top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 6 September 2024

Koos Espach


Paulus in Rome (7)

 

Die geheim is uit

 

Hand. 28:28 – “Julle moet nou goed verstaan dat God se boodskap van redding na die heidennasies toe gestuur word. Hulle sal luister.” 

 

Sommige van die Jode wat na Paulus in Rome kom luister het, verlaat hom nou, en verbeur dalk ‘n laaste kans om vernuwe te word. Wat hierdie klompie Jode egter moet verstaan, is dat hulle ongehoorsaamheid aan God, let wel, nie aan Paulus nie, nie die voortgang van die evangelie aan bande lê nie. Inteendeel, God se boodskap van redding gaan aan mense wat daarna wil luister. Hierdie Jode in Rome hoor twee duisend jaar gelede dat God se reddingsplan vir alle mense bedoel is. God se verbondsvolk se ongeloof in Jesus Christus, bied dus hoop vir mense buite die grense van Israel. Almal, afgesien van volk of ras, word deel van God se volk. Ek en jy kan onself dus ook beskou as die nageslag van Abraham, Isak en Jakob. Ons is diep gewortel! Beslis nie op grond van ons bloedlyn nie, maar danksy God se genade.

 

Paulus laat die Jode nie sommer net gaan nie. Die geroepene van die Here staan hier onder ‘n heilige móét. Hulle móét luister na die waarheid! Hulle verlaat hom egter met die verdoemende woorde dat heidene, mense wie die Jode as honde beskou (Matt. 15:26), saam met hulle op dieselfde vlak aanvaar word. Nog erger, die heidene sal bo hulle tot saligheid verkies word, want die heidene is gewillig om te luister. Ondraaglike gedagte! Paulus sien hulle sy huis verlaat en weggaan in dié toestand. Hy alleen bly oor, met die soldaat wat hom bewaak, en die waarheid van Jesaja se profetiese woorde wat hom beklemmend laat: “Ek het die hele dag uitgereik na ‘n volk wat net hulle eie kop wil volg. Hulle volg hulle eie verkeerde koers. Hulle tart My sonder ophou uit” (Jes. 65:2-3 – Die Boodskap).

 

Die heidene sal luister (vgl. 26:18). Daarvan het God Paulus verseker. Sou dit egter die finale verwerping van Israel wees? Volgens Paulus se briewe lyk dit tog of daar by hulle ’n verandering van hart sal kom. Al is dit nie die hele volk wat dit sal ondervind nie: “Ons staan hier voor ‘n geheimenis, broers (en susters), en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie. Die verharding het oor ‘n deel van Israel gekom en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het; 26 en op hierdie manier sal die hele Israel gered word” (Rom. 11:25-26).

 

Soos ‘n kind wat ‘n geheim nie lank kan hou nie, maak Paulus hier bekend dat die evangelie nie net vir die Jode bedoel was nie, maar dat álle mense ook daaraan deel kan hê. God het oorspronklik dit só bedoel dat Israel hulle seëninge met nie-Israeliete sal deel toe Hy vir Abraham meegedeel het: “In jou sal al die volke van die aarde geseën wees” (Gen. 12:3b). Dit het ‘n werklikheid geword met die geboorte van Jesus Christus. So min as wat die Vader ooit Sy oog van Sy Seun sal aftrek en Hom sou kon prysgee aan wilde magte om Hom, so min sal die Vader ooit Sy oog aftrek van diegene wat in Sy Seun, Jesus Christus, is. Wie in hierdie vertroue op die Vader lewe, kan alleen maar elke dag van sy lewe met dankbaarheid begin en met dankbaarheid eindig.

 

Geen wonder ou Paulus kon hierdie geheim nie te lank vir homself hou nie – álle mense kan deel in God se mooi beloftes (Ef. 3:6). Omdat ek en jy vrye toegang tot die Bybel het, kén ons eintlik die “geheim” van God se genade wat vir alle mense beskikbaar is, maar anders as kinders wat nie ‘n geheim kan hou nie, hou ons dalk die geheim te lank vir onsself. Gelukkig het ons gelowiges ‘n “geheimverklapper” wat in ons leef – die Gees van God!

 

Kom ons vra die Gees om ons Leidsman en Gids te wees, sodat ander ook die pad na Christus toe sal vind, hulle wat nog nie die regte pad ken nie asook diegene wat die pad byster geraak het en telkens by die verkeerde adres uitkom. Ek en jy kan net ons harte oopmaak vir die influistering van die Gees, Hy sal ons help om God se geheim aan ander te gaan verklap – “En dit is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondeheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het” (Ef. 3:6). Die adres van die ewige lewe is by die Vaderhuis en die Weg daarheen (Joh. 14:6), is deur Jesus Christus, ons Here!

 

“Die Gees van Christus is ‘n Gees van getuienis en hoe nader ons aan Hom leef, hoe meer passievol word ons getuienis” (Henry Martyn).

 

Gebed: My Here en Saligmaker, besiel my deur U Gees sodat ek ‘n brandende getuie van U verlossing en liefde sal wees, praat deur my sodat mense die eggo’s van U stem hoor, daar waar U my geplaas het om te werk, te leef en te getuig. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page