top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 11 September 2024

Koos Espach


Paulus in Rome (10)

 

‘n Voorbeeldige lewe praat baie hard

 

Hand. 28:31 – “Hy het die koninkryk van God verkondig en die mense alles oor die Here Jesus Christus geleer. Dit het hy gedoen met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering.” (2)

 

Hoekom vertel Lukas nie verder van die doen en late van Paulus nie? Hoekom hierdie vreemde en stomp slot van Handelinge? Eerstens, Lukas se doel was nie om ‘n biografie van Paulus of ander leiersfigure in die vroeë kerk te skryf nie, maar om aan te toon hoe die evangelie versprei het ná die uitstorting van die Heilige Gees. Ons het dit dan ook deur die loop van Handelinge waargeneem hoe die evangelie wêreldwyd versprei het: Van Jerusalem (Hand. 1:1-8:3); Samaria (8:4-40); en uiteindelik tot aan die uithoeke van die wêreld (9:1-28:31). Vir Lukas verteenwoordig Rome natuurlik die ‘uithoek van die destydse wêreld.’

 

Lukas het in Handelinge vertel hoe die verhoogde Christus deur sy getuies, onder leiding van die Heilige Gees, die boodskap van God se verlossingsplan met Jesus se lyding, sterwe, opstanding en hemelvaart uitgedra het tot in Rome. Jesus se belofte het in vervulling gegaan: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand. 1:8). En dit was beslis ‘n getuienis van God se onfeilbare verlossingsplan. God het sy woord gehou!

 

Waarlik, Jesus se belofte van die verspreiding van die evangelie, is vervul. Die Heilige gees het Jesus Christus se kerk inderdaad met genoeg krag toegerus om binne ‘n relatief kort tyd van ongeveer dertig jaar na elke uithoek van die destydse wêreld te versprei. Deur die toedoen van manne soos Stefanus, Filippus, Petrus, Barnabas en Paulus het die kerk gegroei van ‘n klein groepie volgelinge wat ná Jesus se kruisiging in Jerusalem weggekruip het, tot ‘n wêreldwye, Geesvervulde beweging wat spoedig ‘n groot ergernis vir die Jode en Romeine geword het.

 

Alles wat veral Paulus ná die gebeure op die Damaskuspad gedoen het – die sendingwerk, die uitmergelende reise oor see en land, die briewe wat hy aan gemeentes geskryf het – het net een doel voor oë gehad: om mense te oortuig dat die opgestane Jesus Christus ook hulle lewens kan verander soos wat Hy syne verander het.

 

Elkeen van ons word soos ‘n Paulus geroep om ‘n vreugdevolle en doelgerigte oorwinningslewe as Christen te leef. Moeder Teresa was seker een van die beste voorbeelde van hoe toewyding aan God in die praktyk werk. Daarom kon sy sê: “Daar is niks meer spesiaal wat jy kan doen as om Jesus toe te laat om sy lewe deur jou te leef nie. Dit gaan nie oor hoeveel jy doen nie, maar oor hoeveel liefde jy in die daad steek. Laat Hy dit doen. Doen dit saam met Jesus. Doen dit met die oog op Jesus.”

 

Om sy getuies te wees (Hand. 1:8), is vandag nog die Here se opdrag aan almal wat Hom erken as Heerser en Verlosser. ‘n Betroubare getuie is iemand wat praat uit eerstehandse kennis. Alleen as ek en jy ‘n ontmoeting met die lewende Jesus gehad het soos Paulus, kan ons van Hom getuig. Hoe ontmoet ons Hom? Die Heilige Gees bewerkstellig hierdie ontmoeting. En aan ons woorde, dade en gesindheid sal mense om ons, ons getuienis beoordeel.

 

As Christene weet ek en jy mos dat Christus leef en verlos, daarom is ons gewillig om daarvan te getuig. Omdat ons Christus in sy liefde en genade ken, wil ons tog ook hê dat ander Hom ook leer ken. Volgens die kenners, die beste manier om mense daarmee te ‘help’, is om só te lewe dat hulle besiel sal word om ook te word wat Christus bedoel het hulle moet wees. Dit is ongelukkig nie altyd so maklik om ander te besiel deur ons voorbeeld nie, want ons maak self foute. Wel, almal maak foute. Die vaste Christelike waardes waarmee baie van ons ouer mense mee groot geword het, het verdwyn. Die lewe is nie meer so ordelik as voorheen nie en ons voel soms magteloos en bedreig en onveilig.

 

Maar, “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Heb. 13:8). Ons kan verseker wees van die almag en onverganklikheid van die Here. Wanneer ek en jy dus uit die lig in die duisternis inbeweeg, is God se lig altyd daar. Selfs in die toenemende verwarring van ons tyd is dit steeds moontlik om God te ken en die rykdom van sy genade te beleef. Weet mense dat ons Christene is? Toe daar in Handelinge 6 diakens moes gekies word, kon Stefanus aangewys word omdat mense van hom geweet het – ‘n man met ‘n lewende geloof – hulle het nie gewonder nie, hulle het geweet. As ek en jy die sout en die lig van Matteus 5:13-16 vir die wêreld is, sal mense dit sien want ons is mos nie undercover Christene nie. Hulle sal weet ons geloof is geanker in die lewende Christus, en sal beweeg word om ook daardie anker van versekering te wil hê.

 

“Getuienis is die verwydering van struikelblokke sodat Christus, wat in ons leef, toegelaat word om Homself aan ons naaste te vertoon” (Paul Frost).

 

Gebed: Here, gee my die genadegawe van nederigheid om ‘n betroubare getuie te wees van U reddende genade. Om Jesus ontwil en met danksegging. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page