top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 30 Augustus 2024

Koos Espach


Paulus in Rome (2)

 

Christenskap kos opoffering

 

Hand. 28:17-19 – “Drie dae later het hy die Joodse leiers na hom toe uitgenooi. Toe hulle bymekaargekom het, het hy vir hulle gesê: ‘Broers, ek het niks teen ons volk of teen die gebruike van ons voorvaders gedoen nie, en tog is ek in Jerusalem gevange geneem en aan die Romeine uitgelewer. 18 Hulle het my verhoor en wou my loslaat omdat daar geen rede was om my ter dood te veroordeel nie. 19 Maar omdat die Jode daarteen beswaar gemaak het, is ek gedwing om my op die keiser te beroep. Dit beteken egter nie dat ek ‘n aanklag teen my volk gaan inbring nie.”

 

Paulus is in Rome onder huisarres geplaas. Hierdie ‘ligte’ gevangeskap het dit vir hom moontlik gemaak om besoekers te ontvang. Omdat Paulus onder huisarres was, kon hy nie die sinagoge gaan besoek of die huisgemeentes in Rome nie (vgl. Rom. 16:5, 14). Maar hy is ‘n man met ‘n roeping. Die werk moet gedoen word, dit kan nie wag nie. Op die derde dag na sy aankoms in Rome, laat roep hy die leiers van die Joodse gemeenskap na sy huurhuis. Dat hulle wel gekom het was reeds ’n wonder van God.

 

Sy openingstoespraak begin met ’n verduideliking hoe dit gebeur het dat hy as Godvresende Jood nou in Rome is om sy saak voor die keiser te kom stel. Dit is vir hom belangrik om drie sake wat hom raak, aan hulle voor te lê: dat die aanklagte van die Jode teen hom vals is; dat die Romeinse regters hom onskuldig bevind het; en omdat die Jode téén sy vrylating was, het hy hom op die keiser beroep.

 

Paulus behoort aan die Christenfamilie maar ook nog aan sy volk. Hy spreek albei groepe aan as sy broers: in Hand. 15:36 sy Christenbroers, hier sy Joodse broers wat nie Christene is nie. Hy praat met die Jode van ‘ons volk’ en van ‘die gebruike van ons voorvaders’, juis om sy lojaliteit aan die leerstellings en tradisies van die Israeliete te beklemtoon. Daarom kon hy met reg ook sê dat hy geen aanklag teen sy volk het nie.

 

Paulus het sy volk steeds liefgehad, deels omdat hulle Gód se volk was, en daarom was dit vir hom nodig om as’t ware drie getuies in te roep om die waarheid van sy droefheid oor hulle te bevestig: Jesus Christus, die Heilige Gees en sy gewete: “In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg nie; en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is oor my broers, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees” (Rom. 9:1-3).

 

Wat méér merkwaardiger is van sy liefde vir sy volksgenote, is dat hy bereid was om “self vervloek te wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees.” Sjoe, woorde swaar van inhoud en betekenis! Trouens, dis juis húlle wat telkens sy werk in die wiele gery het en veroorsaak het dat hy baie ontberinge moes verduur (vgl. 2 Kor. 11:23-29). Dit is haas ondenkbaar, en tog het Paulus onder die leiding van die Heilige Gees dit geskryf en wat daar geskryf staan, is dus die waarheid!

 

Paulus se bereidheid om vir sy volksgenote alles op te offer, klink totaal onbegryplik en onlogies. Maar sedert Golgota, geld daar nou ‘n ander logika in die wêreld – die logika van God se liefde. Paulus se bekommernis oor mense se geloofsekerheid bestaan vandag steeds. Om toegewy te wees aan Jesus Christus is duur – dit beteken dalk om pyn, skande, vervolging en vals beskuldigings deur die wrede wêreld, te beleef. Dit beteken dat my en jou lewenswandel omvergewerp word, ons Christenskap kan selfs ons sosiale lewe uitmekaarskeur.

 

Die Christus wat ons volg, word verwerp, gehaat deur die wêreld wat in konflik is met die verkondiging van die ware evangelie. Om vervolg te word vir regverdigheid, is om vervolg te word vir Christus! Gelowiges met hul getuienisse word verag want hulle het die groot leuen oor ongelowigheid ontbloot. Wanneer ongelowiges die lig gewys word, verkies hulle eerder die donkerte. Hulle is so diep ingedompel in hul verkeerde dade dat hulle nie daar gesteur wil word nie. Om Christen te wees vra opoffering!

 

Jesus Christus het die volle prys vir ons aan die kruis betaal, dan behoort ons seker só te leef dat God se liefde, en Paulus se logika, die deurslag in ons lewe te gee om te verander. “Kom ons wy ons aan Hom toe, kom ons streef daarna om ons aan die Here toe te wy. Die Here sal verskyn, so seker as die son opkom, Hy sal na ons toe kom soos stortreën, Hy sal ons verkwik soos lentereëns die grond verkwik” (Hos. 6:3). 

 

“Mense wat leef as mense van die lig, weet dat hulle net hulle hande in die donker kan uitsteek na die enigste ware Bron van die lig” (Eberhardt Arnoldt). 

 

Gebed: Ewige God, as dit moeilik is om met woorde of gedrag vir U te getuig, help my om sonder skroom te sê of te wys aan Wie ek behoort. Amen.

Comentarios


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page