Gedagte vir Vandag
Maandag, 14 Oktober 2024
Koos Espach
Die sonde en die straf (2)
God se krag is ewigdurend
Rom 1:20b-21 – “Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, 21 omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister.”
Paulus is nog nie klaar met die mense wat onskuldig pleit omdat hulle nie “van God geweet het nie.” Hy sien die tragiese daarin dat hulle nie hul kennis van God reg gebruik het nie. Al het hulle nie die openbaringsboeke van die Ou Testament gehad, oftewel niks geweet het van die Tien Gebooie nie, kan hulle steeds aanspreeklik gehou word vir hulle sonde. God se skeppingswerk is immers oral te sien.
Dit word vertel dat sommige van Napoleon se troepe op ‘n stadium twyfel oor die bestaan van God uitgespreek het. Daarop het hy hulle in die nag na die sterre laat opkyk en vir hulle gesê: “Menere, julle sal eers van húlle ontslae moet raak!” Wanneer ons God se skeppingswonders aanskou, kan ons nie anders as om “God te eer en te dank nie.”
Jeanette Struchen, ‘n Amerikaanse skryfster, het hierdie aangrypende gebed van God se skepping geskryf:
O God van wonders, ek hef my hande op na U in woordelose verwondering!
U wat die hemelligame in hul bane hou, en sterstof oor die hemelruim uitstrooi;
U wat na die reën die reënboog verf, en blitse op die aarde laat dans;
U wat die wolke skud totdat hulle lek en doudruppels in grasspriete laat glinster,
U wat donderweer teen die rotse laat vasslaan en sonstrale deur die mis laat breek;
U wat bloeisels op geheime plekke laat knop, en die seisoene op hulle tyd nader wink;
U wat rooster hou van die ure van die dag en nag en die ligblou eiertjies in ‘n voëlnessie tel;
U wat die koraalriwwe in die see hul kleur gee en slapende kraters skielik met vuur kan laat spoeg;
... WONDERBAAR is u NAAM!
Maggies, dis mooi! En dan is daar steeds mense wat sê daar is nie ‘n God nie? Dat die mense God nie ken nie, is dus nie God se skuld nie. Die strekking van Paulus se argument is dat die mense nie van die Lig wat hulle wel gehad het, gebruik gemaak het nie, en daarom skuldig is en aanspreeklik gehou kan word vir hulle sonde. Niemand kan sê dat hy of sy nie geweet het nie, “en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister.” Niemand kan God weg redeneer nie! Sy krag is ewigdurend!
Die Lig is dáár vir almal, Jesus sê self so, maar die mens het die duisternis méér lief as die lig (Joh. 3:19). Onbegryplik, maar dit is wat die sonde aan die mens gedoen het. Hy haat die duisternis, maar in plaas van na die lig te kom, vlug hy dieper die duisternis in. Dít terwyl Jesus ‘n belofte aanbied vir elkeen wat ‘n oplossing vir hulle probleme soek. Jesus se uitnodiging staan steeds: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Joh. 8:12). Jesus is steeds dieselfde Jesus Christus van Paulus se tyd, Hy het nêrens heen gegaan nie.
Die oplossing vir die chaotiese duisternis in die wêreld is dus nie iets nie, dit is Iemand! Dit is 'n Persoon! Dit is Christus! En Hy is aan die beweeg. Hy is nie 'n lig wat stilstaan op een plek nie. Net soos die vuurkolom voor die volk Israel uit beweeg het en hulle dit gevolg het, beweeg die Here Jesus – dag en nag. Ek en jy wat Hom volg, moet ook bereid wees om te beweeg en te volg waar Hy lei. En as ons Hom volg, sal ons nóóit weer in die duisternis leef soos die tyd voordat ons 'n volgeling van Jesus geword het nie – nóóit weer nie. Dit is Sy belofte, trouens, ons ‘sal die lig hê wat léwe gee.’ Dit beteken die duisternis is vir ewig verby. Sy lig is die lig van die léwe. Wat 'n verskil!
“Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig” (Ef. 5:8).
Gebed: Here, hierdie kersie wat ek aanbied, is ‘n stukkie van myself. Vroeër was ek die ene duisternis, maar nou in U is ek lig. Help my om dan te leef as ‘n mens van die lig en weerhou my dat ek nie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie. Help my om U ligdraer te wees wat ander help om ook hulle liggies te laat skyn. Amen.
Comments