top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 10 September 2024

Koos Espach


Paulus in Rome (9)

 

Omdat God ons liefhet ...

 

Hand. 28:31 – “Hy het die koninkryk van God verkondig en die mense alles oor die Here Jesus Christus geleer. Dit het hy gedoen met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering.” (1)

 

Lukas vat Paulus se werksaamhede in Rome met twee kort sinne saam: hy het die koninkryk van God verkondig en onderrig gegee oor die dinge van die Here Jesus Christus. Die dinge verwys na Jesus se Persoon, sy woorde en dade soos sy prediking, wonderwerke, sterwe, opstanding, regering as Koning in God se koninkryk; ‘Here’ verwys na Hom as God en Regeerder; ‘Jesus’ na Hom as Verlosser; ‘Christus’ as God se Gesalfde Priester wat Homself geoffer het, Profeet wat God aan ons kom openbaar, Koning wat regeer oor die hele skepping – “Daar is nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe” (1 Kor. 8:6).

 

Met groot nadruk sê Lukas dat Paulus gepreek en onderrig gegee het ‘met die grootste vrymoedigheid.’ Sy innerlike gesteldheid was vrede met God, met sy medemense en met homself, en dit het hy ‘ongehinderd’ deur die Romeinse regering gedoen, wat hom die vryheid gegee het om in sy eie huis te bly en mense vryelik te ontvang. Hy het ook op sy bewakers ‘n diep indruk gemaak. Hy kon dus as gevangene skryf: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense” (Fil. 4:4-5).

 

Paulus was ‘n blymoedige Christen. Hy was veral bly omdat die evangelie verkondig kon word ten gevolge van sy boeie. Iets wat Paulus veral by ons as mans kom soek, is blydskap. En dit is nou nie die blydskap as ons span hierdie naweek gewen het nie, want volgende naweek droog die blydskap vinnig op as dieselfde span verloor. Die blydskap wat Paulus by ons soek is daardie blydskap wat ‘n vrug van die werk van die Heilige Gees in ons lewe is (vgl. Gal. 5). Dis ‘n blydskap wat van die Here kom, en nie net vir ‘n vlietende oomblik nie, maar ‘n emosie wat gewortel is in Christus. Wat beteken dit? Paulus sê dis om bly te wees in die Here – dis blydskap oor my en jou verlossing in Jesus Christus!

 

Ons as verloste kinders van God weet wat Paulus bedoel wanneer hy sê ons moet bly wees in die Here. Dis eintlik die Here wat vir ons as verlostes sê: “Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees” (Joh. 15:11). Dit is hierdie blydskap wat Jesus wil hê ons met ander moet deel, ‘n blydskap omdat ons wéét die lewende God het ons lief, die lewende Christus het ons lief en ons dit deur die lewende Gees, met ander kan deel en vir mekaar kan omgee.

 

Blydskap is natuurlik nie om die hele dag met ‘n glimlag op ons gesigte rond te loop nie, dit is baie meer. God se idee is dat ons met ’n sak vol vreugde deur die lewe moet stap. Ons moenie met lang gesigte rondloop nie. Dis nie hoe God dit bedoel het nie. Maar ons sukkel. Ons sukkel om deur die swaar ons vreugde te vind. Ons sukkel om blydskap of vreugde deel te maak van ons lewe. Miskien is dit omdat ons ons vreugde op verkeerde plekke soek. Ons moet ons vreugde eerder in God soek. Wanneer ’n mens regtig die liefde wat God vir ons het, verstaan, kan ons te midde van die geswoeg vol vreugde wees.

 

Die Oorsprong of Bron van vreugde is omdat God my en jou liefhet. Omdat God ons liefhet, raak Hy nie ongeduldig met ons nie. Omdat God ons liefhet, hou Hy ook nie boek van ons oortredinge wat Hy vergeef het nie – Hy vergeet daarvan. Omdat God ons liefhet, sê Hy nooit daar is nie meer hoop vir ons nie. Omdat God ons liefhet, laat Hy ons nooit in die steek nie, al doen baie van ons beste vriende dit. Omdat God ons liefhet, ondersteun Hy ons wanneer ons 'n punt van wanhoop bereik. Dit is in sulke oomblikke dat ons werklik kan glo dat God ons liefhet. Ek en jy, is die grootste van alle geskenke, ons is God se volmaakte liefde. Hy is die Bron van ware vreugde, ons kan nie sonder Hom wees nie!

 

Iemand het gesê God se vreugde is vir altyd. Wanneer 'n mens lag, is dit asof ons in ons binneste begin draf; dis asof ons God dan begin raaksien in die helder kleure van blomme; ons kan Hom hoor in die vrolike lag van ‘n kind; sy stem hoor in die geluid van water oor rivierklippe. Dan kom daar ‘n borrelende blydskap uit ons diepste wese, ‘n blydskap wat onafhanklik is van ons omstandighede, sodat ons nie anders kan as om saam met die psalmdigter vir God ‘n loflied te sing nie: “Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig. U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit U hand kom net wat mooi is” (Ps. 16:9, 11).

 

Miskien moet ons ’n paar van die woorde uitknip en orals om ons opplak sodat vreugde deel van ons lewe kan word. Blymoedige mense wandel in die lig van ons genadige God. Om te lag gee immers smaak aan die lewe – soos sout oor 'n hoendereier. Die rede waarom ons as Christene so vol vreugde kan wees, is omdat Christus gister gesterf het, vandag leef en môre weer kom. “Omdat God ons liefhet ...” se resultaat is vreugde in my en jou. En die vreugde in my en jou loop altyd oor na die ander rondom ons.

 

“Vreugde is die onweerlegbare bewys van die teenwoordigheid van God in ‘n mens se lewe” (Leon Bloy).

 

Gebed: Here, dankie dat ek die borrelende vreugde mag ervaar wat deel is van dié mense wat aan U behoort. Dankie vir so baie dinge wat my vreugde verskaf: die mense wat ek liefhet – kinders en kleinkinders, die natuur, mooi musiek, vriendskap en dankbaarheid – maar veral U, want sonder U kan daar nie regte vreugde wees nie. Help my om ander om my bly te maak soos wat U vir my doen. Amen.

コメント


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page