laat die mensdom duidelik verstaan dat God kwaad is oor die mensdom se sonde, en nie sonder rede nie. Dit is ook belangrik dat ons die inhoud van vandag se teks, as Paulus se eie gedagtes so verstaan. Paulus noem tweedens dat “God die mensdom oorgee” aan, onder andere. onsedelikheid in die algemeen, skandelike selfdegeslag drifte en onbetaamlike gedrag wat deel is van die afvallige goddelose en ongeregtigde mensdom, waarvan alle mense deel is!
Hier is die fokus op die mensdom se disrespek (ontering) vir God en vir mekaar se liggame. Dit sluit die seksuele ontering van mekaar se liggame buite die huwelik in, of dit nou heteroseksueel of homoseksueel gebeur. Selfdegeslag “skandelike drifte” (of drange), vrou-vrou en man-man wat in selfdegeslag seksuele gedrag na vore kom, word as skandelik (disgraceful), en pervers uitgebeeld. Hierdie selfdegeslag seks het nie met prostitusie – daar is geen geld of ‘n tempel betrokke nie – maar met wedersyds-instemmende selfdegeslag seks tussen volwassenes van dieselfde geslag, te doen.
Paulus beskryf hierdie selfdegeslag seksuele gedrag as “teen-natuurlik.” Daarmee bedoel hy dat dit teen die skeppingsbedoeling van God vir die mens is. Alles in die hemel en op aarde behoort aan God. God het gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld ...” (Gen. 1:26). Hy het ons formeer uit die stof van die aarde en die lewensasem in ons neus in geblaas (Gen. 2:7). Wanneer ons ons liefde aan die wêreld ‘verkoop’, pleeg ons owerspel en verloën ons God se liefde. Dan tree ons nie op as Hulle verteenwoordigers en dra ons beslis nie Hulle beeld uit in die wêreld nie. Satan het dan hierdie rondte gewen!
Paulus laat dus nie toe vir óf korttermyn, óf langtermyn selfdegeslag seksuele gedrag nie. Die enigste ruimte wat hy vir seks erken, is die ruimte van die huwelik tussen man en vrou (1 Kor. 5-7), en soos Jesus ook geleer het: “Die Skepper het (die mens) van die begin af man en vrou gemaak . 5 Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle sal een wees” (Matt. 19:4-5).
Paulus wys dus hier alle selfdegeslagverhoudings konsekwent af. Dié besef is skokkend radikaal en absoluut. Baie mense sou dalk wens dat Paulus verkeerd was, óf dat ons vandag dié woorde kan ignoreer. Maar vir ‘n kerk wat die Bybel as die Woord van God aanvaar, wat glo dat die leer wat in die Ou en Nuwe Testament en in die belydenisskrifte van die kerk vervat is, die ware en volkome leer van die verlossing is, is dit egter onmoontlik. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was of is, met die Goddelike Skrif gelykstel nie. Wat ons wel kan doen, is om geen gelowige mens wat ‘n selfdegeslag aantrekkingskrag beleef, uitsluit nie. Niemand word versaak nie, maar so, kan ons ook nie die boodskap van die Bybel versaak nie.
Wanneer God as Skepper vervang word met ’n skepsel, word die natuurlike omgang van geslagte vervang met die teennatuurlike. Ons kan nie God én die wêreld dien nie. God deel nie sy skepping (ons), met satan nie, daarom eis Hy onverdeelde trou (Eks. 20:5). Om ons begeertes te vermeng met die wêreld, beteken dat ons in ‘n gevaarsone beland waar ons beheers word om “’n vriend van die wêreld te wil wees”, wat buite die konteks van God en sy wil is. Iemand wat hom deur sy eie begeertes laat lei, bewys daarmee dat hy of sy uit die verhouding met die Here wil wees, en eerder in ’n vriendskap met die wêreld wil gaan. God en die wêreld is in konflik met mekaar en sluit mekaar uit! Die keuse is dus onafwendbaar: “’n vriend van die wêreld, is ‘n vyand van God.” (Jak. 4:4).
“Kies slegs vriende wat jou op die pad na die hemel toe kan help” (John Wesley).
Gebed: Here, wanneer ek saam met “vriende” beweeg wat die dinge van die wêreld liefhet, is ek geneig om ook so te word, te praat en te handel. Dankie dat U genade só oneindig groot is, dat U soos ‘n wagtende Vader U arms uitstrek om my terug by U te verwelkom, sonder enige verwyte. Dankie dat U ‘n onveranderlike Vader bly wat nie kantoorure het nie, maar altyd daar is om ‘n stukkende sondaar soos ek te ontvang. Vergewe my my sondes, Here. Amen.
Recent Posts
See AllVrydag, 25 Maart 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (2) Die wet ontmasker die sonde Rom. 7:9-12 – “Voorheen, toe die wet nie daar...
Donderdag, 24 April 2025 Koos Espach Die wet en die sonde (1) God voorsien in ons behoeftes Rom. 7:7-8 – “Wat is dan ons gevolgtrekking?...
Woensdag, 23 April 2025 Koos Espach Bevry van die wet en in diens van God, diensbaar aan Christus (3) Diens vir my en jou is nie...
Comments