top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 7 Oktober 2024

Koos Espach


Paulus se dank, verlange en verpligting (5)


Ek glo! 

 

Rom 1:16 – “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood.” (1)

 

Paulus kom nou by die diepste wese van die evangelie. Vir hom is dit “’n krag van God tot redding van elkeen wat glo!” Skrifverklaarders is dit ook eens dat Romeine 1:16 en 17 eintlik die boodskap van die hele Romeinebrief in ‘n neutedop saamvat. Maar eers meer oor vers 16. Paulus kan nie anders as om weer ‘n keer oor die evangelie te praat nie. Die Romeinse Christene moet immers presies weet wátter evangelie hy verkondig. In verse 2 tot 4 het hy vir ons gesê oor Wie die evangelie gaan, nou beklemtoon hy die wese daarvan.

 

Geloof en redding is aan mekaar verbind – geloof is ‘n geskenk wat God gee op grond waarvan Hy ons red deur Sy genade. God het ons gered en in Sy genade bewerkstellig Hy, deur die Heilige Gees, geloof in ons. Daarom kan Paulus beklemtoon dat hy hom nie skaam oor die evangelie nie. Dis ‘n evangelie om op trots te wees want dit is ‘n krag wat God in sy lewe, en ook in mý en jóú lewe inbring, wat óns redding bewerk: “Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir [my en jou] wat gered word, is dit die krag van God” (1 Kor. 1:18).

 

Vir talle mense was die kruisiging van Jesus ‘n skande, ‘n aanstoot en vernedering, want die kruis was die teken van God se vloek oor iemand (Deut. 21:23b). Vir die Jode was dit onmoontlik dat verlossing bewerkstellig kon word deur iemand wie die vloek van God gedra het – (As hulle maar net kon verstaan dat Christus juis vir húlle die vloek op só ‘n manier moes dra sodat hulle van sonde vrygespreek kon word.) Daarteenoor kom Paulus en bely dat hy hom nie skaam oor die evangelie nie.

 

Maar, vra ek en jy, hoe kan ons weet dat óns ook ingesluit is in die redding waarvan Paulus praat? Waarom dan “in die eerste plek die Jood?” Is die Jode dan God se witbroodjies? Nee, God trek niemand voor nie (Rom. 2:11). Lees weer wat Paulus hier sê: “die evangelie is ‘n krag tot redding vir elkeen wat glo!” God het nog niemand gemaak vir wie Hy nie lief is nie. Almal maak vir Hom saak. Toe Jesus sy arms wyd op die kruis uitgestrek het, het Hy eintlik gesê: “Ek is sóóóó baie lief vir julle!” Hy sluit niemand uit nie. Al wat Hy van my en jou, trouens, van álle mense vra, is twee kinderlik-opregte woordjies: ek glo!

 

Daar is baie mense wat verkondig dat hulle Christene is. Dan is daar ook dié wat luidkeels, spottenderwys verwys na Christene wat kinderagtige swakkelinge is. Dalk koppel hulle dit aan Jesus se derde seënspreuk in sy bekende Bergpreek: “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang” (Matt. 5:5). Sagmoedigheid is nie ‘n woord waarmee ons geassosieer wil word nie, veral nie in vandag se wêreld nie. Elkeen wil sy eie ding doen en gewoonlik sy staal wys, en dit gaan gepaard met hardheid en soms robuustheid. Om selfbehoud toe te pas moet mens ‘n maak-en-breek tipe wees. Sagmoediges is gewoonlik die “ja-meneer-goed-meneer” outjies wat sonder ruggraat maar elke dag na ander se pype dans.

 

Dit is dus nie snaaks dat sommige Christene teruggetrokke, en selfs skaam raak wanneer hulle oor hulle geloof begin praat. Paulus was menigmaal in kettings geboei, maar hy het verby die menslike vertoning van mag gekyk, want hy het die almag van God in sy lewe gesmaak. Daarom was sy gesindheid oor die evangelie nie neerbuigend of verskonend nie – hy was nie skaam vir die evangelie nie. En ons?

 

Dan, dit is nie wat Jesus bedoel het met sagmoedigheid nie. Sagmoediges is nie skaam en teruggetrokke nie, inteendeel, Jesus sê self Hy is sagmoedig (Matt. 11:29). En Hy het nie eers vir die duiwel gestuit nie. Hy het selfs die wreedaardigste dood aan ‘n kruis gesterf vir ander. Is dít die beeld van ‘n papbroekige sagmoedige soos sommiges daaraan dink? Nóóit, dis ‘n held! Die sagmoedigheid waarna Jesus verwys, het sy oorsprong by God se genade. God neem bitter mense en maak hulle beter mense. Dit is presies wat Jesus in Sy Bergpreek doen: Hy kom roep ons op tot 'n nuwe standaard, nie die standaard van die wêreld nie, maar dié van die koninkryk van God!

 

Die evangelie is vandag steeds ‘n krag van God. In God se koninkryk word ander mense nie vir sagmoediges ‘n bedreiging nie, want ons lewensgeluk hang nie van hulle af nie. Jesus verander mense se lewe radikaal, vra maar vir Paulus. Swakkes word sterk; droewige mense word vreugdevol; siekes klou vas aan hulle geloof en word vertroos; skuldiges weet dat hulle sondes vergewe is – alles onder die geklank van die Naam bo elke naam: Jesus die Verlosser en Saligmaker!

 

“Maak seker dat die dinge waarvoor jy leef, die moeite werd is om voor te sterf” (Charles Mayes).

 

Gebed: Here, laat die krag van die evangelie my asseblief moedig maak om dit met vertroue uit te leef. Amen.

 

Comentários


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page