Gedagte vir Vandag
Donderdag, 10 Oktober 2024
Koos Espach
Paulus se dank, verlange en verpligting (8)
Onbeskaamde getuie
Rom 1:17 – “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: ‘Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” (2)
Paulus het nog nie klaar aan sy lesers verduidelik waarom die evangelie so ‘n reddende krag is nie. Sy motivering behels kort en kragtig: Die evangelie is ‘n reddende krag omdat God daarin bekend maak dat Hy skuldige mense soos ek en jy volkome vryspreek! En dit gebeur nie omdat ons goeie dinge doen nie, maar geheel en al deur ons geloof in Jesus Christus ons Here.
Ons staan eintlik in die beskuldigdebank en moet volgens ons eie verdienste, skuldig pleit. Die Regter móét ons veroordeel want ons sondaars verdien dit. Maar teen alle verwagting in hoor ons die Regter sê: “Jy is vry. Jesus het in jou plek gesterf.” Al wat ons moet doen, is om hierdie uitspraak te glo! Christus het hierdie vryspraak deur sy volmaak sondelose lewe verdien. Martin Luther het dit die groot “ruiltransaksie” genoem wat tussen Christus en sondaars plaasgevind het. Toe Jesus ons sonde op Hom geneem het, het Hy die vryspraak aan ons gegee: “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees” (2 Kor. 5:21).
Martin Luther het geglo God is volmaak regverdig en heilig, in so ‘n mate dat enigiets wat teen sy wil ingaan, teengestaan moet word. Dit sluit in sondaars wat teen God in opstand kom. Luther het gevoel dat God ‘n standaard gestel het wat geen sondaar ooit kon bereik nie. Hy het aanvanklik aangeneem dat God se vryspraak iets is wat die sondaar slegs veroordeel. Baie jare later het hy ‘n teologiese deurbraak ontwikkel en tot die besef gekom dat God se vryspraak ‘n geskenk is wat Hy vir ons gee deur die voltooide versoeningswerk wat Paulus in Romeine 1 vers 17 vir ons gee.
Christene is nie verlos om geheime Christene te wees nie. Ek en jy kan ons nie skaam oor die evangelie nie. Ons geloof is nie iets wat privaat is nie en daarom nie “onder ‘n emmer geplaas word nie” (Matt. 5:15b). Jesus het nie vir my en jou in die geheim of privaat aan die kruis gesterf nie, maar daar waar almal Hom kon sien! Daarom moet ons gelowiges se “lig voor die mense skyn” (Matt. 5:36). Die praktiese implikasie van ons geloof is om in ons woorde en werke buite die kerkgebou se mure, oral waar ons ons bevind, daaroor te getuig. Ons taalgebruik moet ‘n lig wees wat donkerte verplaas en nie inpas by die donkerte van die wêreld wat ons omhul nie.
Ons moet aan die wêreld wys dat God se Woord ‘n verskil in ons maak. Die wêreld van ongeredde mense het lig nodig en ons as “ligdraers” van Christus, moet daardie lig wees. Jesus het ons verlos om die wêreld te belig met die evangelie. Die moeilikste is om dit woordeliks oor te dra, veral aan diegene wat dit onwelkom vind. Ons moet egter getrou bly aan ons opdrag. Jesus het immers ook belowe dat "ons krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom en ons Sy getuies in die wêreld is” (Hand. 1:8).
Ons goeie werke moet gesien kan word, sê Jesus. Dit moet nie net goed wees nie, maar iets wat ander bekoor. Dit moet “ons Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Matt. 5:16b). Christenskap moet gedemonstreer word met essensiële dade van geloof. Christene is “glo-mense” anders kan ons nie gered word nie. Christene is “doen-mense” omdat ons gered is! Om ons Christen-ligte te laat skyn, moet ons woorde deur ons dade bevestig word. Die belangrikste is egter dat ons getuienis alleen sal strek tot eer en verheerliking van God wie ons kan vertrou. Ek en jy kan God se versekering dat ons permanent vrygespreek is, met kinderlike vertroue glo en aanvaar.
“God se vryspraak is ‘n geskenk wat Hy vir ons gee en wat tot uitdrukking kom in die voltooide versoeningswerk van Christus namens gelowiges” (Martin Luther).
Gebed: Hemel Vader, dankie dat U nie uit twee monde praat nie. U bedoel elke woord wat U sê. Ek plaas my geloof in U, lewende God wat U Seun Jesus na hierdie wêreld gestuur het. Help my deur U krag en genade om U ambassadeur en ligdraer te wees in hierdie wêreld. Amen.
Comments