Gedagte vir Vandag
Donderdag, 26 September 2024
Koos Espach
A. Die Genade wat Paulus ontvang het (6)
Met só ‘n verlede is ons reg vir die job
Rom. 1:5-6 – “Deur Hom het ek die genade ontvang om apostel te wees onder al die heidennasies, om tot eer van Sy Naam mense tot geloof en so tot gehoorsaamheid te bring. 6 Julle is hierby inbegrepe; ook julle is geroep om aan Jesus Christus te behoort.” (2)
Terwyl ons probeer het om Paulus beter te leer ken, het ons gou besef dat dit feitlik ‘n onbegonne taak gaan wees om alles te onthou wat hierdie merkwaardige apostel vir die evangelie gedoen het. In ons teksvers verwys hy na die genade wat hy ontvang het om apostel te wees onder al die heidennasies. En dan wonder ons hoekom juis hy? Is dit nie vreemd dat die Here Jesus juis hierdie man kies om die inisiatief te neem in die uitvoering van die sendingopdrag nie? Trouens, miskien die grootste sendingopdrag ooit!
Paulus was eintlik ‘n ‘buitestander’ wat Jesus waarskynlik nooit eens gesien het tydens Jesus se aardse optrede nie. Waarom gebruik Jesus nie een van die twaalf wie Hy uitverkies, geleer en hulle voorberei het om onder die leiding van sy Gees, sy werk voort te sit nie? Jesus het selfs aan hulle sy groot sendingopdrag gegee om “al die nasies dissipels van Hom te maak” (Matt. 28:19). En dan, miskien die belangrikste vraag van almal: waar het Paulus die insig in die evangelie gekry?
Wel, ons kan dit direk aan die openbaring van God toeskryf: “God het egter ander planne met my lewe gehad. Trouens, nog voordat ek gebore is, het Hy Hom al oor my ontferm. Tóé al het Hy besluit dat ek aan Hom behoort en dat ek voltyds vir Hom gaan werk. 16 Later het God sy Seun, Jesus Christus, aan my bekendgemaak. Van daardie oomblik af het ek net een doel voor oë gehad: om die goeie nuus oor Christus te verkondig aan mense wat nie aan Israel behoort nie” (Gal. 1:15-16 – Die Boodskap). Hy het ook nie die evangelie van ‘n mens ontvang of by ‘n mens geleer nie: “Inteendeel, Jesus Christus het dit in openbaring aan (hom) gegee” (Gal. 1:12).
Kom ons gee so ’n treetjie terug in Paulus se BC (before Christ) dae. Hy het geglo in die wet van God en niks anders nie. Voor “God sy Seun aan Paulus bekend gemaak het”, het hy dit op homself geneem om Jesus se volgelinge van die aardbol af te vee. Hy wou hierdie ‘Jesus-sekte’ met alle mag tot ’n val bring en hier sou hy nie mooi te werk gaan nie. Inteendeel. Volgens Hand. 9:1 het hy soos ’n besetene aangegaan en die volgelinge van Jesus met die dood gedreig. Dis die man by wie ons vandag so baie leer, by wie se voete ons jare lank sit om te leer van Jesus en hoe ons vandag moet lewe, dís hoe sy verlede lyk. Glad nie ‘n goeie CV nie.
Om eerlik te wees, op daardie stadium, glo ek nie Paulus was die beste kandidaat om Jesus se storie op skrif te stel en oor Hom te getuig nie. En tog kies Jesus vir Saulus om hom daar op die Damaskuspad te ontmoet en hom te oorspoel met sy liefde en selfs sy naam verander na Paulus. Dís wat kan gebeur as ’n mens in die Here vasloop. Jesus kry Paulus jammer en gaan ontmoet hom op die pad na die lewe, ten spyte van ál die verkeerde dinge wat hy in die verlede aangevang het! En Paulus was nooit weer dieselfde nie!
God maak onbevoegde mense bevoeg. God gebruik mense wat op ’n ander pad is om op sy pad te kom werk. God gebruik mense ten spyte van wat hulle al alles aangevang het om vir Hom ’n verskil in sý wêreld te maak. En wanneer ons nou terugkyk oor Paulus se lewe, besef ons hy was eintlik die beste man vir die job. Hy ken die stofstrate waar hy beweeg het en hy ken die mense. Hy weet hoe hulle dink. Hy weet waar hulle van die pad af is. Hy ken hulle taal en manier van lewe. Wanneer hy praat, hoor hulle, want hy was soos een van hulle.
God kan my en jou ook gebruik in die omgewing waar ons woon, werk en speel, want dáár is ek en jy die beste man of vrou en selfs kind vir die job. Ons ken die mense. Ons weet hoe hulle dink. Ons weet waar hulle van die pad af is, net soos ons ook dalk was. Ons ken hulle taal en manier van lewe. Wanneer ons praat, hoor hulle, want ons is een van hulle. En dis nie asof ons ‘n keuse het nie. Namate ons in Christus ‘volwasse’ word, verskuif ons lewe al hoe meer na ‘n lewe van diens. ‘n Volwasse volgeling van Christus vra nie meer wie ons behoeftes gaan bevredig nie, maar begin dan te vra wie se behoeftes ons kan bevredig. God roep my en jou, al lyk ons verlede hóé en al dink ons wát. God wil my en jou gebruik daar waar ons is. Diens vir die Here is nie opsioneel nie!
“Ek is maar net een, maar ek is darem een! Ek kan nie alles doen nie, maar ek kan iets doen. En omdat ek nie alles kan doen nie, sal ek nie weier om die iets te doen wat ek wel kán doen nie” (Edward Everett Hale).
Gebed: Here, dankie dat U ook my verlede kan gebruik om vandag ’n verskil in ander mense se lewens te maak. Ek weet U roep my ook, soos vir Paulus, om ’n verskil te maak deur my eie ervaring te gebruik om ander beter te verstaan en beter te help. Amen.
コメント