top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 2 September 2024

Koos Espach


Paulus in Rome (3)

 

’n Kreet van ontrou teenoor Christus

 

Hand. 28:20 – “Dit is dan die rede waarom ek u laat roep het om u te ontmoet en met u te praat. Ek is in hierdie boeie ter wille van Hom vir wie Israel verwag.”

 

Omdat die vernaamste Jode van Rome nie geweet het hoe alles presies gebeur het nie en moontlik verbaas was dat ’n Jood hom teen die Jode op die keiser beroep het, het Paulus die leiers van die Jode na hom laat kom om met hulle te praat. Dit is veral oor Paulus se verkondiging dat Jesus die vervulling is van Israel se hoop op ’n Verlosser en hulle verwagting van hulle Messias, dat Paulus geboeid voor hulle staan, en nie sy bedoeling is om sy volk, die Jode by die keiser aan te kla nie. As lojale Jood moes hy Romeinse kettings dra.

 

Die eintlike rede vir die Jode se vyandskap en haat teen Paulus is juis die hoop van Israel wat hy met hulle deel. Maar dat Jesus die Vervuller is van Israel se hoop is juis hulle sterkste aanstoot teen Paulus se boodskap. Vir die fanatieke Jode is Jesus ’n eenvoudige wonderdoener wat nie in die paleis of uit die hoëpriesterlike geslag gebore is nie; dat die Seun van God mens geword het en uit die dood opgestaan het, was nie volgens hulle verwagting nie.

 

Vir Paulus was dit feitlik hartverskeurend dat ondanks ál Israel se Godgegewe voorregte, ál die Jode nie tot bekering en toewyding gekom het nie. 4 “Hulle is tog Israeliete; vir hulle het God as sy kinders aangeneem en in sy heerlikheid laat deel; met hulle het Hy die verbonde gesluit en aan hulle die wet van Moses gegee, asook die tempeldiens en die beloftes; 5 hulle stam van die aartsvaders af, en uit hulle is die Christus as mens gebore – Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig! Amen” (Rom. 9:4-5). Maar, ten spyte van alles wat hy van sy volksgenote verdra het, kon hy nie teen hulle draai nie en demonstreer hy ‘n besondere kwaliteit van liefde en omgee teenoor sy mense in sy vroeëre brief aan die gemeente in Rome.  

 

Vir Paulus is dit onbegryplik dat Israel nie hulle voorregte as vanselfsprekend kon aanvaar nie. Daarby wys hy hóé uiters bevoorreg hulle was, deur agt sigbare tekens van God se genade in sy brief te noem: hulle was God se kinders, God was onder hulle teenwoordig, hulle het die wet en die tempeldiens, die beloftes van die Ou Testament, hulle is afstammelinge van die aartsvaders, en die hoogtepunt – “uit hulle is die Christus as mens gebore.”

 

Hulle het álles ontvang, hulle moes net in God se genade intree en vanuit Sy genade leef! Dit is asof daar as’t ware ‘n kreet vanuit Paulus se hart opklink oor die ontrou van Israel, maar hy het ook besef dat hy nie die sondes van sy volk kan dra nie, geen mens kan as middelaar in die plek van ‘n ander staan nie. Dit sou totaal in stryd wees met wat hy verkondig en reeds geskryf het – Slegs Jesus Christus ons Here, kon die Middelaar wees!

 

Waar bring dit ons as gelowiges, ons wat deel is van die verlossing deur God se genade? Is daar ‘n droefheid en hartseer oor ons kerke wat so leegloop; ons land en dorpe wat vol kerktorings is, maar kerke wat Sondae feitlik leeg is; ons volksgenote wat afdwaal; losbandig lewe; gesinsverbrokkeling; wêreldse wysheid aanhang; mense wat God se gebod en God se verbond nie meer nodig ag nie?

 

Maar ... dit is die verstommende van die God wat ons aanbid, Hy verander mense se harte, nie deur geweld of om van ons te skei nie, Hy wil sy verhouding met ons vernuwe deur die oorredingskrag van Sy liefde. God is elke keer bereid, ten spyte van ons ontrou, om Sy verhouding met ons te hervat, en weer en weer, en nog ‘n keer! Daarom kan en moet ons uit dankbaarheid, soos absolute toegewyde Christene leef. Wanneer ons as Christen gelowiges al ons voorregte uit God se genadekas nie as vanselfsprekend aanvaar nie, maar toepas en ook aan ander vertel, sal hulle ook aangespoor word om hierdie wonderlike geleenthede aan te gryp.

 

Die wêreld het God se liefde só nodig. Alles val uitmekaar en ons sien nie eintlik die lig nie. As Christene moet ons genoeg van God se liefde in die wêreld saai. Ons moet ons koppe weer na Jesus draai. Hy is die volmaakte voorbeeld van hoe ’n mens liefde saai. Dis ’n gee liefde, ’n liefde wat niks terug verwag nie. Jesus het nie met die mens geredeneer en gevra wat is ons bereid om te gee as Hy vir ons aan die kruis sterf nie. Hy het nie gegee om iets te ontvang nie, maar net onbaatsugtig Sy lewe, Sy alles gegee.

 

Paulus demonstreer ‘n besondere kwaliteit van liefde en omgee teenoor sy mense wat hom soveel slegte dinge aangedoen het. Sal ons dit ook kan doen? Dis wat die wêreld nodig het, die mense rondom ons nodig het, daar in ons huwelik, verhoudings, kollegas, vriende en kinders. Hulle smag na ons onbaatsugtige liefde. Ja, dis erg moeilik, maar kom ons probeer om ’n lewe te leef van gee, sonder om iets terug te verwag. Die wêreld, mý en jóú wêreld, sal ánders lyk.

 

“Die bewys dat ons God liefhet, is nie hoeveel mense ons na Hom gelei het, of hoeveel ons vir Hom gewerk het, of hoe pragtig ons Sy lof besing het nie, maar doodeenvoudig hoeveel ons ons naaste gedien het”

(Gayle Roper).

 

Gebed: Dankie Vader, vir U onbaatsugtige liefde. Dankie dat ek aan die ontvangkant daarvan is. Help my nou om ook daarvan uit te leef aan die geliefdes rondom my. Amen.

Yorumlar


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page